Rassespanning in SA ‘ʼn geweldsiklus’

Hélène-Opperman-Lewis

Hélène Opperman Lewis, ʼn sielkundige en skrywer van die boek Apartheid: Britain’s bastard child. Foto: Solidariteit/Facebook.

Dit is nou die tyd om ʼn openhartige en gebalanseerde debat in Suid-Afrika te begin oor die seer en vernedering in die land se geskiedenis sodat die siklus van geweld en trauma tot ʼn einde kan kom.

Dít was die pleidooi van dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, en Hélène Opperman Lewis, ʼn sielkundige en skrywer van die boek Apartheid: Britain’s bastard child, tydens ʼn mediakonferensie Woensdagoggend in Centurion.

Hermann het tydens die konferensie ʼn brief voorgelees wat hy aan die toekomstige koning van Engeland, prins William, gerig het.

“Daar heers tans ʼn groot debat in die land oor ʼn postkoloniale en ʼn gedekoloniseerde Suid-Afrika. Ek is van mening dat daar nie oor apartheid, postkolonisasie en dekolonialisme gepraat kan word sonder om weer die Anglo-Boereoorlog te konfronteer nie.

“Die historiese rol wat Afrikaners in die stryd teen kolonisasie gespeel het en die invloed wat Britse besetting op die denke van Afrikaners gehad het, val tans heeltemal buite die debat.

“Boonop word hierdie stuk geskiedenis, wat ook my storie is, gekriminaliseer, en dit is heeltemal vals. My geskiedenis bevat foute, maar dit beteken nie die gemeenskap wat die foute begaan het, moet nou ewe skielik totaal ontbind word nie.”

Hermann het gesê die vraag word dikwels gevra waarom die enigste stam in Afrika wat daarin geslaag het om kolonialisme te oorwin, dit toe net gaan voortsit het deur ʼn stelsel wat apartheid ingestel het.

“’n Mens kan dit in konteks plaas teen die agtergrond van die Anglo-Boereoorlog en wat daar gebeur het. Dit is ʼn paradoks, maar Afrikaners se antwoord op kolonialisme was herhaling van daardie selfde soort logika – dit is vreeslik en terselfdertyd ʼn ironiese verskynsel,” het Hermann bygevoeg.

dr-dirk-hermann-brief

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, onderteken sy brief aan prins William. Foto: Solidariteit/Facebook.

Hy meen dit is ook ʼn verklaring vir hoekom Afrikaners deesdae so heftig reageer, onder meer in die Spur-debakel en die herrie wat tans rondom die Jacaranda FM-omroeper, Tumi Morake, se uitsprake woed.

Lewis het verduidelik in haar soeke na die Afrikaners se morele bewussyn tydens die skryf van haar boek, het sy bevind dat trauma maklik van een generasie na ʼn ander generasie oorgedra word indien dit nie aangeraak en behandel word nie.

“Daar is tans genoeg nuwe navorsing in sielkunde en die neurowetenskap wat toon emosionele pyn het presies dieselfde invloed as fisieke pyn. Boonop is daar bewys dat trauma die brein onherroeplik verander, wat nog te sê van herhaaldelike trauma, wat deur iets soos ʼn oorlog veroorsaak word. Dit verklaar dan waarom die persoon wat gister verneder is, weer so maklik môre iemand anders kan verneder. Hierdie mense herhaal dikwels ʼn siklus van geweld, en dit word boonop onbewustelik gedoen.

“Ons kon nog nooit uit die geskiedenis leer nie, want ons is tans net besig om die siklus van vernedering en skaamte te voed. Hierdie vernedering skep ʼn begeerte tot wraak in ʼn desperate poging om selfrespek en menswaardigheid te herstel, maar dit lei net tot verdere vernedering.”

Lewis het gesê dit verontskuldig egter niemand van die wandade wat hulle in die toestand pleeg nie: “Dit help ons net om te verstaan hoekom dit gebeur het.”

Lewis het gepleit dat Suid-Afrikaners ʼn transgenerasie-trauma moet verstaan om te verseker dat daar genesing in die toekoms kom.

“Dit is erger as ekonomiese leed en ʼn mens moet verstaan die trauma wat uit hierdie herhaaldelike soort vernedering en skaamte ontstaan het, neem lank om te genees; ʼn mens moet geduldig wees.”

Hermann het gesê hy het aan die einde van sy brief tot ʼn slotsom gekom dat hy nie wil hê die Britte en prins William moet verskoning vra vir dit wat met Afrikaners tydens die Anglo-Boereoorlog gebeur het nie.

