Rand Water-staking dreig steeds

Argieffoto

Argieffoto

Die munisipale vakbond Samwu het Vrydag gesê hy gaan sy lede raadpleeg oor ʼn nuwe loonaanbod wat Rand Water gemaak het om ʼn dreigende staking by die reuse-watervoorsiener te verhoed.

Chumani Gqeke, Samwu-vakbondverteenwoordiger, wou egter nie enige besonderhede bekend maak oor die aanbod wat Donderdag tydens samesprekings gemaak is nie.

“Ons het met die werkgewer vergader en hulle het hul loonaanbod hersien. Ek is ongelukkig nie in ʼn posisie om inligting oor die aanbod bekend te maak nie,” het Gqeke gesê. “Dit is nou in die hande van ons lede by Rand Water om aan te dui of hulle die aanbod gaan aanvaar of nie. Ons sal inligting oor die aanbod bekend maak sodra die nodige stappe afgehandel is.”

Die vergadering het gevolg nadat Rand Water Donderdag onsuksesvol was om ʼn interdik in die arbeidshof in Johannesburg te bekom om die staking te verhoed.

“Die regter het die partye opdrag gegee om terug te keer na die onderhandelingstafel en te werk aan ʼn ooreenkoms,” het Gqeke gesê.

Die vakbond eis ʼn verhoging van 10% vir die laagsbetaalde werkers, 9% vir middel-inkomste werkers en 8% vir toesighouers. Die vakbond eis ook ʼn 12% aansporingsbonus en R2 150 algemene behuisingstoelae vir almal.

Rand Water het reeds sy aanvanklike aanbod van 6% verhoog na 7%. Dié aanbod is deur Samwu verwerp.

Die staking, wat veronderstel was om Donderdag te begin, sal moontlik watertoevoer in Gauteng en sommige dele van Mpumalanga raak. Rand Water het vroeër aangedui dat gebeurlikheidsplanne beraam is om seker te maak dat die krane nie droogloop nie.

Justice Mohale, woordvoerder van Rand Water, kon nie vir kommentaar bereik word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hein ·

Die voor ’94 plakkate het gese : Eie woonbuurte, eie skole. Dit lyk dit het nou geindig as Eie krag, eie water.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.