‘Rasse-aanval’: Man kry 22 jaar tronkstraf

Harry Kotze tydens ’n hofverskyning in 2017. Skermskoot: SAUK-video

ʼn Man (38) van Kathu in die Noord-Kaap is 22 jaar tronkstraf opgelê vir moord en poging tot moord nadat hy vier mans met sy bakkie gestamp het, waarna een aan sy beserings beswyk het.

Waarnemende landdros Vernon Smith het Harry Kotze op sy tuisdorp 20 jaar tronkstraf opgelê vir die moord op Elcardo Crew (20), sewe jaar vir poging tot moord op Eshric Molino (ook 20) en vir poging tot moord op Liam Cloete en Convin Jager vyf jaar elk.

Die landdros het gelas Kotze moet die drie vonnisse vir poging tot moord gelyktydig uitdien, wat neerkom op 22 jaar effektiewe tronkstraf.

In die hof is getuig Crew en die drie oorlewendes het op die aand van Vrydag 13 Oktober by ʼn huis verbygestap waar Kotze en sy vriende party gehou het, sê Phaladi Shuping, streekswoordvoerder van die direktoraat van openbare vervolging.

Die twee groepe het in ʼn woordewisseling betrokke geraak. “Kotze het die vier mans met sy bakkie agternagesit en hulle gestamp,” sê Shuping. Tydens sy verhoor het ʼn polisiebeampte getuig die motief vir die aanval was glo rasgedrewe.

“Crew is ernstig beseer en het met sy aankoms by die hospitaal gesterf. Molino se bekkenbeen is gebreek en Cloete en Jager is gering beseer.”

Kotze se verweer was niepatologiese onbevoegdheid omdat hy drank en dwelms gebruik het, maar die staatsadvokaat, Ndimphiwe Mxabo, het gevra die hof moet die beskuldigde se weergawe verwerp omdat hy die slagoffers geruime tyd gejaag het in ʼn gebied waar baie bome staan, sonder dat hy een getref het.

Die beskuldigde kon die bakkie in elke rigting stuur waarin die slagoffers gehardloop het.

“Die beskuldigde kon die bakkie in elke rigting stuur waarin die slagoffers gehardloop het,” het Mxabo gesê, “wat daarop dui dat hy by sy volle bewussyn was.”

Kotze moes bewus gewees het van sy misdadige optrede, het die staat aangevoer, want hy het ʼn hakie van een van die bakkie se kolligte verwyder en dit in sy huis weggesteek. Die ondersoekbeampte het daarop afgekom toe Kotze se huis deursoek is.

In sy slotbetoog het Mxabo aangevoer die beskuldige se voertuig is gebruik om die misdaad te pleeg, die beskuldigde het dit bestuur, hy was toerekeningsvatbaar en het beplan om sy bakkie as ʼn moordwapen te gebruik.

Mxabo het gevra die hof moet Kotze se getuienis en verweer van geheueverlies wat tot patologiese onbevoegdheid gelei het, verwerp aangesien hy bewus was van sy dade.

Smith was daarvan oortuig die staat het sy saak bo enige redelike twyfel bewys.

Abrie Botha, waarnemende direkteur van openbare vervolging in die Noord-Kaap, het die werk van die ondersoekbeampte, ao. Benjamin Fourie, en Mxabo geloof vir hul harde werk wat verseker het dat geregtigheid vir die slagoffer en oorlewendes geskied het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

35 Kommentare

D B ·

Onthou nie die saak nie, maar ek verstaan nie hoe jy 1 mens doodry en 3 ander raakry as hulle in verskillende rigtings in hardloop nie soos Mxabo beweer nie?

Anel ·

Die man het al agter hulle aangejaag en nie almal gelyk gestamp nie. Hy het met sy voertuig deur `n stuk veld agter hulle elkeen afsonderlik aangegaan.

D B ·

Daar word beweer die man het in ‘n bebosde gebied 1 mens doodgery en 3 raakgery wat in verskillende rigtings in beweeg het Fred. Ek bestuur al 28 jaar lank voertuie en daar’s nie ‘n manier wat ek dit sal kan doen nie. Ek bevraagteken die “feite” van die saak, ek regverdig niks nie.

