RDM beloof ‘volgehoue ondersteuning’ aan gesinne ná ontploffing

Die toneel by die Rheinmetall Denel-depot in Somerset-Wes in die Wes-Kaap (3 September 2018). Foto: Phando jikelo/African News Agency

Rheinmetall Denel Munition (RDM) het Woensdag beloof om volgehoue ondersteuning te bied aan die gesinne, werknemers en gemeenskapslede wat deur die ontploffing by sy depot in Macassar in die Wes-Kaap geraak is.

Agt mense is tydens die voorval dood.

Norbert Schulze, uitvoerende hoof van RDM, het gesê daar is nou niks belangriker as om ondersteuning en sorg aan die gesinne betrokke in “dié hartverskeurende voorval” te bied nie.

Nog ʼn vergadering sal Donderdag met die gesinne gehou word om hulle weer in detail op hoogte te bring van die voorval. Die ondersoek na Maandag se ontploffing duur voort.

RDM het gesê ʼn span is direk ná die voorval in werking gestel om die onmiddellike rampbestuur en versagting te hanteer. Die span is die daaropvolgende dag weer ontbind om die fokus op nuwe sake rondom die voorval te plaas.

“Nou beweeg ons in ʼn herstelfase in en alle nooddienste en regeringsagentskappe werk saam met RDM om die oorsaak van die voorval te bepaal,” lui die verklaring.

“Die produk wat betrokke was in die voorval was ʼn ontbrandingstof wat bestaan uit meer as 95% nitrosellulose, meer algemeen bekend as ‘gun-cotton’. Dit word as ʼn ontbrandingstof vir ammunisieladingstelsels gebruik. Die ontbrandingsprodukte in die materiaal bestaan uit 34% koolstofdioksies, 13% water, 13% stikstof en 38% koolstofmonoksied, asook 1% waterstof en 1% metaan.”

Volgens RDM het die wolk wat ná die ontploffing in die lug gehang het dus geen gesondheidsbedreiging vir die werknemers en omliggende gebiede ingehou nie.

Die staatsbeheerde wapenvervaardiger Denel het ʼn 49%-aandeel in Rheinmetall Denel Munition (Edms) Bpk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.