‘RAU TEM’ – Twee raaiselmoorde en ʼn spoor van agterdog

‘n Argieffoto van Robert Smit.

Meer as 20 jaar lank al volg die bewerings vir Roy Allen soos ʼn skaduwee. Het hy, of het hy nie?

Allen, ʼn voormalige polisielid, is in 1997 in die media uitgewys as ʼn vermeende betrokkene by die opspraakwekkende en raaiselagtige moorde op dr. Robert Smit en sy vrou, Jeanne-Cora. Die Smit-egpaar is in November 1977 in hul huis in Springs vermoor.

Smit, ʼn voornemende Nasionale Party-kandidaat in die komende verkiesing, is drie keer geskiet en het verskeie steekwonde in sy rug gehad. Jeanne-Cora is vier keer geskiet en het 14 steekwonde gehad.

Teen die muur – in rooi spuitverf – was die woorde “RAU TEM”.

Nie net is Allen betrek by die Smit-moorde nie, hy is ook beskuldig van betrokkenheid by die sluipmoord, jare later, op die destydse Sweedse eerste minister, Robert Palme. Palme is op 28 Februarie 1986 in die middernagtelike ure op kort afstand in Stockholm doodgeskiet.

Palme was openlik gekant teen apartheid en die destydse Sweedse regering het heelwat geld na burgerregtegroepe in Suid-Afrika laat kanaliseer, hoewel nooit amptelik nie.

In ʼn onderhoud met Pretoria FM vertel Allen dat sy vrou destyds ʼn paar maande lank vir Smit gewerk het. Dit, sê hy, was een van die enigste goed wat hom moontlik met die moorde kon verbind.

Allen sê hy was tydens die Smit-moorde ʼn gewone lid van die spesiale taakmag. In 1986, toe Palme vermoor is, was hy die bevelvoerder van die koverte insamelingstak in Oshakati in Namibië (destyds Suidwes-Afrika). Hy het die nuus oor Palme se dood oor die radio gehoor.

Allen is in 1996 die eerste keer oor sy vermeende betrokkenheid by die Smit-moorde ondervra – kort voor die moorde sou verjaar (die wet oor verjaring het intussen verander).

In 2000 het ʼn oudkollega van Allen, wat intussen na Australië verhuis het, gesê dat sy naam weer in verband met die moorde genoem word en ʼn ondersoekspan het in Bangkok met hom ʼn onderhoud daaroor gevoer.

Daar was onder meer bespiegeling dat die R en A wat teen die muur van die Smitte se huis geverf was, vir Roy Allen staan.

“Toe ek in die veiligheidstak in Kaapstad was, was ek ʼn bietjie van ʼn moeilikheidmaker. Ek het die oorlog na die vyand geneem sonder die toestemming van hoofkantoor.

“Waar ek nou moeilikheid gemaak het, sê nou maar waar ek ʼn kar beskadig het of iets aan die brand gesteek het, het ek my handelsmerk – ʼn hamer en sekel in rooi spuitverf – daar gelos. Ek dink die polisie het twee en twee bymekaar gesit.

“Daar was rooi spuitverf teen die muur van die Smitte se woning en ek meen jy bemors nie jou eie voorstoep as jy by ʼn moord betrokke was nie. Ek sou ʼn simboliese ding agtergelaat het, maar nie my voorletters en van nie.

Poligraaftoets

Allen sê bewerings oor sy betrokkenheid by die Smit-moorde en die sluipmoord op Palme volg hom al langer as 20 jaar.

“As enige storie genoeg herhaal word, is mense geneig om dit te glo. Selfs wanneer goeie, oudkollegas wat ek al langer as 20 jaar ken ʼn paar kappe inhet, lag hulle en sê, ‘Roy, was jy werklik betrokke?’, want waar ʼn rokie is, is ʼn vuurtjie.

“Ek wil dit graag van my lyf afkry en onomwonde bewys dat ek glad nie betrokke was nie. Ek wil ook aan die Smit-kinders berusting gee wat met vertwyfeling in hulle hart loop.

“Persoonlik het ek geen probleem met my gewete nie, want ek weet uit die staanspoor uit was ek nie betrokke nie.”

Om dié rede het Allen besluit om ʼn poligraaftoets oor sy vermeende betrokkenheid by die moorde te ondergaan. Hy het gelees dat Pretoria FM ʼn poligraaftoets op ʼn beweerde belanghebbende by die Bird Island-sage laat doen het en hy het aangebied om ook ʼn toets te ondergaan.