DB soek verskonings ·

Jy nognooit springhase gejag nie? Dis baie maklik om 1 te dood en ander te beseer! As jy soos n dronk besetene agter mense aanjaag en aanhou jaag met die doel om seerof dood te maak, dan maak jy seker jy doen skade aan wie ookal in jou dronk vesier is…..

Abe ·

DB,
Die hof het bepaal dit is wel wat gebeur het. Lees ook wat DB soek verskonings te se het.

Estie ·

Abrie Botha, waarnemende direkteur van openbare vervolging, en ao. Abrie Botha, ondersoekbeampte? Kan sekerlik nie reg wees nie, of is dit toeval dat hulle dieselfde name en vanne het?

christa ·

geen simpatie. As hy gesuip was moet hy eintlik ‘n swaarder straf gekry het. Almal wil altyd agter drank skuil. As jy gesuip is soek jy gewoonlik moeilikheid, dus sal ek glo hy het onskuldige mense gejag.

Landi ·

Verbasend min kommentare. Wanneer skreeu mense dan oor die onreg ? Teen die pleger van die wandaad, of teen die slagoffers? Niks? Iemand?

jaco ·

Dit kom nou van drank en dwelms. Net vreemd dat dieselfde wit mense wat sulke rasgedrewe misdade pleeg en wat so baie kla oor die einste ras wat nou SA regeer, ook maar lekker voordeel trek uit maatreëls wat dagga semi-wettig gemaak het en dan ook ander dwelms gebruik, juis weens swak polisiëring teen dit…

Kasper ·

Weet jy jaco, hoeveel van die skuldiges van plaasmoorde het dit ook uitgevoer onder die invloed van dwelms en drank, en ja hulle is gewoonlik van die ras waarna jy verwys. Dan praat ons nie eers van die brutaliteit wat gepaardgaan met daardie moorde nie. Is dit nie ook rasgedrewe nie?

Johan ·

Dis vir my altyd hartseer dat mense met ‘n kuier of na ‘n kuier hulle koppe verloor en hulle aan roekelose en onverantwoordelike gedrag skuldig maak.
Drankmisbruik is ‘n euwel.

Dronk krim ·

Kan nie glo hier is wraggies mense wat probeer verskoning maak nie!
Die man is n dronk krimineel wat agter tralies hoort. Om agter mense aan te jaag met jou voertuig en hulle te WIL raakry – KRIMINEEL

Vryheid ·

Hy gaan lank n tyd he om oor sy dade na te dink. Klink maar volgens sy lewenstyl was dinge al lankal buite beheer.

Nika ·

laat n nie-blanke man 4 blankes dood ry dan is dit seker self-verdediging. verstaan nie hoe dit n ‘rasse-aanval’ is net omdat die bestuurder wit is nie. Moord is moord ongeag wat die velkleur van die slagoffers of moordenaar is nie.

Gert ·

Daar was al BAIE gevalle waar nie-blankes arme(wit) oumense op plase brutaal doodmartel, dit tel altyd as nie-rassisties, en haal dee sdae nie eens meeste nuuskanale nie.

alida ·

Sy optrede kan nie geregverdig word nie. Dit wat hy gedoen het was verkeerd. Maak nie saak wat die kleur van die skuldige of slagoffers is nie. Dit is verkeerd.

@ alida en Dronk krim en al die klaers ·

Hoekom is dit ‘n rasse voorval? Wanneer ‘n taxi iemand doodry is dit ‘n RASSEVOORVAL??
NEE NIEMAND Regverdig dit nie, ons wil net he ALMAL moet so ongelukkig wees wanneer ‘n TAXI onskuldige kinders op hulle fietse en onskuldige mans op hulle MOTORFIETSE doodry .. NIEMAND het gese dit is reg nie, ons WAG dat julle ook ANDER voorvalle sal veroordeel.

