Rand Water se kragprobleme pootjie Tshwane

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Christel Cornelissen/Maroela Media)

Die krane in dele van Tshwane, veral aan die ooste van Pretoria, het al dae gelede opgedroog nadat daar kragprobleme by Rand Water opgeduik het. Byna ʼn week later sit duisende inwoners van die hoofstad steeds sonder ʼn druppel water.

Lindela Mashigo, woordvoerder van die Tshwane-metro, sê teen Dinsdagmiddag was daar ʼn geleidelike herstel in reservoirvlakke wat beteken het dat sommige dele van die stad weer water het.

Beurtkrag kniehalter egter nou die herstel in watervlakke in dele van Garsfontein, Elarduspark, Moreletapark, Wingate en Rietvalleirand.

Daryl Johnston, ʼn raadslid, sê daar is eindelik kwytskelding van beurtkrag vir vanmiddag en vanaand gekry om te verseker dat water sonder onderbreking na die Garsfontein-reservoir gepomp word.

Dié reservoir is tans 40% vol, maar dien as die houer-reservoir vir die ooste van die stad en verskaf weer water aan ander reservoirs. Die reservoirvlakke het Maandag weer té vinnig gedaal en dit het die metro gedwing om op te hou om water na ander reservoirs te pomp.

Gevolglik staan die Elarduspark-reservoir, wat dele van Moreletapark, Wingate en Elarduspark bedien, tans op 2%. Dié inwoners is onder diegene wat steeds geen water het nie.

Dele van Eersterust en Mamelodi het ook nog nie water nie. ʼn Span is reeds na die buurte gestuur om ondersoek in te stel na die oponthoud in waterverskaffing.

Rand Water se Mapleton-pompstasie het Vrydag ʼn kragonderbreking gehad wat ʼn reuse-uitwerking op die Vlakfontein-reservoir, wat water aan die Tshwane-metro lewer, gehad het.

Volgens Mashigo was vandalisme die oorsaak van die kragonderbreking. Die herstelwerk is gedoen, maar die proses om weer reservoirs te vul, neem tyd.

“Die herstel van watervlakke word belemmer deur sommige inwoners se hoë waterverbruik,” sê Mashigo.

“Ongelukkig het dit algemene praktyk geword dat wanneer daar vir ʼn paar dae lank nie water was nie, die verbruik skielik buitengewoon hoog is wanneer watertoevoer herstel word. Dit plaas egter verdere druk op die herstel in watervlakke.”

Die metro het ʼn beroep op inwoners gedoen wat wel water het om dit spaarsaam te gebruik om die reservoirs die geleentheid te gee om genoegsaam te herstel.

“Inwoners word aangeraai om nie water in baddens, emmers of enige ander houers te tap en te stoor wanneer die waterdruk herstel nie, aangesien dit die proses om watertoevoer na alle inwoners te herstel, erg belemmer.”

Só lyk Tshwane se reservoirvlakke.

Só lyk Tshwane se reservoirvlakke:

Mooikloof

Die Mooikloof-reservoir is tans leeg. Volgens die metro is dit ʼn hoogliggende reservoir wat beteken dit word laaste gevul. Dié reservoir verskaf water aan Mooikloof.

Grootfontein

Dié reservoir is ook hoog geleë en is 7% vol. Dit verskaf water aan Grootfontein, The Hills en omliggende gebiede.

Carina Street

Hierdie reservoir verskaf Waterkloofrif van water en staan tans op 26%.

Garsfontein

Die Garsfontein-reservoir is ʼn houer-reservoir vir die ooste van Pretoria en is tans 40% vol.

Parkmore HL

Dié reservoir verskaf water aan die hoogliggende dele van Menlyn, Garsfontein en dele van Newlands en die omliggende gebiede. Dit staan tans op 24%.

Elarduspark

Hierdie reservoir staan op 2%, aangesien daar nie verder water vanaf die Garsfontein-reservoir gepomp word nie. Dié reservoir verskaf water aan Moreletapark, Wingate en Elarduspark.

Waverley HL

Hierdie reservoir staan op 66% en verskaf water aan die hoogliggende dele van Waverley.

Waverley LL

Dié reservoir is 99% vol en verskaf water aan die laagliggende dele van Waverley.

Villieria

Die Villieria-reservoir verskaf water aan die hele Villieria en staan tans op 63%.

Eersterust

Hierdie reservoir staan op 1,81%.

Mamelodi R1 & R3

Dié reservoir is heeltemal leeg.

Monument-toring

Die toring is tans heeltemal leeg.

Constantia Park

Die Constantia Park-reservoir is byna 6% vol.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Pieter ·

Hierdie is ‘n baie goeie artiekel geskryf deur Maroela Media. Dankie vir die navorsing en info.

Frank ·

EEN dag se kragprobleme en daars vir 5dae met AL die reservoirs probleme??? Jammer, maak nie sin nie.

Susan ·

Instede is ons beurtkrag VERLENG van 2 ure na 4 ure!!!

“Daryl Johnston, ʼn raadslid, sê daar is eindelik kwytskelding van beurtkrag vir vanmiddag en vanaand gekry om te verseker dat water sonder onderbreking na die Garsfontein-reservoir gepomp word.”

Papsak ·

Niks maak sin nie regtig want het jy krag is water af het jy water is krag af hoe werk hulle dit nou

Susanna ·

ANC wil Pretoria inwoners opstook deur alle dienste te staak sodat Celliers Brink uitgestem word as regerende raadslid

Susanna ·

Sny ministers se water af! Eenvoudige oplossing. Hoe kom moet belasting betalers sonder water en krag klaarkom terwyl ministers buitengewone hoë salarisse verdien sonder om ‘n diens te lewer

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.