Ramptoestand oor kragkrisis vandag teruggetrek

Die Grootvlei-kragstasie (Foto: GUILLEM SARTORIO / AFP)

In ’n regskrywe aan die vakbond Solidariteit het ’n staatsprokureur van die Suid-Afrikaanse regering aangedui dat die ramptoestand oor die huidige kragkrisis Woensdag teruggetrek gaan word.

In dié brief word Solidariteit ook versoek om sy hooggeregshofaansoek om die verklaring van die ramptoestand tersyde te laat stel, terug te trek.

“Hierdie skrywe is die regstreekse gevolg van Solidariteit se volgehoue druk en dit is duidelik dat die regering geen kans op sukses in die hof gestaan het nie,” het Connie Mulder, navorsingshoof by Solidariteit, gesê.

Maroela Media het vroeër berig dat pres. Cyril Ramaphosa op 10 Februarie vanjaar ’n nasionale ramptoestand oor die kragkrisis afgekondig het, ondanks die herhaaldelike versekering van onder meer die departement van openbare ondernemings, Eskom en die nasionale rampbestuursentrum dat voldoende wetgewing bestaan om die kragkrisis hok te slaan.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê die regering se ommeswaai bewys opnuut dat druk van die burgerlike samelewing werk en meermale ingespan moet word.

“Hierdie oorwinning het nie net die sinnelose ramptoestand ongeldig verklaar nie, maar ook gekeer dat ons in ’n rampdemokrasie ontaard.”

(Argieffoto: Christel Cornelissen / Maroela Media)

Mulder sê al die instrumente wat nodig is om die kragkrisis op te los is al jare lank in die regering se hande. “Hul onbevoegdheid of onbereidwilligheid om dit te gebruik is die groter ramp. ’n Slegte vakman met ’n groter hamer gaan nie tot beter bouwerk lei nie.”

Mulder sê die jongste verwikkelinge bevestig weereens dat die Suid-Afrikaanse regering nie krisisse alleen kan oplos nie, maar dat die oplossing eerder in die afwenteling van magte lê.

“Die energie-oplossing lê in grootskaalse kleinskaalopwekking. Dit lê op miljoene dakke eerder as in die gange van die Uniegebou. Solidariteit doen weereens ’n beroep op die regering om asseblief tog uit die pad te tree sodat die private sektor en gemeenskapsektor die kragkrisis kan oplos.”

Hermann sê voorts ’n ramptoestand is “’n absolute uitsondering omdat dit soveel magte aan die regering gee en in praktyk die normale demokrasie ophef”.

“Die ramptoestand was sinneloos. Daar is voldoende wetgewing om die kragkrisis op te los. Die probleem is die wil en vermoë van die regering.

“As ons hierdie ramptoestand sou los, kon Suid-Afrika in ’n rampdemokrasie verval waar die regering rampe verklaar oor hul eie nutteloosheid en dan nog meer magte kry.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Staal ·

Uiteindelik iets wat sin maak in ‘n wêreld wat alhoe meer sinneloos raak.

domheks ·

Dankie Solidariteit!!! Ek betaal my ledegeld met ‘n GLIMLAG!

Amelia ·

wou ramptoestand he wil eskom finansies nie gereedld bekend maak nie mnr de ruyter moes pos dadelik verlaat oor hy gepraat het van die kurupsie minister van elektrieseteit se geen korupsie by eskom nie Wat is werklik aan die gang hoeveel geld en bates gaan nog voete kry is dit hoekom daar ramptoestand was en finansies nie bekend gemaak mes word nie minister lieg oor geen probleme dink daar raak baie meer bates ens weg by eskom as wat enige een besef en dit is wat nie moet bekend word nie dink mnr de ruyter ook nie eers van alles geweet nie

Herman L ·

As dit nie vir Solidariteit en Afriforum was nie, sou ons met ‘n veel groter gemors gesit het! Julle is tops!

Shakespeare ·

Dit is n rariteit dat die korrupte ANC teen hulle eie skelm modus operandi iets terugtrek. Dit gaan in die hele Suid Afrika sneeu.

Vonny ·

Wat sou ons land doen sonder Solidariteit en
Afriforum?!!
Ons waardeur julle!!!!

Mariana ·

Dankie Solidariteit dat julle die regering se sinnelose besluit omgekeer het.

Martin ·

Die huidige regering aan bewind in SA kan nie ‘n ramptoestand aankondig nie omdat hulle self die ramptoestand is.

Theunis ·

Die enigste lig tans is ‘n trein in ‘n tonnel , oppad om ons toekoms te verpletter en nog steeds speel die regering politiese speletjies.

efjy ·

Wat word nou van die tydelike minister wat aangestel is. Hy is in elk geval onbevoeg as al die beriggewing oor hom waar is. Sy huidige aansprake het nog in die hek geduik en dit blyk dat fase 7 op pad is. Wat gaan hy daaromtrent doen,

Meinung ·

Dankie weereens vir júlle kundigheid, Solidariteit. Die stomme ANC-regeerders sukkel en strompel van een ramp na die volgende.

Schalk ·

Die tenders is klaar uitgedeel en geteken. Spaarvarkies word weer gevul uit staatskoffers

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.