Rand Water waarsku Pretoria-inwoners oor waterprobleme

Argieffoto (Foto: Karolina Grabowska / Pixabay)

Die Pretoria-stadsraad het Saterdag ʼn dringende vergadering met Rand Water, Johannesburg en Ekurhuleni belê oor erge druk op die Rand Water-verskaffingstelsel wat “op die randjie van ineenstorting” is.

Themba Fosi, burgemeesterskomiteelid vir nutsdienste en streeksbedrywighede, sê Rand Water se algehele waterberging het tot minder as 30% gedaal. “Onmiddellike ingryping is nodig om die krisis te verlig.”

Rand Water het reeds sy Brakfontein- en Rooihuiskraal-verskaffingspunte gesluit met die moontlikheid dat dit groter dele van Pretoria kan raak.

“Die stadsraad het maatreëls ingestel om die situasie te takel. Ons sal onmiddellik die inlate sluit by Heights HL, Garsfontein en Kasia. Toegang tot Klapperkop word beperk. Hierdie maatreëls is noodsaaklik om aanvraag te beheer en ons waterhulpbronne te bewaar,” voeg Fosi by.

Hy sê geen woonbuurte in Pretoria word tans direk hierdeur geraak nie.

“Ons bly egter waaksaam en sal die situasie bly monitor om ʼn algehele ontwrigting in ons waterverskaffing te voorkom.”

Fosi sê wat die afgelope twee weke in Johannesburg gebeur het, is ʼn ernstige kommer vir Pretoria. “Dit is duidelik dat die Rand Water-stelsels onder erge druk is. Die feit dat hulle sukkel om watertoevoer in Johannesburg te herstel, dui daarop dat die hele waterstelsel onder druk is.”

Die stad doen ʼn beroep op alle inwoners om water spaarsamig te verbruik.

“Ons stel waterbeperkings reg oor die stad in en maan inwoners om slegs noodsaaklike water te verbruik. Dit sluit in om nie tuine nat te lei nie, om nie swembaddens op te vul nie en om nie lank te stort nie. Ons doen ook ʼn beroep op inwoners om aktief deel te neem aan waterbesparingspogings sodat ons ʼn volskaalse waterkrisis kan voorkom.”

Lindela Mashigo, woordvoerder van die stadsraad, het verdere waterbesparingswenke gedeel:

  • Moenie motors met ʼn tuinslang was nie
  • Moenie opritte of plaveisel skoon spuit met ʼn tuinslang nie
  • Spoel toilette slegs indien nodig
  • Sluit die kraan wanneer jy tandeborsel
  • Verminder daaglikse verbruik so ver as moontlik

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

J. J. ·

Waarom waarsku hulle, wat doen hulle om die situasie te verbeter? Wil hulle eers kyk wie hulle kan blameer, en beskuldig vir hulle swak bestuur en skelmstreke?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.