Rasregulasies ‘strydig met skikking én Grondwet’

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. (Foto: verskaf)

Die regering se konsepregulasies oor sektorale numeriese rasteikens verontagsaam die skikking wat verlede jaar met Solidariteit bereik is, het die organisasie Dinsdag gesê.

In die kommentaar wat Solidariteit ingedien het, verduidelik hy ook waarom die regulasies volgens hom strydig is met internasionale reg oor diskriminasie in die werkplek.

Die tydperk om kommentaar te lewer oor die regulasies wat verband hou met die Wysigingswet op Gelyke Indiensneming, wat in Februarie in die Staatskoerant gepubliseer is, verstryk later vandeesweek.

Volgens Anton van der Bijl, adjunkbestuurshoof van Solidariteit, is die sektorale teikens eintlik blatante en rigiede kwotas wat in der waarheid deur Suid-Afrika se Grondwet verbied word.

“Die regulasies is voortydig gepubliseer aangesien die wysigingswet nog nie deur die president in werking gestel is nie. Die groter probleem lê egter by die inhoud van hierdie regulasies.

“Dit verontagsaam steeds die voorskrifte van tydelikheid van regstellendeaksie-maatreëls. Dan is die teikens ook nie genuanseerd nie en dit stel verpligte rasteikens in die vooruitsig,” sê Van der Bijl.

Maroela Media het vroeër berig dat Solidariteit ʼn “historiese skikking” met die regering aangegaan het wat bevestig dat die regering se rigiede toepassing van maatreëls vir regstellende aksie teen internasionale norme indruis. Dus moet ander faktore as ras voortaan oorweeg word in die toepassing van regstellingsmaatreëls.

Die skikking het onder toesig van die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) geskied en is in Oktober verlede jaar ook ʼn hofbevel gemaak.

Die belangrikste punte van buigsaamheid in die ooreenkoms tussen Solidariteit en die regering as uitkoms van die IAO-proses en die getekende skikking sluit onder meer in dat daar geen diensbeëindiging van enige aard weens rasprogramme mag wees nie; dat rasprogramme tydelik en spesifiek op regstelling gefokus moet wees; dat rasprogramme buigsaam moet wees; en dat ras slegs een van vele faktore is wat in ag geneem kan word met voorbereiding, inwerkingstelling en voldoening.

Daar mag ook geen absolute plafonne vir indiensneming of bevordering vir enige groep wees nie.

“Hierdie regulasies moet dus strook met hierdie skikking wat sê dat ras nie die enigste faktor is wat in ag geneem mag word wanneer werknemers aangestel of afgedank word nie.

“Dit is tans nie die geval nie en ons sien nie dat die regulasies die behoeftes van die bedryf óf ander sosio-ekonomiese faktore in ag neem nie. Dit is eerder rigiede voorskrifte waaraan ʼn werkgewer moet voldoen, anders is boetes of ʼn verbod om sake met die staat te doen sy voorland.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Dirk, jy baklei teen ‘n draak met baie koppe. Kap jy een af groei drie nuwes uit. Die draak het net een hart. Pluk dit uit.

Samuel ·

Hierdie Draak sal nie na witmense luister nie. Vergeet dit, Dirk.

Anel ·

Ek kan net nie verstaan hoe kan die regeting by PRIVAAT instansies inmeng nie? Wie dink hulle is hulle? Net soos vir PRIVAAT maatskappye voorskryf hoeveel hulle hulle werkers moet betaal! Ons belasting betaal hulle salarisse. Hulle moet maak soos wat die belastingbetalers sê en nie andersom nie.

Kokerboom ·

Dirk wanneer gaan jul besef dat reel, regulasies en wette is vir die veelkoppige draak(Republikein) van geen waarde of betekenis en GEEN “commitment” bestaan ooit!

Hendrik ·

Dis tyd dat ons die regering aanvat met hulle eie speletjie. Ons moet aandring op BBEEE in ALLE ondernemings. Dus die ondernemings wat net uit swart bestaan moet wit, indiër en kleurling werkers ook hê. As ons dit doen word die blanke werkloosheid vinnig opgelos. Hier is n voorbeeld. As ek by Pumulani tolhek kom, wil ek een wit, een kleurling, een indiër, een gestremde, 5 vroue en res mans sien wat as kassiere werk. Sanral doen mos besigheid met die staat, dus moet hulle voldoen aan BBEEE. Die wet gaan nie net oor minimum swart werkers nie. Dit skryf voor wat die verhouding moet wees tussen die getalle.

Lettie ·

Dr Hermann. Wat sou ons sonder u gedoen het? Die regering maak tans benoude spronge. Ons as Suid-Afrikane staan verbaas oor wat sommerso aanmekaar geflans word om daarvan ‘n SAfrikaanse wet te maak. Maar u hou kop. Ons sál ondersteuning bied. Sterkte vir die stryd wat u stry terwille van álle Suid-Afrikaners ongeag van kleur van ons velle.

domheks ·

Sa, vat hom Solidariteit! Julle het gelukkig skerp tande, byt die cANCer ! !

Althes ·

Sterkte Solidariteit. Ons staan agter julle. Ek stem met Hendrik saam. Dis tyd dat die getalle na die regering se kant uitgedeel word. Die staatsdiens is ñ sprekende voorbeeld van hoe hy homself vergryp en bykans net swart mense aanstel. Die ander rasse word teen gediskrimineer

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.