Ramptoestand vir KZN-oorstromings verleng

Oorstromings in die Durban-gebied het meer as 400 lewens geëis en groot skade aan infrastruktuur aangerig. (Foto: Rajesh Jantilal/AFP)

Die nasionale ramptoestand wat in April aangekondig is om die humanitêre en ekonomiese krisis aan te pak wat deur die oorstromings in KwaZulu-Natal veroorsaak is, is vir nog ʼn maand verleng.

Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, het Maandag aangekondig dat die ramptoestand ingevolge die Wet op Rampbestuur tot 18 Augustus verleng is.

Die verlenging is reeds in die Staatskoerant vervat.

Volgens Zuma se departement maak die jongste verlenging voorsiening vir staatsinstellings om voort te gaan met die bestaande maatreëls om die uitwerking van die oorstromings op gemeenskappe en infrastruktuur te versag.

“Die regering werk saam met verskeie maatskaplike vennote om gemeenskappe se situasie van ʼn humanitêre nood na een van stabiliteit en herstel te verander,” lui ʼn verklaring deur die departement.

Pres. Cyril Ramaphosa het destyds gesê die gevolge van die ramp is nie net tot die provinsie van KwaZulu-Natal beperk nie, daarom is die verklaring van ʼn nasionale ramptoestand nodig.

Honderde mense het vroeër vanjaar hul lewe verloor toe oorstromings in KwaZulu-Natal grootskaalse verwoesting gesaai het.

Meer as 27 000 huise is deur die oorstromings geraak en sowat 8 500 hiervan is heeltemal vernietig. Duisende mense is gevolglik dakloos gelaat en maak steeds staat op die provinsiale regering om in hul basiese behoeftes te voorsien.

Talle paaie is ook in die proses vernietig, maar word stuk-stuk deur die plaaslike regering herbou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Chillipit ·

Ons land se nuwe gunsteling woord… RAMPSTOESTAND… meer soos kom-ons-kyk-wat-ons-kan-pocket-toestand…

domheks ·

En presies WAT het die kaders gedoen om verligting te bring???

Anel ·

Dit het net in Natal oorstroom. Hiekom moet ‘n nasionale ramptoestand nou weer afgekondig word? Om wat te bereik? Omdat Afriforum gedreig het met regsstappe as ‘n nasionale ramptoestand tov die krag afgekondig word? Nou probeer hy ‘n ompad kry en nou die oorstromings voor gooi? Hoe dom dink hulle is ons? Wat het hulle die afgelope 3 maande gedoen om die nood van die mense te verlig? Niks! Stig een ondersoekspan na die ander, wat betaal moet word, maar nog geen bewys gelewer het van wat hulle gedoen het nie. En ek dink daar is ook baie wat net sit en wag dat daar iets vir hulle gedoenMOET word. Die regering skul hulle mos! Maar ek weet iok van baie gemeenskappe wat self dinge doen. Beurtkrag gaan nou seker hier ook die skuld kry. Kan iemand nie help dat ons van die onbevoegde spul ontslae kan raak nie?

Janee ·

Lagwekkend!!! Kyk hoe het Japan gelyk binne n jaar na hul “ramptoestand”!!

Kokerboom ·

“Verlenging van ramptoestande ea” is ‘n passie by mev D-Zuma maar WERK…Aikona!

Mallie ·

Dis tyd dat ons begin op staan. Die dat die regering oor ons loop moet nou einde kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.