Rand Water hof toe gesleep

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

AfriForum voer aan Rand Water skend die gemeenskappe van Emfuleni (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark en Vereeniging) se basiese reg op toegang tot water.

Die burgerregteorganisasie het Donderdag hofstukke teen die waterverskaffer ingedien in ’n poging om hom te dwing om voldoende watertoevoer na gemeenskappe in Emfuleni te herstel.

Inwoners van Emfuleni ervaar glo sedert Februarie ernstige waterprobleme nadat Rand Water ’n verlaging in die waterdruk ingestel het as ’n kredietbeheermaatreël. Dit is gedoen omdat die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit nie vir water betaal het nie.

Die munisipaliteit het na bewering al telkemale betalingsooreenkomste met Rand Water verontagsaam en skuld die waterverskaffer reeds meer as R1 miljard.

Die munisipaliteit het egter luidens berigte sy rekening teen einde Maart betaal, maar Rand Water het nog nie die waterdruk herstel nie.

AfriForum sê sommige gebiede in Vanderbijlpark het intussen geen water nie en die gemeenskap is afhanklik van watertenks waarmee water aangery word. Dít terwyl huishoudings sukkel om basiese huishoudelike take te verrig weens die tekort aan water.

Die verlaagde waterdruk het boonop ook ’n impak op plaaslike ondernemings in Vanderbijlpark.

Stephanus Blignault, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Wes-Rand, sê die burgerregteorganisasie het besluit om in te gryp en vra in sy hofstukke dat Rand Water gedwing word om onmiddellik watertoevoer na Emfuleni te herstel.

Die organisasie vra ook dat Rand Water verhoed word om in die toekoms waterdruk te verlaag as kredietbeheermaatreël.

“Dit is belangrik dat ons die gemeenskap ondersteun totdat die waterdruk herstel word. Die gemeenskap het genoeg gehad van wanbestuur tot op die punt waar hulle hul reg op basiese dienslewering ontneem word,” sê Blignault.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Aikie ·

Dit is eintlik nogal ‘n redelike tameletjie, net soos die agterstallige bedrae by Eskom sleep die selfde probleem Randwater ook die afgrond in en die verantwoordelikes kom weg met moord.
Regoor Suid Afrika trek onbeholpe munisipaliteite die staats entiteite dood met wanbetalings.
Dít is waar die ANC nou al lankal moes ingryp, want van hulle grootste stemmers blokke woon in die area en stemtyd gaan die lot skeef kyk vir hulle party.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.