Raswette, landbou en “Kill the Boer” op AfriForum se VN-agenda

Verenigde Nasies (Foto: AP Photo/Mary Altaffer)

Verteenwoordigers van die burgerregteorganisasie AfriForum wil vandeesweek verskeie kwessies onder die Verenigde Nasies (VN) se aandag bring, insluitend onbillike raswette in Suid-Afrika, die “Kill the Boer”-dreunsang en die uitsluiting van boere op grond van ras.

Die organisasie neem tussen 27 November en 1 Desember aan twee afsonderlike geleenthede van die VN deel om verdere internasionale bewustheid te skep oor diskriminasie in die vorm van talle stukke rasgebaseerde wetgewing in Suid-Afrika.

“AfriForum sal ook wys op voorvalle van haatspraak, soos die voortdurende sing van die dreunsanglied “Kill the Boer”, wat minderhede in Suid-Afrika teiken. Een van die dringendste kwessies wat AfriForum onder die VN se aandag gaan bring, is die raskriteria vir landbou-uitvoere na Europa wat die Suid-Afrikaanse regering onlangs in die Staatskoerant aangekondig het,” het Ernst van Zyl, AfriForum se hoof van openbare betrekkinge, gesê.

Volgens Van Zyl behels die eerste geleentheid waaraan AfriForum gaan deelneem ʼn opvolgbesoek aan die VN se komitee vir die uitskakeling van rassediskriminasie (CERD). AfriForum het verlede jaar ʼn verslag by CERD ingedien as dokumentering van al die nuwe diskriminerende wetgewing en beleid sowel as voorvalle van diskriminasie in Suid-Afrika wat sedert 2020 geïmplementeer en voorgestel is of plaasgevind het.

“Hierdie verslag het ook van die opspraakwekkendste voorvalle van haatspraak en aanhitsing tot geweld teen minderhede deur hoëprofiel persone in dieselfde tydperk gedokumenteer,” sê Van Zyl.

“Suid-Afrika se rekord, met betrekking tot die uitskakeling van diskriminasie in die land, word vanjaar deur CERD hersien. AfriForum gaan dus ʼn nuwe verslag oor die Suid-Afrikaanse regering se rassediskriminasie by CERD inhandig en ʼn kort voorlegging doen as deel van AfriForum se bydrae tot hierdie hersieningsproses.”

Van Zyl gaan ook vandeesweek ook ʼn voorlegging doen voor die VN se forum vir minderheidskwessies om lig te werp op “die voortgesette haatspraak en diskriminasie wat teen minderheidsgroepe in Suid-Afrika plaasvind”.

Die kernpunte van AfriForum se voorleggings sluit onder meer in:

  • AfriForum se 2023-verslag het bevind dat daar sedert 1910 sowat 313 raswette in Suid-Afrika ingestel is. Nagenoeg 37% daarvan is geskep sedert die ANC in 1994 aan bewind gekom het.
  • Besonderhede rakende die voortdurende sing van die dreunsanglied “Kill the Boer” (deur die EFF leier, Julius Malema, en lede van die EFF) sowel as die toename in plaasaanvalle wat ná die sing van die lied aangeteken word, sal by die voorlegging ingesluit word. Die bekendste voorbeeld waarop gewys sal word, is die geleentheid waartydens Malema dié dreunsanglied vroeër vanjaar voor ʼn skare van 90 000 EFF-ondersteuners gesing het en daar ʼn toename in plaasaanvalle daarop gevolg het. In een plaasaanval, wat kort ná die stadionbyeenkoms plaasgevind het, het die aanvallers “Kill the Boer, kill the farmer” geskree, terwyl hulle die vroueslagoffer met ʼn spies gesteek het.
  • AfriForum gaan ook ander onlangse insidente van rassediskriminasie boekstaaf. Sake wat onder meer aangemeld sal word, is die apteekgroep Dis-Chem se besluit om ʼn moratorium op die aanstelling en bevordering van wit mense te plaas; en die regering se aankondiging dat boere, wat nie aan sekere vasgestelde rassekriteria voldoen nie, van tariefvrye uitvoere na Europa uitgesluit sal word.