LD ·

Jong…. wanneer mense drink en dronk word en nog boonop dwelms saam dit gebruik ook, het ek al met my eie oë gesien en ore gehoor hoe die jong manne wat dink hulle is “macho” moeilikheid soek met ander ras omdat hulle dronk is en dan nie hulle gevoel teenoor hulle kan stilhou nie. En dan is die ander kleurige heel onskuldig! Party mense soek maar net vir moeilikheid! Maar het dit self al andersom ook gesien! Die land sal nooit vrede hê nie….. !

Liza ·

Die persoon het die die mense op n teerpad raakgery en nie in bebosde gebied nie. Ek bly in die dorp waar dit gebeur het en ken een van die slagoffers se pa. Dit was n senseless daad gewees een dood en een was ernstig beseer. Oor die persoon dwelms en drank gebruik het. Nie regtig simpatie met hom nie

Gesiggie ·

Liza as jy daar woon en kan se dis op teerpad gedoen hoekom is sy spotligte of altans een in die veld/bosgebied gevind. En waar is die pataloog verslag wat gedoen is op die oukie wat sy lewe verloor het? Niemand niemand noem nerens dat daai verslag aan wys dat hy eintlik dood is agv van slaan houe nie?? Al die ander mense wat saam hom was en ook betrokke was stap weg en gaan aan met hul lewens en hy moet alleen boet. Nee hier kom nog n groot ding

kolla ·

Kon nie so dronk gewees het om so maklik sy 4 teikens in ‘n beboste gebied af te maai nie. Nee wat.

Alida ·

Vergeet tog die woord RAS. Daar is mense betrokke. Kyk na die voorval met oop skoon oe.

Dink weer ·

Natuurlik was dit rasgedrewe? Sou die man na ‘n woordwisseling met blankes ook hul agterna gesit het en hulle probeer raak ry en self dood ry? Ek twyfel sterk! Taxi’s ‘mik’ nie vir blankes nie – meer swart pendelaars word deur hul raakgery. Ek glo wel dat meeste plaasmoorde rasgedrewe is. Baie van daardie moordenaars word vervolg en sit in ons tronke. Niks kan die man se optrede regverdig nie. Dis die tipies rassisties mentaliteit van sekere Afrikaners en dit maak my skaam om myself ‘n Afrikaner te noem!

Nugter ·

Hy verdien sy 22 jaar meer as wat die doodskis twee hulle 14 jaar verdien.

Gert ·

En wat van daar swart weermaglid in Pretoria wat die arme wit meisie op die motorfiets trompop geskiet het toe sy hom wou vra hoekom ry hy hulle raak? Dit was nie gesien as rassisties nie en as ek reg onthou is hy nou in die tronk vir ‘n ander misdaad!

Maria ·

N dronk taxi bestuurder het aan die verkeerde kant van die pad my niggie en haar man morsdood gery, daai ou het nie n dag se straf gekry nie?!?!

Marika Bresler ·

Ons het regtig nie sulke mense in die Land nodig nie! Laat hy maar lekker dit! Ek gun hom dit!

Ag Asb man ·

Het julle gedink dat dit as rasse voorval beskryf word oor die woordewisseling voor die man in die bakkie geklim het???

Die man moes eintlik maar swaarder gestraf word vir die pogings tot moord. Laat hy lank kan sit, want soos ons een stappie vorentoe beweeg kom sulke mense en laat ons weer twee agter toe vat.

Ek wens net mens kan ophou kwaad raak as daar oor jou ras gepraat word, as ek ‘n boer genoem word, ‘so what’ – ek gee niemand die krag om my minder te laat voel nie. En so ook met ons swart mense, mens moet ophou krag gee aan woorde.

George Pelser ·

Laat ons maar sien watse vonnis die ou kry wat nou die dag Mr Van Heerden koelbloedig,rassisties en lafhartig in die rug geskiet het. Kan enige iemand amper waarborg hy gaan nie naby 22 jaar kry nie. Dit maak nie reg wat hierdie ou gedoen het nie. Ek bevraagteken net baie ernstig die onpartydigheid van die “getransformeerde” regsbank in Suid Afrika. Dis om van naar te word watse belaglike en onregverdige uitsprake in die guns van enige party gemaak word wat nie blank is nie. Skandalig,treurig en belaglik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.