“Ek dink eerder dit sal meer beteken as ons onderlinge begrip vir mekaar se geskiedenis binne ʼn postkoloniale konteks en ʼn debat hieroor toon. Daarom dink ek dit sal veel meer beteken as ons William se grootoom Christian Victor se graf saam besoek en ʼn krans daar lê, asook my grootoom Petrus se graf in die Irene-konsentrasiekamp en die Seko-familie se grafte in Bloemfontein en kranse by die grafte lê. Dit sal ʼn simboliese daad wees daarvan dat ons nie die verlede vergeet nie, maar ook nie sal herhaal nie sodat ons kan bou aan ʼn nuwe toekoms.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Basislyn Kreool Afrikaner Bosvark ·

Geagte Dirk en Hélène, alle Suid-Afrikaners moet allereers eenstemmigheid kry oor presies wat kolonialisme is, en presies wanneer “kolonialisme” in Suid-Afrika begin het. Was dit toe die San en die Khoikhoi die oorspronklike eerste Homo sapiens sapiens inwoners verdryf het? Of was dit toe die “witmense” en die “swartmense” die San en Khoikhoi verdryf het? Of was dit die VOC of die British upper class of die British Empire? Verder moet duidelikheid verkry word oor presies wie het die der duisende Afrikane, Madagaskars, Indiërs en Oosterlinge hul vryheid ontneem en aan buitelanders as slawe verkoop. En die feite moet gabaseer wees op primêre bronne. Eers dan sal dit sin maak om verder oor die pyn en vernedering van die verlede te praat. Die basislyn vanwaar verder gepraat word moet eenduidig gedefinieer wees. Dit is basislynbestuur. Anders spin ons maar net weer wiele.

Vermeende ·

Ons mense is in hul duisende in die konsentrasiekampe dood aan honger en siektes.
Ek verwag geen verskoning van die Britte vir wat 100 jaar terug gebeur het nie maar ek verwag dat die koningshuis die volksmoord op Boere vroue en kinders moet erken as volksmoord en pa staan vir hul dade. As die Queen vir Mandela kon verskoning vra vir die boereoorlog dan kan sy die blanke Boere mos ook versoning vra?

Ek wonder hoe die Jode sal reageer op n oproep om n kransie by n Nazi graf te gaan le en ook anders om.

Eish ·

Ons het dit gedoen omdat dit aan ons gedoen is. Dit word aan ons gedoen omdat ons dit aan hulle gedoen het. Debatvoering sodat die siklus van geweld en trauma tot n einde kan kom. Ons sal moet vinnig praat, indien dit gaan help. Dave Pepler het vanaand in n onderhoud met Hanlie Retief gesê ons verstaan mekaar nie aangesien ons woordeskat verskil. Wat gaan ons vir mekaar sê wanneer die sielkundige en die Sangoma in gesprek tree?

Boet Fasie ·

Nee , ons verstaan dit nie want die blankes is uitverkoop en word tans uitgemoor, verneder en vir enige ding in die tronk gestop. Blankes word daagliks beskuldig van rassisme terwyl omgekeerde rassisme nie raak gesien word nie. Die blanke is destyds deur die Engelse in hierdie land verdruk en in konsentrasie kampe gesit, vandag word die blanke weer onderdruk in die nuwe Suid Afrika en in die tronk gesmyt . Boere is destyds op die grense deur inboorling vermoor, vandag gaan die moorde op boere voort – hoekom sal daar nie haat wees nie.

Juffie ·

Ek glo dit nie!! Hier gaan ons alweer! Die ou ou afgesaagde storie van ons en hulle en hulle en ons en die vernedering en wat nog. Ek is trots op my geskiedenis. Ek het niks verkeerd gedoen nie. Die hele wêreld pas een of vorm van apartheid (diskriminasie) toe en niemand gee ‘n duit om nie.
Meer as 20 jaar is verby waar ons ons land oorgegee het aan die wat benadeel was/is
Kyk waar is ons nou…..en hulle

John ·

Solidariteit is ‘n werkersunie. Punt. Om namens alle Afrikaners te praat is verregaande. Hou ‘n eie kongres as julle niks anders te doen het nie, maar laat almal weet dit is net die unielede se impulsiewe plan vir goedkoop publisiteit. Dwase eie verklarings waarom dinge gebeur en hogere sielsontboeseminge is julle saak. Soos ek Afrika ken, sal dit in net nog ‘n ‘waarsheids’kongres met vele eise en tranetrekkerstories voor tv-kamera’s ontaard wat groter woede en nog groter misverstande (selfs moorde) ontketen as die een tussen Planeet Aarde en N-Korea. Neem sommer ook die saak na die VN waar julle gereeld boer nes ons geagte president… Julle sal met met meer as ‘n kous oor die kop huistoe kom. Mnr Hermann is nie die Afrikanergemeenskap se verkose leier nie.