“Die Suid-Afrikaanse regering het in 2022 geskitter in sy afwesigheid toe hy sy spreekbeurt by die VN se forum oor minderheidskwessies misgeloop het. AfriForum was egter gereed en voorbereid om die ware stand van sake te boekstaaf. Hierdie jaar is ons weer eens gereed en sal nie stilbly oor die diskriminerende praktyke wat tans in die land seëvier nie,” sê Van Zyl.

“AfriForum het in die afgelope aantal jare reeds ʼn sterk internasionale reputasie en legitimiteit opgebou as ʼn betroubare bron van inligting oor burgerregte-aangeleenthede in Suid-Afrika, veral ten opsigte van minderhede. Hierdie besoek is daarom ʼn onontbeerlike geleentheid om Suid-Afrikaanse minderhede se lot te verkondig aan die wêreld.”

Maroela Media het vroeër berig dat die vakbond Solidariteit ook na die VN op pad is om onder meer raskwessies aan die groot klok te hang.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het vroeër gesê die regering sal aan die VN moet verduidelik waarom hy nog apartheid-rasseklassifikasie gebruik – iets waaroor die VN se komitee vir die uitskakeling van rassediskriminasie reeds in 2016 sy kommer uitgespreek het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Anel ·

Maar is hierdie nie die einste lot wat die anc aangemoedig het nie? Wst ons veroorderl het oor “apart hate” (apartheid) nie? Kyk wat het hulle help veroorsaak! Sterkte aan Afriforum en Soidariteit.

Spookasem ·

Hoop daar word na hulle geluister en dat daar daadwerklik opgetree gaan word.

Theo ·

Dit is alles goed en wel maar wat help dit. Wat het van verleden jaar ze verslag geworden. Niks

Wakkerslaper ·

Sterkte, maar ek het regtig nie veel hoop vir simpatie van die VN nie, nog minder vir enige samewerking deur die terroriste regime. Julle sien mos hoe hulle net nog planne maak om ons Boere se eiendome, grond, skole en instansies soos SolTech en Akademia te vat… alles onder die naam van “transformasie en inklusiwiteit”… Het dit nie tyd geword vir ‘n ander plan nie…?

Michael ·

As AfriForum niks doen nie is dit ook nie reg nie. Party van hierdie kommentaare is so negatief. Hoekom?

Lettie ·

As ons wil behou wat ons gebou het, moet daar vir seker ander plan wees@

Lettie ·

As ons wil behou wat ons gebou het, moet daar vir seker ander plan wees!

Republikein in die Wes Kaap ·

Wakkerslaper, ander planne is moontlik, selfs maklik. Maar dan sal ons ‘n gerieflike bestaan moet agterlaat en van vooraf begin. Eintlik het ons nie ‘n keuse nie. Soos dinge nou aangaan word ons uitgerangeer en sal enventueel verdwyn. En dít is wat die heersersklas wil hê.

domheks ·

Afriforum en Solidariteit is die enigste mense wat probeer baklei vir die blankes! Die negatiewe kommentaar is oningelige mense.

Althes ·

Alle seën op Solidariteit en Afriforum. Dankie vir jul voortgesette deursettingsvermoë. Ons staan bankvas agter julle.
Die regering is niks anders as ñ Apartheidsregering nie, en verdien die veragting waarmee hul die vorige bedeling uitgeskel het.
Die huidige regering het miljoene Suid-Afrikaners in armoede, hoë werkloosheidsyfer en in vrees gedompel met hoë vlakke van misdaad.
Daar is geen regverdiging of verskoning wat Lamola kan aanbied nie.

annie ·

… ons gerieflike bestaan…. Kyk wie praat. Dis maklik om afgetree in ‘n gerieflike afbetaalde huis te sit en ander aan te por om alles agter te laat en ‘n republiek te kom uitbaklei vir diegene wat niks te om te verloor nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.