Rasbeleid oor aanstelling van likwidateurs ongrondwetlik

court-hammer_thumbDie Wes-Kaapse hooggeregshof in Kaapstad het gister beslis dat die nuwe beleid rakende die aanstelling van voorlopige likwidateurs op ʼn kwotastelsel neerkom en dat dit gevolglik ongrondwetlik is.

Solidariteit het as applikant deelgeneem aan die Concerned Insolvency Practitioners Association (Cipa) se hofgeding teen die minister van justisie en konstitusionele ontwikkeling oor dié beleid.

Die staat het aangevoer dat die nuwe aanstellingsbeleid ten doel het om die verteenwoordiging van voorheen benadeelde persone in die beroep van likwidateurs te bevorder. Indien dit toegepas sou word, sou dit tot gevolg hê dat 40% van die aanstellings aan swart, bruin, Indiër- of Chinese vroue toegeken sou word; 30% aan swart, bruin, Indiër- en Chinese mans; 20% aan wit vroue en 10% aan wit mans.

Adv. Dirk Groenewald, hoof van Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke, sê die hofuitspraak bevestig dat die gebruik van rasgebaseerde kwotas nie ʼn wettige regstellende-aksiemaatstaf is nie. “Die uitspraak gee gehoor aan die Grondwet se bepalings oor gelykheid wat onder meer die gebruik van kwotas verbied. Die uitspraak bevestig verder dat die nuwe beleid werknemers van hul reg sou ontneem om voorlopige likwidateurs op grond van bevoegdheid, kennis en ervaring aan te stel aangesien ras die enigste beslissende faktor sou wees,” het Groenewald gesê.

Die uitspraak het sterk gesteun op die uitspraak van die konstitusionele hof in die Renate Barnard-saak wat bepaal het dat die gebruik van kwotas in die geval van alle vorme van regstellende aksie ongrondwetlik is.”

Gister se uitspraak bied opnuut regsgronde vir verskeie van Solidariteit se ander regstellendeaksiesake. Dit sluit ons saak teen die Suid-Afrikaanse Polisiediens oor sy nuwe rangstelsel in,” het Groenewald gesê. Dié saak hervat weer op 27 Januarie in die arbeidshof in Johannesburg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

madelein ·

Nou van wanneer af het Chinese nou so baie met ons land te doen

Asjas ·

Vandat die anc al ons mense se werk vir hulle gegee het sodat anc net nog ryker kan word. Sephaku …

Boertjie ·

Dit is om van slange te vang…as die ANC sy sin kry het ‘n uitlander van Sjina meer “reg” en kans om ‘n werk in SA te kry as ek, ‘n boorling van hierdie land, waarvoor my voorvaders hul lewens moes op-offer. Hulle sal nie rus tot hulle die wit mense van SA tot heel onder aan die voedsel ketting gedruk het nie, elkeen van ons. Mag die Solidariteit beweging van krag tot krag groei om die goeie stryd te veg!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.