Mina ·

Is dit nie net eenvoudiger om te weet dat God Sy hand in en oor en om die geskiedenis vou nie? Aanvaar dit en beweeg aan. Hou op om altyd beskuldigings rond te slinger en verskoning te wil hoor. Aanvaar dit. Aanvaar dit net en maak die beste daarvan! Om soveel derms uit te ryg is darem maar baie tyd mors. Lê jou neer by God se wil en beweeg aan. Soveel makliker.

Callie ·

Om n blommetjie op my oupa groot wat ek nie eers ken nie se graf te gaan sit gaan absoluut niks aan my of my gemoedstoestand doen nie. Ek leef nou, in die hede. Nou moet die moordenaar, krimineel wat geld steel in regering, die leunaar wat bedrog pleeg en duisende hulle werk kos, tot verantwoording geroep word. Alle kante toe, die Malemas en Morakis met haat spraak, die blankes van KFC , die Guptas en almal betrokke. Betaal nou en kry nou regverdigheid of lewe met haat en n wrok. Besluit nou

Chris Beets ·

Ag as julle tog net Nicolaas Van Rensburg se visioene kan lees dan sal julle verstaan hoekom dit gebeur daar is niks wat gaan regkom nie dit gaan net erger word

Jacques Venter ·

Solidariteit veg nou die Anglo/Boere oorlog, terwyl hulle, hullre ergie kan gebruik teen staatskaping

Tokkie ·

John beter kon ek dit nie stel. My oupa was ‘n krygsgevangene en het nooit oor die oorlog wou praat nie, maar wat hy wel gesê het is dat ons vroue en kinders in die konsentrasiekampe baie meer gely het as die burgers. Hy het ook gesê dat ons nooit moet vergeet waar ons vandaan kom nie en dat ons niks het om oor skaam te voel nie. My oupa was ‘n man duisend vir wie ek groot respek gehad het. En John jy is reg Mnr Hermann is nie my leier nie en praat nie namens my nie.

Luke ·

Die hele storie is n “blame game”. Ek gaan nou n bohaai opskop oor die feit dat my voorgeslagte se bure se aangetroude familie deur die vikings onder druk was. Ek soek nou n verskoning van die viking koning se nageslag en vergoeding in die vorm van eiendonskap in groenland!
Dit is alles in die verlede. As is verbrande hout! Meer mense met al hulle opinies en eise moet dalk eerder meer werk dan het hulle minder tyd om al hierdie snert uit te dink.

fm ·

Sinvolle debate of aksies om vorentoe te beweeg is goed. Tans is ons egter besig om na nerens te beweeg nie. Hierdie oor en weer beskuldigings van boelies, rassisme, self verdediging, self regverdigings van “ek is reg en jy is verkeerd” , protesbriewe skryf en nukkerigheid gaan ons nerens bring nie. Inteendeel ons plaas onsself direk in ‘n pot met water wat stadig vehit word, niemand hoef dit vir ons te doen nie. Rasionele toepassing van beskaafde intelligensie is die enigste manier om vorentoe te beweeg om ‘n voortbestaan, wat respek insluit, te verseker. n Bakleiery, voete stamp en protes aanteken teen ‘n Hamburger, ‘Slaai en Steak Joint met ‘n crispy hoenderboudjie en bakkie koolslaai in die een hand en ‘n hoendervlerkie in die mond en ‘n radiostasie wat tussendeur die jongste popliedjies speel gaan ons niks bereik nie. Inteendeel ons begin al hoe meer adsurd, agterlik en bisar voorkom . En al hierdie goete gebeur terwyl mense daagliks op plase aangeval, gemartel en vermoor word. Ons sal moet uitstyg bo hierdie platvoerse gemors uit om weer oortuigend menswaardig en waardig te word sonder om lamsakkig te wees en alles net te aanvaar. Niks kan wedersydse respek en menswaardigheid vervang nie.

dance ·

John na daai sal ek tot met jou n gebraaide skaapribbetjie deel

Chris Beets ·

Dance wat van n skaap tjoppie dis meer vleis as n skaap ribbetjie te min vleis om gee vir John n ordentlike stukkie vleis om mee saam te braai jong jy’s suinig.

