Ratanga Junction sluit sy deure

Foto: Facebook

Ratanga Junction, die Wes-Kaap se grootste pretpark, gaan ná 18 jaar van pret en plesier finaal gesluit word.

Die Rabie-eiendomsgroep, wat Ratanga Junction besit, het Dinsdag bevestig dat Ratanga Junction op 1 Mei 2018 finaal sy deure gaan sluit. Dié pretpark het in 1998 vir die eerste keer sy hekke geopen.

John Chapman, direkteur van die Rabie-eiendomsgroep, het in ʼn verklaring gesê die herontwikkeling van die grond waarop Ratanga tans gebou is, word al ʼn geruime tyd beplan. “Toe Rabie die grond by Century City in 2004 gekoop het, was Ratanga deel van die pakkie. Daarna het ons al laat hoor dat die pretpark herontwikkel sal word wanneer die tyd reg is. Daardie tyd het nou aangebreek,” het Chapman gesê.

Hy het gesê daar is verskeie redes vir die toemaak van die bekende pretpark. “Die oorgroot geriewe, tekort aan konsekwente vraag na die park, seisoenale weer, baie duur instandhouding en die verouderde toerusting het alles bygedra tot ʼn niewinsgewende fasiliteit.”

Daar is ook reeds stappe deur die Rabie-eiendomsgroep gedoen om die park te red, maar hulle kon nie die herontwikkeling vermy nie. “Ons het al die park toegemaak in buiteseisoen-tydperke, ons het ʼn konferensiesentrum bygevoeg en bedrywighede by die park afgeskaal. Nietemin is dit nie voldoende om die voortgesette bestaan te regverdig nie.”

Chapman het wel gesê daar is onderhandelinge aan die gang om sommige van die park se kleiner pretritte na ander plekke in Kaapstad te skuif.

Ratanga Junction se algemene bestuurder, Bill Taylor, het ondersteuners bedank en ʼn spesiale aanbod vir die laaste tydperk by Ratanga aangebied. Daar sal spesiale kaartjiepryse wees in die volgende seisoen tussen 29 September en 8 Oktober.

Chapman het gesê die Ratanga-konferensiesentrum gaan normaalweg voort tot die sluitingsdatum in 2018.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

LB S ·

Ek was nog altyd van mening dat, as hulle dit nie ook as ‘n “toeriste besoek” hanteer het nie en die kaartjies se pryse meer billik gemaak het sodat ALLE Kapenaars dit ook kan geniet in so ‘n mate dat dit oor en oor gebruik sou word oor naweke, sou dit baie meer winsgewend gewees het. Maar nee, alle Kaapstadse aantreklikhede is mos net vir oorsese besoekers. Kyk wat kos dit ‘n gesin van 4 om op die kabelkarretjie te gaan, Robben Eiland, mal pryse. Toe ek 23 jaar gelede in Kaapstad kom woon het was ek verbaas om te hoor dat meeste van diè wat saam my gewerk het, nog nooit op Tafelberg was nie! Nou kan ek sien hoekom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.