RDM stel gemeenskap gerus ná ontploffing

Rheinmetall Denel Munition (Foto: Phando Jikelo/ANA)

Rheinmetall Denel Munition (RDM) het Saterdag inwoners van Somerset-Wes in die Wes-Kaap gerusgestel dat die perseel “absoluut geen bedreiging inhou vir die omliggende gebied en gemeenskappe” nie.

Dit volg ná ʼn ontploffing Maandag by die aanleg waartydens agt persone gesterf het. Werknemers was besig om dryfmiddels vir artillerieladings te meng toe die ontploffing plaasgevind het.

Norbert Schulze, uitvoerende hoof van Rheinmetall Denel, het gesê die maatskappy het voldoen aan die internasionale veiligheidstandaarde van die departement van arbeid en dit selfs oortref.

Die maatskappy het bevestig enige chemikalieë sal nie die luggehalte negatief beïnvloed nie. “Daar is ongeveer 400 geboue op die Somerset-Wes-perseel, en elkeen is só ontwerp dat, indien daar ʼn voorval is, dit nie die omliggende dele sal affekteer nie. In hierdie geval, byvoorbeeld, het die plofmure seker gemaak dat die drukgolf nie verder as die gebou versprei het nie, en eerder direk na bo versprei.”

Schulze het gesê RDM het “plofsirkels” gedefinieer en bereken, wat beteken dat die geboue só versprei word, dat indien ʼn voorval sou plaasvind, ander mense of ander geboue nie daardeur geraak sal word nie. “Die grootte van die sirkel word bepaal deur die bedrywighede in die gebou en RDM voldoen aan nasionale en internasionale standaarde wat voorsiening maak om die maksimum geaffekteerde gebied in te sluit. Alle sirkels is binne die RDM se perseel, so enige moontlike impak word beperk tot die perimeter van die perseel. Die omliggende gemeenskappe word dus nie geraak deur enige voorvalle nie.”

Personeellede ontvang steeds traumaberading en “deel hul boodskappe van meegevoel” met die betrokke families in ʼn boek wat in die voorportaal geplaas is. RDM bied ook steeds ondersteuning en sorg aan die betrokke families.

Die name van die slagoffers sal eers vrygestel word sodra die identifikasieproses afgehandel is en gesprekke met die betrokke families gevoer is.

Rheinmetall Denel Munition RF is ʼn geïntegreerde vervaardiger en verskaffer van wapens en plofstofverwante produkte vir gewapende magte en polisie in Suid-Afrika en ander lande.

RDM is “ʼn strategiese vennootskap” tussen Rheinmetall Defence van Duitsland, wat ʼn 51%-aandeel besit en Denel SOC van Suid-Afrika met die oorblywende 49%-aandeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Daan ·

Patricia de Lille het nou weer, omdat sy nie weet wat om te sê nie, goed gesê soos dat die aanleg moet skuif. Politici in die algemeen praat om te praat. Al maak dit nie sin nie.

John ·

So Duitsland gebruik SA as sy agterplaas waar die vuilwerk verrig word en soortgelyke gebeure ver van hul mense plaasvind. Wat soek sulke maatskappy hier? Is dit die soort van beleggings wat ons lok? Hoe lyk dit met ‘n paar vuurwerkfabrieke uit Sjina om hulle ook te vrywaar van ontploffings? En die bestuur weet nie eers wat verkeerd gegaan het nie. Tragies. Maar dit maar ok met minister Gordhan aan sy sy.

Ellisras ·

Dit was ‘n 100% Krygkor filiaal. Wat nie wins gemaak het nie. Die meerderheid aandeel is aan ‘n Duitse firma verkoop. Die Mpy het bly voortbestaan. Werkers het nie hul werk verloor nie. SARS vorder geld in. Die helfte van die wins bly in die land. Waar is die probleem

t ·

@John – Maak seker van jou “feite” voor jy pos. Ellisras is reg. Die aanleg was nie binne ‘n woongebied gevestig nie, die woongebied het soontoe gegroei. As iemand moet skuif is dit die mense in die woongebied. Somchem was eerste daar.

Hoc est bellum ·

Sterkte aan die families wat geliefdes aan die dood afgestaan het. As ek so tussen die lyne lees, wil dit voorkom of Duitse ingenieursvernuf verdere lewensverlies voorkom het. As dit ‘n Chinese aanleg was, was die hele Somerset-Wes dalk platgevee.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.