Rand nou sterkste in twee jaar

geld ekonomie suid-afrika

Argieffoto

Die rand het Woensdag vir die eerste keer sedert Mei 2015 teen onder R12 teenoor die dollar verhandel.

Dawie Roodt, hoofekonoom by die Efficient Groep, sê dit is uitstaande nuus vir die land en hou verskeie voordele in. Die rand het laatoggend tot R11,95 verbeter. Roodt sê daar is drie hoofredes hiervoor.

“Beleggersvertoue teenoor Suid-Afrika het verbeter sedert daar stappe teen staatskaping aangekondig is. Die aanwys van ʼn nuwe uitvoerende raad vir Eskom het ook hiertoe bygedra,” sê hy.

Nog ʼn rede wat Roodt uitwys is dat die rand die afgelope jaar baie swak was en van daardie basis herstel. Hy sê beleggers is duidelik ingenome met die rigting wat die regering nou inslaan om wanbesteding hok te slaan.

“Daar is duidelik ʼn beweging weg van staatskaping en korrupsie. Dit gee beleggers die nodige vertroue om weer in Suid-Afrika te belê,” sê hy.

Die rand tel onder die toppresterende ontluikende markte se geldeenhede op Bloomberg se valuta-waglys.

Roodt sê die ander rede is dat die Reserwebank nie rentekoerse verlaag het nie. Dit, sê hy, lok beleggers omdat Suid-Afrika tans ʼn beter rentekoers-opbrengs oplewer as ekonomieë soos die van die G7-lande, wat die Brittanje, Japan, die VSA en Duitsland insluit.

Roodt sê Suid-Afrika is ʼn netto invoerder van buitelandse produkte. Hy sê die sterker rand sal verbruikers bevoordeel deurdat brandstofpryse byvoorbeeld verder kan daal.  Nog ʼn voordeel volgens Roodt sal goedkoper ingevoerde produkte wees. Hy sê veral elektroniese produkte kan hierby baatvind.

Volgens Roodt is daar ook goeie nuus vir die regering. “Op die kapitaalmark sal rentekoerse op staatseffekte daal weens die sterker rand. Dit sal die negatiewe effek van die afgraderings neutraliseer. Dus sal die staat se rentekoers-rekening daal en dit kan tot groter besparing lei wat besteding ʼn hupstoot kan gee,” sê hy.

Volgens ekonome is die rand ook ondersteun deur die stabiele verbruikersinflasie-gegewens. VPI was in Desember 4,7% teenoor die 4,6% in November. Dit is binne die Reserwebank se inflasieteiken van 3 tot 6%.

Roodt sê die Rand is tans in ʼn veel beter posisie as 12 maande gelede. Hy voorspel dat die geldeenheid verder kan verstewig soos die nuwe ANC-administrasie ʼn houvas op sake kry.

Valuta-handelaars sê daar is sterk vraag na die rand. Dit is veral vanaf buitelandse banke en maatskappye, het een valuta-handelaar opgemerk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Drikus Kotze ·

Na my mening manupileer die regerende party die land se ekonomie en hele toestand sodat hulle tydens ‘n opvolgende 5 jaar verkiesing, regstellings kan maak en sodoende kiesers kan lok en behou.

Piet Pompies ·

Verlede week is daar gedurende ‘n byeenkoms waar SA se ekonomie ter sprake gekom het, genoem dat daar sederd November 2017 ‘n opwaardse styging in groei is. Dit is opsigself goeie nuus vir SA en die verbruikers. Sit jou skouer aan die wiel en lewer jou bydrae.

jaco ·

daars vinnig klippe gegooi toe president trump lelike goed van afrikalande gesê het. oor die ryk wit lande van die noordelike halfrond se manipulasie van arm en in baie gevalle nie-wit lande se geldeenhede en ekonomieë word egter niks gesê nie. Eks van mening dat dit ook rassisme is.
Wie gee hierdie wit lande en wit-beheerde orgnisasies soos die IMF, moodeys en standard en poor die “reg” om geldeenhede te manipuleer, lande af te gradeer ens ens? dink die wit mense wat by hierdie aksies betrokke is ooit daaraan dat hulle ekonomiese “strafmaatreëls” teen derde wereldlande se regerings, daardie lande se gewone mense die seerste maak?
Nie een van ons hou van Zuma se nonsens nie, maar ek dink ons moet stilbly voor ons “juig” elke keer as daar n afgradering of iets anders negatiefs is. Met dieselfde monde waarmee ons so juig, kla ons ook oor duur petrol, duur lewenskoste ens ens.

Lolla ·

Onthou asb ook net om vir hierdie sogenaamde investors te waarsku oor volke haat en rasisme wat lellik broei! Snaaks dat investors se geld nie te wit vir hierdie regering is nie ne?!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.