‘Rasherrie’ by Roodepoort-laerskool

Roodepoort Primary School. Foto: Google/maps

Roodepoort Primary School. Foto: Google/maps

Die Gautengse departement van onderwys het die Johannesburgse hooggeregshof genader om ʼn interdik te bekom om ouers te verhoed om by Roodepoort Primary School te betoog, die skoolhoof en onderwysers te dreig of hulle toegang tot die skool te weier.

“Die interdik sal hulle verhoed om enige dade teen werknemers van die departement te pleeg wat gewelddadig en ontwrigtend van aard is,” het Phumla Sekhonyane, woordvoerder van die departement, Woensdag in ʼn verklaring gesê.

Die departement het verneem dat sommige ouers ongelukkig is oor die aanstelling van ʼn swart hoof by die skool en “verkies ʼn bruin skoolhoof en onderwysers”. Van die ouers het glo swart onderwysers geïntimideer en gesê “hul veiligheid by die skool kan nie verseker word nie”.

“Hulle het die afgelope drie maande by die skool te betoog en sommige onderwysers en die skoolhoof verhoed om die skoolperseel te betree, en gevolglik bedrywighede by die skool ontwrig,” het Sekhonyane gesê. “Die groep ouers het voorheen klagtes teen die hoof ingedien. Die bewerings is ondersoek en daar is bevind dat dit nie waar is nie.”

Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, het die ouers se optrede veroordeel. “Ons sal nie rassisme by enige van ons skole in Gauteng duld nie,” het Lesufi gesê. “Sulke optrede is onnodig en het ʼn negatiewe impak op leerlinge, aangesien hulle waardevolle tyd in die klaskamer verloor.”

Hy het gesê die departement sal voortgaan om die situasie by die skool dop te hou om seker te maak dat onderrig sonder enige ontwrigting voortgaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.