Olifant Ribbetjie Yours Truly Ystervark ·

@ fm & luke. ‘n Maroelatjie op jul denke! Ek nooi julle oor vir ‘n lekker gebraaide olifant ribbetjie. Ons sal oor die uitdagende toekoms praat: oor geleenthede en uitdagings, oplossings, ‘n visie, strategië, reg en geregtigheid, naasteliefde, kreatiwiteit en selfaktualisering, wêreldkompeteerbaarheid, ons kultuurgoedere en alles wat mooi, goed, gesond en voorspoedig vir alle Suid-Afrikaners, Suid-Afrika, die natuurlewe en ons nageslagte is. Die lewe is so kortstondig. Carpem diem! Nou vir daardie lekker gebraaide olifant ribbetjie en ‘n humortjie of honderd!

fm ·

Dankie, Dankie, Dankie tog daar is nog mens mense oor in Suid-Afrika soos Olifant Ribbetjie Yours Truly Ystervark!!!!!!! Ek het baie erg bekommerd begin raak. Mag jy ‘n lang en gelukkige lewe hê. Jy ook Luke!!!.

Chris Beets ·

Die liberale links het die opstel van al, die regering geïnfiltreer deur Marxiste besig om in universiteite, werk as maatskaplike werkers, wat hoog in die opvoedkundige veld. Dit wat ons sien is ‘n kommunistiese hand in die agtergrond. Deur die jare van breinspoeling deur die gevestigde media, die toekoms van die weste is in puin.

Luister na wat Yuri Bezmenov ‘n voormalige KBG kommunistiese oorloper –

“Die sielkundige skok wanneer hulle sal sien in die toekoms, wat die pragtige van die samelewing van die gehalte en wat maatskaplike geregtigheid in die praktyk beteken, natuurlik sal hulle in opstand.

‘N Persoon wat gedemoraliseer is nie in staat om esels ware inligting, die feite, die feite vertel hom niks, selfs as ek hom stort met inligting, outentieke bewys met foto’s, dokumente, sal hy weier om dit te glo ten spyte van die oorvloed van inligting.

Niemand is in staat om sinvolle gevolgtrekkings te kom, in die belang van hulself te verdedig, hul familie , hul gemeenskap en hul land. 

Wat nou gebeur in Europa was dekades gelede beplan.

Die liberale links het die opstel van al die regerings geïnfiltreer deur Marxiste die verspreiding van hul ideologieë deur besig om in universiteite, werk as maatskaplike werkers, wat hoog in die opvoedkundige veld, rolprentbedryf, musiek industrie en net omtrent elke faset van die samelewing.

 Dit wat ons sien is ‘n kommunistiese hand in die agtergrond. Deur die jare van breinspoeling deur die gevestigde media, die toekoms van die weste is in puin.

WW ·

John, FM, Luke en Ystervark. Saluut!! Sowaar, hierdie absurd poging tot regverdiging op ‘n desperate wyse het my skoon onnosel laat voel toe ek die eerste keer daarvan hoor. Gaan aan met die lewe en los die verlede waar dit hoort. Debatvoering is ‘n mors van tyd en energie – almal wil alewig vergaderings hou om die nodigheid van ‘n vergadering te bespreek en dan weer vergader om te bespreek waaroor vergader was. Ag nee wat, daar is beter dinge om te doen.

Ada ·

Ek wil net dat die Britte erken dat hulle volksmoord in S A gepleeg het in die oorlog. Hulle was nooit gesraf vir die konsentrasiekampe soos die Duitsers nie. Vandag is daar ook Volskmoorde sonder dat die mense in ‘n konsentrasiekamp woon en daardie leiers word gestraf. Volsmoord bly Volskmoord en ek sou graag dat van die ou “lord’s” van die Britte se families – want die ou :”lords” is seker al dood en ook Queen E 2 besef en erken dat dit ‘n Volkmoord was. Die Duitsers het onlangs moes erken dat hulle Volksmoord in die ou Suidwes Afrika gepleeg het – en dit is ook ‘n 100 jaar gelede. Hulle het 1.5 miljoen mense in die woestyd in gejaag sonder kos en water en almal het omgekom. Ek dink die stam was die Herero – maar is nou nie doodseker van die stam se naam nie. Dieselfde met die konsentrasiekampe. Ons moet dan ook kompensasie daarvoor kry. Die Duitsers betaal elke jaar nog miljoene aan die Jode uit vir kompensasie met daardie Volksmoord.

Vermeende ·

Soledarteit praat nie namens my nie, dit kom voor of die vakbond lede meer DA is as enige ander party.
Solidariteit neem kennis, julle het geen mandaad om namens my of enige regse persoon te praat nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.