Randfontein-moorde: Vier bly eers agter tralies

Vriende en familie van die slagoffers wys hul ondersteuning buite die hof. Foto: Phillip Bruwer

Vriende en familie van die slagoffers wys hul ondersteuning buite die hof. Foto: Phillip Bruwer

Die vier mans wat verdink word van die grumoord op vier mense, onder wie die negejarige Kayla Meyer, op ʼn kleinhoewe naby Randfontein aan die Wes-Rand, het Donderdag in die plaaslike landdroshof verskyn.

Familie en vriende van die slagoffers en verdagtes het hofsaal B volgepak met die verwagting dat die vier, Joshua Mavaso, Mqolisi Gododwana, Ndoda Baliki en Siphe ­Mataka, sou aansoek doen om borgtog nadat hulle einde Julie vanjaar in hegtenis geneem is.

Die saak moes Donderdag noodgedwonge tot 24 Oktober uitgestel word, omdat die regshulpraad glo afsonderlike regshulp vir die verkeerde verdagte gereël het. Die verdagtes sal dus nog minstens drie weke agter tralies moet bly voordat hul borgtogaansoek kan begin.

Hulle staan tereg op aanklagte van moord op Monty McCormack (73), sy seun, Kenny McCormack (42), Kenny se vriendin, Marietjie Meyer (46) en Meyer se dogter, Kayla. Hul liggame is op 10 Maart vanjaar op die kleinhoewe in die Rodora-omgewing aangetref. Hulle is vermoedelik die dag tevore vermoor.

Die verdagtes het op 1 Augustus vir die eerste keer in die hof verskyn en die saak is uitgestel sodat hulle kon aansoek doen om regshulp. Daarna is verrigtinge verskeie kere uitgestel weens ʼn botsing van belange tussen twee van die verdagtes, wat afsonderlike regshulpprokureurs nodig het.

Ondersteuners het wit T-hemde met die slagoffers se foto's op gedra. Foto: Phillip Bruwer

Ondersteuners het wit T-hemde met die slagoffers se foto’s op gedra. Foto: Phillip Bruwer

Maroela Media het vroeër berig ʼn familievriend het op 10 Maart die polisie ontbied nadat hy gaan ondersoek instel het omdat hy niks van sy vriende gehoor het nie. Die vriend het glo op Monty se bebloede liggaam afgekom in ʼn tydelike huis waar sy seun, Marietjie en Kayla gebly het, terwyl hulle ʼn houthuis op die kleinhoewe laat bou het. Monty het glo uit Brittanje by sy seun kom kuier.

Monty is vermoedelik met ʼn stomp voorwerp doodgeslaan. Marietjie se liggaam is in die houthuis, wat in aanbou was, gevind. Sy is na bewering ook met ʼn stomp voorwerp doodgeslaan. Kayla se liggaam is in ʼn stoorkamer langs die tydelike woonplek gevind. Sy het nie ooglopende beserings gehad nie en het moontlik versmoor. Kennith se liggaam is die volgende dag ʼn paar meter van die houthuis opgespoor.

Die verdagtes is almal glo stukwerkers wat Kenny gehuur het om vir hom te werk.

Lees alle vorige berigte oor die Randfontein-moorde op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Donovan ·

Aitsa kom ons kap die hand af wat ons voer… Mense ons samelewing gaan agter uit, dit is TYD dat die regering wakker word, as dit so aan gaan, gaan hulle nie meer tax payers oor he om hulle salarisse te betaal nie…

Sarel Strydom ·

Vertragingstaktiek. hulle weet presies hoe om die regstelsel te manupileer.

Irene ·

Aansoek doen vir regshulp hoe verstaan mens dit hulle het gemoor die vuilgoeen dan aansoek doen vir bortog nee wat lyk my mense kan net moor gee vir hulle werk dan moor hulle ons kan net huil

Aloma ·

Berig lui: “Vier bly eers agter tralies” maggies ek sal so dink, borgtog moet nie eens ‘n opsie wees vir hierdie gruwel moorde in SA nie.

cynthia ·

Kenny was my vriend. Nie hy of sy pa, of sy verloofde en haar kind het verdien om so wreed vermoor te word nie. Hulle moet glad nie in aanmerking kom vir bail nie

Van ·

Wanneer gaan genoeg, genoeg wees? Borgtog vir moord verdagtes – absoluut , dis mos wet en wanorde in die land!

Althea ·

Marietjie was my biologiese ma…ek het haar nooit geken nie maar onlangs besluit om haar te soek. na jare se wroeg en wik en weeg… toe ek uiteindelik by die regte mense uitkom is dit die nuus wat volg. dan besef jy mens sal nie glo hoe wreed mense kan wees nie. tewyl hulle in die beskuldigde bank sit met aaklige “smirks” en nie n kommer in die wereld oor wat hulle gedoen het nie, sit ek (en soveel ander familie) met 1000 vrae wat danksy daardie diere nooit beantwoord sal word nie. nie eers lewenslange tronkstraf sal kan regverdig wat hulle gedoen het nie, lewe in die tronk is elkgeval so luuks dat hulle heel moontlik daar WIL wees. ek is geleer mens haat nie, maar hoe gun jy sonskyn oor sulke wrede hartelose aaklige mense. Asb staan saam en bid,hoop, en glo dat hulle nooit weer hulle pote buite die tronk sal sit nie.

Sanette ·

soos ek hierdie lees word ek sommer weer woedend en hartseer terselftetyd. Hoe bang moes daardie meisietjie gewees het toe sy gaan wegkruip het na dit wat met haar ma en die ander gebeur het. Engelkind, nou is jy waar niks en niemand jou kan seer maak nie. Al regstelsel wat deesdae effektief is is as die gemeenskap dinge in hul eie hande neem…ek hoop hulle sit vir die res van hul lewens.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.