RDK beveel Hlophe se skorsing aan

Die Wes-Kaapse regter-president, John Hlophe. (Foto: judgesmatter.co.za)

Die Regterlike Dienskommissie (RDK) gaan ʼn aanbeveling aan pres. Cyril Ramaphosa maak om regter John Hlophe, regter-president van die Wes-Kaap, te skors.

Die RDK het Maandag vergader en die besluit geneem nadat Hlophe in Augustus verlede jaar aan growwe wangedrag skuldig bevind is.

Hlophe het die hooggeregshof in Johannesburg genader om sy skuldigbevinding te hersien, maar die hof het in Mei die aansoek van die hand gewys en beslis die RDK was reg om hom skuldig te bevind.

Die aanbeveling deur die RDK om Hlophe te skors volg 14 jaar nadat hy twee regters van die Konstitusionele Hof probeer beïnvloed het om hul ampseed te skend en in oudpres. Jacob Zuma se guns te beslis tydens ʼn korrupsiesaak waarby hy betrek is.

Die grondwetlike drukgroep Freedom Under Law (FUL) het verlede week deur middel van sy prokureurs in fyn besonderhede ʼn argument by die RDK ingedien ter ondersteuning van regter Hlophe se onmiddellike skorsing.

In beginsel is dit ondenkbaar dat ʼn persoon wat skuldig bevind is aan ʼn poging om die verloop van geregtigheid te verdraai aan die hoof van een van die land se besigste howe kan bly staan, het FUL aangevoer. “As regter-president ken hy sake aan regters toe, benoem hy waarnemende regters en het hy ʼn groot invloed in permanente aanstellings.”

Volgens FUL is dit onontbeerlik vir die regbank se missie om te verseker dat geregtigheid nie net geskied nie, maar gesien word om te geskied. Die persepsie van die regbank in lede van die publiek se oë is ʼn belangrike element om die integriteit en doeltreffendheid van die regterlike funksie te handhaaf.

“In hierdie geval is ons nie net gemoeid met openbare persepsie nie, maar die werklike risiko dat regter Hlophe weer sal optree in stryd met sy geregtelike eed. As die regter-president van die afdeling het hy elke geleentheid om dit te doen. Dit staan ​​hom vry om regters en verhore toe te wys soos hy goeddink; hy kan in junior en waarnemende regters se ore fluister en met hulle gesprekke voer oor hangende sake; hy kan homself aan enige saak in sy afdeling toewys.

“Dit bied regter Hlophe elke geleentheid om nie bloot die sake wat onafhanklik deur ʼn ander regter aan hom toegeken is nie, maar die verloop van elke aangeleentheid in sy afdeling te beïnvloed.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Hendrik ·

Te heerlik om al 14 jaar lank in die anc soustrein te ry. Daarom klou hul met mag en selfs en geweld aan hofsake en apellerings vas in hul posisies.

Nie Verbaas ·

Hoekom net skors? Hy moet afgedank word en nie meer as n regter kan optree nie.

SjN ·

En die geld wat hy mahala ontvang het moet met rente terugbetaal word.

Perdeby ·

Jy word eers geskors, en dan dissipliner verhoor, en dan na die “outcome” word jy dan afgedank. Dit is hoe dit in die regte lewe gedoen word.

Jr ·

Kan nie verstaan hoekom hulle in die eerste plek hierdie goed doen en dink hulle gaan wegkom. Maar nou is hulle lewe nie so lekker, maar ja hy kan altyd ‘n politikus wees. Sy CV is nou reg vir dit

Elize ·

Dis hoogtyd. Ek luister na die ANC in KZN en daar is te veel steun vir Zuma. Dis nou die tyd om met hom finaal te deel. Ramaphosa het ‘n lat vir sy eie gat gesny om so saggies om Zuma te beweeg. Dis hier waar die kultuur die brein oorheers.

Groen-oog ·

Skors verhoor en terug betaling (verkoop al sy goed) en tjoekie toe met hom.

Pieter9 ·

Hy gaan almal nog vir die volgende 10 jr nog baie besig hou – en dan met volle pensioen aftree.

JohanR ·

Skors die ou? Dit sal nog 10 jaar neem soos hy appelleer…..geleer by Zuma.

Swerwer ·

Ja nee, dit is net Zuma se makkers wat so laag kan daal om ‘n hofaansoek in te dien om hulself te probeer onskuldig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.