Rassie dalk weer voor kamera

Rassie Erasmus. Foto: GB Jordaan.

“Ongelooflik opgewonde!”

Rassie Erasmus het gister op sosiale media genoem dat hy saam met SuperSport aan ’n dokumentêre program werk.

Volgens die nasionale direkteur van rugby gaan hy sodoende die geleentheid kry om sy weergawe van die afgelope paar maande se gebeure te vertel.

Erasmus het vroeër ’n video van 62 minute gemaak waarin hy videogrepe uitwys waar hy glo die Springbokke in die eerste toets in Kaapstad teen die Britse en Ierse Leeus te na gekom is. Hy het ook voorbeelde uitgelig waar daar volgens hom nie genoeg respek aan die Bokke en veral nie aan die Bokkaptein, Siya Kolisi, betoon is nie.

Nodeloos om te sê, dit het Wêreldrugby omgekrap en hy is deur ’n tugpaneel op ses aanklagte – onder meer dat hy ’n wedstrydbeampte gedreig het en nie sy gesag gerespekteer het nie – skuldig bevind.

Die 49-jarige oudspeler, wat die meesterbrein agter die Springbokke se suksesvolle 2019-Wêreldbeker-veldtog was, is onder meer vir twee maande van alle rugbyaktiwiteite geskors. Verder mag hy tot 30 September volgende jaar ook nie aan enige bedrywighede op wedstryddae deelneem nie.

Hoewel Erasmus aanvanklik aangedui het dat hy teen die beslissing sal appelleer, is daar verlede week ’n U-draai gemaak en SA Rugby het in ’n kort verklaring gesê dat daar teen die appèlproses besluit is.

“Ons het die voorval agter ons gesit en wil nou net vorentoe kyk. Ons respekteer die tugpaneel se bevinding sodat ons met duidelikheid die rugbybedrywighede in die komende maande kan beplan.”

Wêreldrugby het bevestig dat hy die verskoning aanvaar en kennis neem dat die
appèlproses gestaak is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

casper ·

Rassie is reg — Die spul in wereld rugby is ‘n “Old Boys club” wat geen kritiek kan verwerk nie !!

JN ·

Ja nee die Wereld Rugby Unie dink hulle is die Alfa en Omega en dan is daar hul marrionette die skeidsregters…….
Almal van die belaglikke lot “untouchables ” wat geen verantwoordelikheid vat vir hul foute nie gevrywaar deur hul meesters daar bo..
Hoe belaglik dat die lot dink als wentel rondom hulle…
Hul dink hul is waaroor rugby gaan.?
Ek voel hul versmoor die spel rugby en maak dit onaanskoulik…

My siening ·

Sterkte Rassie laat die waarheid seëvier! Dubbel standaarde nê Australië.

Louis ·

Rassie is die beste afrigter wat suid afrika nog gehad het. Kyk wat het hy met die vrystaat span gedoen. 2 keer het hul die curry beker gevat met sy afrigting. Net so met die bokke ook

Surfer ·

Hy mag vir n jaar nie deelneem aan enige bedrywighede op wedstryd dae nie. Wat anders moet hy doen en dit oor n skeidsregter wat nie sy werk ken nie en nog steeds n groot salaris verdien, terwyl Rassie “werkloos” is.

Owlie ·

Absoluut belaglik dat did political control game ook deel van profesionele sport uitmaak Rassie tree reg op bewys hulle op ander maniere waar die swak punte lê

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.