Die toets is oor twee dae gedoen en Allen is prontuit gevra of hy by die beplanning of uitvoering van enige van die moorde betrokke was.

Joanette Carsten, ʼn direkteur verbonde aan die PISA-integriteitsassesseringsentrum, sê ʼn poligraaftoets is ʼn gestandaardiseerde wetenskaplike toets wat die waarskynlikheid meet of ʼn persoon eerlik antwoord, al dan nie, op ʼn spesifieke stel vrae.

Oor die Palme-sluipmoord moes Allen drie vrae beantwoord: Het hy saam met enigiemand help beplan aan die sluipmoord? Het hy enigiemand doelbewus daarmee gehelp? Het hy die sluipmoord uitgevoer.

Dieselfde vrae is oor die Smit-moorde aan hom gestel.

Hy het elke keer nee geantwoord.

Carsten sê daar was volgens die toets geen beduiende aanduiding van misleiding by Allen nie. “Dit beteken hy het eerlik geantwoord en was nie betrokke nie.”

Vir Allen was die uitslag ʼn enorme verligting.

“Dit was die eerste keer dat ek ʼn poligraaftoets doen. Dit is ʼn menslike ding en is feilbaar, so ek was  gespanning tydens die toets. Dalk het daar ʼn verkeerde grafiek uitgekom wat twyfel kon skep?

“Dit is onomwonde bewys dat ek nie daarby betrokke was nie. Dit gee vir my berusting en vir veral my vriende en die Smit-kinders dat ek nie betrokke was nie.”

Wie is dan verantwoordelik?

Allen sê oor die Palme-sluipmoord het hy geen idee nie. “Dis ongehoord dat ʼn regering ʼn opponent in ʼn ander regering laat uithaal. En kyk, die Suid-Afrikaanse regering met al sy beweerde foute, het hoë morele standaarde gehandhaaf. Ek kan nie sien, in ʼn Christelik-nasionale tydperk, dat hulle dit sou oorweeg om so ʼn stap te doen nie.

“Hulle sal ʼn Joodse voorbeeld, met ʼn oog vir ʼn oog en ʼn tand vir ʼn tand, volg – soos die Israeli’s doen – maar Palme het ons nooit eintlik sulke skade gedoen dat dit die moeite werd was om ʼn ander eerste minister van ʼn soewereine land te vermoor nie.”

En Robert Smit en sy vrou?

“Ek dink Robert Smit het snuf in die neus gekry oor ongerymdhede met staatsgeld, met die geheime fonds. Daai tyd het hulle geld na die buiteland gevat vir omseiling van sanksies en so aan. Met enige fonds, net soos in die nuwe Suid-Afrika, is dit baie blootgestel aan misbruik.

“Ek sluit aan by die vermoedens dat hy snuf in die neus gekry het oor ongerymdhede en dit met die destydse eerste minister, John Vorster, wou bespreek …

“Ek dink nie hy en sy vrou is doodgemaak omdat hulle die TV of die VCR wou steel nie. Daai gewelddadige wyse waar sy vrou postuum soveel keer in die rug gesteek is met ʼn dolk, was dalk ʼn duidelike boodskap van ‘don’t mess with us’ vir onbekendes in die regering wat dalk geweet het van die kanaal waar geld die land uitgaan.

“Dis my leke-benadering. Ek het ʼn redelik goed ontwikkelde sesde sintuig en dit beaam my gevolgtrekking.”

Intussen bly die naam van die Smit-egpaar én Palme se moordenaar of moordenaars, steeds van die bes bewaarde geheime.

Die berig is saamgestel uit ʼn insetsel van Klankkoerant op Pretoria FM wat Vrydag uitgesaai is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Johan Venter ·

Ken die storie van daardie jare af. Ek glo ook nie Allen was betrokke nie, maar die poligraaftoets kon hy netsowel gelos het. Weet nie wat hy daardeur probeer sê nie, dalk laat dit hom beter voel.

Terloops die persoon op die foto hier bo is Robert Smit.

Cherokee ·

Waarom sê jy dat dit Robert Smith is as dit daar geskryf staan? Of is die onderskrif ‘n laterre byvoeging?

Gawie ·

Ek onthou nog die koerantopskrifte en fotos van die moordtoneel.

Johan Venter ·

Ek het ondere andere dit ook in my kommetaar van so 48 minute gelede gesê, maar hulle modereer nou eers nog. Ek werk toe daardie jare in Santam se hoofkantoor.

lollapot ·

Roy Allen, ek glo jou. Dit Moes hel gewees het met hierdie donker wolk om jou, Vir soveel jare. Voorspoed met jou lewe vorentoe . . .

