Ratte verloor eis teen polisie

Willem Ratte. Foto: Facebook

Willem Ratte. Foto: Facebook

Willem Ratte, ʼn voormalige Suid-Afrikaanse Weermag (SAW)-soldaat, het Donderdag in die hooggeregshof in Pretoria ʼn siviele eis teen die polisie verloor.

Ratte het sy eis van R1.1 miljoen teen die minster van polisie verloor, en vier ander mans het hul eise van R609 181 verloor.

Ratte, Petrus Hermanus Visser, Wesley Bornman, Corne de Beer en Christopher Riaan Meyer het die eise ingedien en beweer dat die polisie hulle op 20 September 2010 onwettig deursoek, in hegtenis geneem, en aangehou het.

Aanklagte van terrorisme is in 2011 in die streekshof in Witbank teen hulle teruggetrek.

Regter Bill Prinsloo het gesê die polisie het alle kamers, buiten Ratte s’n, by ʼn jeugherberg in Balmoral deursoek nadat ʼn betroubare bron gesê het militêre opleiding vind daar plaas om die regering omver te werp.

Prinsloo het gesê ʼn groot hoeveelheid wapens en ammunisie is gevind. Die groep het ook ʼn vlagpaal en uniforms gehad en toegang tot ʼn paradegrond.

Die regter het gesê hy kan nie sien hoe die polisiebeampte, slegs bekend as Mahlangu, onwettig of irrasioneel opgetree het nie, aangesien hy geen agenda teen hulle gehad of hulle voor 20 September geken het nie. “Op ʼn manier kan dit gesê word dat die eisers op die verkeerde plek op die verkeerde tyd was,” het Prinsloo gesê.

Ratte en ʼn gewapende groep wat hulself die “Pretoria Boerekommando” genoem het, het Fort Schanskop in Pretoria op 16 Desember 1993 beset. Dit moes glo dien as ʼn verset teen ʼn veelrassige regering. Hy is gevolglik tot 20 jaar tronkstraf gevonnis, waarvan 15 jaar opgekort is.

Ratte is weer in 2010 in hegtenis geneem op aanklagte van die onwettige besit van dagga, ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie. Hy het daardie jaar op ʼn maand-lange hongerstaking in die gevangenis gegaan. Die aanklagte is later teruggetrek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Riaan Slabbert ·

Maroela asseblief…..wat het met De koker gebeur?

Uys ·

die aand van 15 Des 93 het ons weermageenheid wagte gehad op Fort Schanskop. Ons gelukkig was hulle nie blank toe Kom.Ratte hulle die 4 wagte oorval het en die Fort beset het. Lang storie kort, wagte moet stap want hul is swart en diensdrywer mag hulle nie oplaai nie want hy wit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.