Die ANC noem dit dalk teikens, maar dit is duidelik dat die rasteikens wat ingevolge die nuwe Wet op Diensbillikheid voorgestel is, “gedwonge kwotas” is wat tot swaar strawwe kan lei vir maatskappye wat nie daaraan voldoen nie.
“Dit stel kwotas vir elke werkplek, elke ekonomiese sektor in elke provinsie en landwyd,” sê John Steenhuisen, DA-leier.
Maroela Media het vroeër berig ontledings van die voorgestelde teikens wys dat dit prakties beteken twee uit drie wit werkers in die boonste vier posvlakke gaan hul poste binne vyf jaar moet ontruim. Twee uit drie Indiërs gaan hul poste moet ontruim. Een uit vier bruin mense gaan hul poste moet ontruim.
En een uit vier swart mense kry dan bykomend toegang tot die arbeidsmark.
Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut, sê mense van die “verkeerde kleur” gaan hul poste moet ontruim om plek te maak vir mense van die “regte kleur” in al nege provinsies, oor 18 sektore en op die boonste vier van ses posvlakke.
Mense sal rondgeskuif moet word tot die rasprentjie “reg lyk”, waarsku hy.
Steenhuisen maan ook dat ondernemings wat nie aan die teikens voldoen nie, met tot 10% van hul jaarlikse omset beboet kan word. Hulle sal ook verbied word om sake met die regering te doen.
Kwotas gaan lei tot nóg werkloosheid
“Kinders wat tans studeer om opgeleide beroepslui te word, sal tot werkloosheid gedoem wees omdat hulle die ‘verkeerde’ velkleur het. Selfs meer van ons kinders sal emigreer en vaardighede sal landuit vlug,” sê Steenhuisen.
“Hoe lank voor ons weer die herinstelling van die potloodtoets sien om voldoening aan dié ANC-raswet te meet?”
Steenhuisen het by ʼn byeenkoms in Chatsworth in KwaZulu-Natal verwys na die verhaal van Ahmed Kathrada, wat byna 100 jaar gelede in Schweizer-Reneke in Noordwes gebore is, en later ʼn strydros teen apartheid geword het.
Kathrada het verbete geveg teen die sogenaamde “Indiese ghetto-wet”, wat beperkings probeer plaas het op waar Indiër-Suid-Afrikaners kon bly, sake doen en grond besit. Hy is later tronk toe gestuur vir sy veldtog van verset en is tydens die Rivonia-verhoor lewenslange tronkstraf opgelê. Kathrada was 18 jaar lank in aanhouding op Robbeneiland.
“Ek wonder wat oom Kathy sou sê van die ANC se nuwe raskwotawetgewing.”
Steenhuisen sê gemeenskappe met groot Indiër-bevolkings in Suid-Afrika gaan geteister word met “arbeidsinspekteurs” van die ANC. “En dit is nie net Chatsworth nie. Dit is nie net Indiër-Suid-Afrikaners nie.
“Die ANC stel wetgewing in wat ganse groepe Suid-Afrikaners verbied om in spesifieke gebiede of sektore te werk.
“Die raswet, in die jaar 2023, sê wesenlik dat mense met bepaalde velkleure nie in sekere gebiede hoort nie.
“Herinner dit ons nie aan die Wet op Groepsgebiede nie?”
Steenhuisen sê die ANC hoop om verskillende groepe Suid-Afrikaners teen mekaar op te steek sodat die party ná volgende jaar se verkiesing steeds aan mag kan vasklou.
“Ons kan nie toelaat dat dit slaag nie. Ons moet nou verenig soos nooit tevore nie.”
‘Onderwys, nie raskwotas’
Nuwe syfers wat vandeesweek bekend gemaak is, het gewys dat 81% van 10-jarige Suid-Afrikaners nie met begrip kan lees nie.
“Dit is hierdie skandelike onderwysstelsel wat ongelykheid dryf deur miljoene kinders uit arm agtergronde te verdoem tot ʼn lewe van armoede en ongelykheid.
“Die ANC sal dit nie erken nie omdat hulle verantwoordelik is vir dié misdaad teen ons kinders.
“Raskwotas kan nooit ongelykheid regstel nie omdat dit probeer om die simptoom eerder as die oorsaak te pak. Dit is hoekom die DA se oplossing op drie dinge gegrond is: onderwys, onderwys en nogmaals onderwys.”
Die DA is ook gereed om die wetgewing in die hof te betwis.
“Ek doen ʼn beroep op werkers om hulle te verset teen wetgewing wat hulle oordeel – nie op grond van hul karakter nie, maar die kleur van hul vel.”
Die DA. Wat was die vorige name en dryfvere van die party? En nou? Kan een party so omspring en steeds ‘n aanhang hê? Dis ‘n sonde.
Hartseer maar die wat daarby gaan baat sal nie teen dit stem nie.
Die meerderheid van die bevolking word bevoordeel. Slegte nuus vir die res.
Maar jy as wit is goed genoeg om te gee as daar gebedel word. Vlieg na waar die son nie skyn nie
Ons sal ons eie ding begin doen om ons kinders werk te gee! Dan kan ons eie mense by ons koop, sien waar land jul dan, wie wil elk geval met so n korrupte regering besigheid doen? Dan doen ons maar met mekaar besigheid! Wat wil jul doen?