Johan Venter ·

Ek is met jou, maar ek kan my nie herinner dat ek sy verbintenis al voorheen teegekom het nie.

antieke antie ·

en wie se dit was nie een van die terroriste in die tronk wat dit beplan en uit laat voer het nie….

Johan Venter ·

Ken die storie van daardie jare af. Ek glo ook nie Allen was betrokke nie, maar die poligraaftoets kon hy netsowel gelos het. Weet nie wat hy daardeur probeer sê nie, dalk laat dit hom beter voel.

Johan Venter ·

Dankie vir die regstelling dat julle in my vorige kommentaar opgetel het die foto hier bo is Robert Smit. Ek het daardie jare in Santam hoofkantoor gewerk.

Christel Cornelissen ·

Dagsê Johan
Baie dankie vir jou boodskap. Dit was ‘n inderdaad ‘n fout. Ons vra om verskoning vir die oorsig en het dit reggestel.
Groetnis
Christel
nms. Maroela Media

Anel ·

Hulle is die laaste week van die eksam vermoor, net voor die vakansie. Lisa was in std 6 saam met ons in die koshuis. Sy was nou jonger as ons. Ek was in std 9 en sal nooit die dag vergeet toe die hoof vir Lisa kantoor toe geroep het, en sy moet haar tas saambring. As so boodskap deurkom weet jy daar is moeilikheid. Ons het eers die middag na skool gehoor wat gebeur het en ons het Lisa nooit weer gesien. Sy het nie teruggekom die volgende jaar nie. Ons het altyd van haar pa as die “Rus” gepraat. As hy haar in die winter by die koshuis kom haal het het hy so wolhoed, soos die Russe, gedra. En hy was ‘n groot, vriendelike man, wat ons altyd vriendelik gegroet het. Vir ons as koshuiskinders was hulle dood ook ‘n groot skok.

Cherokee ·

Enkele weke na die moorde op die Smith-egpaar het ek by ‘n politieke vergadering met Oom Cas Greyling, vriend van my ouers (destydse LP en die man wat Tsafendas van Dr Verwoerd afgeruk het) gesels, en alhoewel Oom Cas met groot agting van ‘Robbie’ gepraat het, het dit ook geklink asof hy geen idee gehad het van wie of wat daaragter geskuil het nie. Daar was opinies dat dit met die destydse ‘Inligting Skandaal’ kon verband hou. Persoonlik, en niè van Oom Cas af nie, dink ek die soektog behoort begin te word by toe hy snuf in die neus gekry het en dit met John Vorster bespreek het.

Johan Venter ·

Cherokee, ek glo jy is meer as lou, verder gaan die storie dat hy voorwaardes gehad het om dit geheim te hou.

“The story goes that Robert Smit and his wife… were murdered because Dr Smit had discovered that the Department of Information had clandestinely transferred millions of dollars of state funds into secret Swiss bank accounts.”

As ek reg onthou sou hy, indien nie aan sy voorwaardes voldoen word nie, dit binne die volgende dag of twee openbaar gemaak het.

Beloer ook van die kommentare op Maroela se Facebook blad. (Dit beduie nou nie wat die voorwaardes sou behels nie.)

Cherokee ·

Dankie vir die wenk oor Maroela se Facebook blad, Johan. Was nog nie daar en sal daar inloer.

Gerrie ·

P J Pretorius, ‘n oud-lid van die destydse intelligensiediens bespreek die moord in sy boek Volksverraad. Dit bied ander antwoorde. Die boek is as gratis pdf op die internet beskikbaar.

Johan Venter ·

Gerrie, jy is heeltemal korrek, die redes word daar van bl 227 af aangevoer waarom Smit uit die weg geruim moes word, op bl 229 van die boek word die naam van ‘n prominente Suid-Afrikaanse persoon genoem wat Dr Smit geken het en in wie se teenwoordig twee CIA agente die egpaar vermoor het.

Johan Venter ·

Gerrie, ook is Allen nie so ver verkeerd betreffende wat aanleiding tot die moorde gegee het nie. Die gierigheid van daardie één prominente persoon was per die boek van Adv PJ Pretorius die oorsaak.

Cherokee ·

Ek vind dit ietwat vreemd dat die name van Connie Mulder en (en miskien ook) Eschel Roodie kompleet die gesprek ontglip.

Johan Venter ·

Die inligtingskandaal (Muldergate) het absoluut niks hiermee uit te waaie gehad nie, jy jaag spoke. (In Engels ‘stir’.)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.