Reaksie op begroting 2015

Nhlanhla Nene, minister van finansies, lewer op 25 Februarie 2015 sy begrotingsrede in Kaastad Foto: Ntswe Mokoena, departement van kommunikasie

Nhlanhla Nene, minister van finansies, lewer op 25 Februarie 2015 sy begrotingsrede in Kaastad Foto: Ntswe Mokoena, departement van kommunikasie

Talle organisasies en politieke partye het Woensdag hul mening uitgespreek oor minister Nhlanhla Nene se begrotingstoespraak vir 2015/2016.

Hier is ʼn paar van die reaksies:

VF Plus

“Dit is ’n hartseer dag as die regering dit nodig ag om vir die eerste keer in 20 jaar die persoonlike belasting met een persentasiepunt te verhoog,” het Pieter Mulder, leier van die VF Plus, in ʼn verklaring gesê. “Dit beteken dat die regering deur die resessie tydperk en deur ander terugslae daarin geslaag het om met ander metodes die boeke te laat klop, maar nou nie meer daartoe in staat is nie. As die belasting dan moes verhoog, sou die VF Plus verkies het dat BTW met 1% verhoog. So ‘n verhoging sou R18 tot R20 miljard ingebring het wat die regering se tekorte voorlopig kon oplos terwyl alle Suid-Afrikaners ‘n klein bydrae sou maak. Nou word ‘n klein klompie persoonlike belastingbetalers geteiken om die las te dra. As dieselfde koei deurlopend gemelk word, sal die koei opdroog of ophou om werk en inkomste te verskaf.”

Mulder het gesê die deurlopende hulp aan openbare ondernemings soos Eskom en SAL, sonder planne om hulle meer onafhanklik te kry deur byvoorbeeld privatisering, los nie hulle probleme op nie. “Hulle word soos stout spandabelrige kinders wat nooit selfstandig raak nie omdat hulle weet dat die ouers hulle telkens sal red,” het hy bygevoeg.

Hy het gesê die sentralisering van sekere regeringsaankope soos skoolboeke is ‘n poging om korrupsie te beveg. “Enige maatreël om korrupsie te beveg, word verwelkom. Die risiko is egter baie groot dat die staatsdiens nie die administratiewe kapasiteit het om te verhoed dat so ‘n sentrale aankoopproses uiteindelik ‘n bottelnek word wat nou die hele land in plaas van net een provinsie benadeel nie.”

Mulder het gesê pogings om met sekere belastingvrystellings meer klein sakeondernemings aan te moedig, word verwelkom. Met al die ander beperkinge soos kragtekorte en regeringsrompslomp steeds daar, sal gekyk word in hoeverre die minister daarin slaag om meer klein sakeondernemings te vestig.

“Die minister voorsien dat die staatskuld in 2017 tot R2,3 triljoen gaan styg. Dit is moeilik om die grootte van hierdie bedrag in te sien. In hierdie begroting word R153 miljard begroot net om die rente op staatskuld vir hierdie jaar te dek. Die toekomstige vrees is dat met ‘n ekonomiese groeikoers van 2% die regering nie in staat gaan wees om Suid-Afrika op die lang termyn uit hierdie skuldput te kry nie,” het Mulder afgesluit.

Solidariteit

Solidariteit het gesê te midde van reeds moeilike ekonomiese toestande moes die publiek vandag hoor dat minister Nene staatsbesteding nog verder gaan uitbrei, dat staatskuld gaan aanhou vergroot en dat groter herverdeling toegepas gaan word.

Piet le Roux, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut, sê minister Nene se aankondiging van ’n beduidende verhoging in persoonlike inkomstebelasting is ongelukkig ’n voortsetting van onlangse skadelike tendense. “Daar was in die voorafgaande drie jaar inderwaarheid ook reeds verhogings in persoonlike inkomstebelasting aangesien belastingbetalers toe ook groter proporsies van hul inkomste aan inkomstebelasting moes afstaan. Dit is gewoon onwaar dat belastingbetalers in dié tyd verligting ervaar het,” het Le Roux gesê.

Oor die sogenaamde fiskale konsolidasie waarvan minister Nene melding gemaak het, sê Le Roux dat dit glad nie enige werklike staatsbesparings behels nie. “Staatsbesteding sal slegs ’n klein bietjie stadiger toeneem as wat voorheen beplan is, maar dit sal steeds toeneem.”

Le Roux het bygevoeg die verlaging in werknemers se bydraes tot die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) is een van die enigste ligpunte in die minister se belastingrede. “Solidariteit voer al sedert 2013 aan dat WVF-bydraes permanent verlaag moet word. Ongelukkig blyk dit dat hierdie verligtingsmaatreël slegs tydelik is in vergelyking met al die ander permanente belastingverhogings wat die minister aangekondig het.”

Volgens hom is dit kommerwekkend dat die belastingbetaler voortdurend meer in belastinggeld moet opdok om die groeiende staatskuld te delg. Staatskuld het in die tydperk van 2003-’04 tot 2007-’08 met slegs 27% toegeneem, terwyl dit van 2007-’08 tot 2015-’16 met ʼn reusagtige 244% gestyg het. “Die regering behoort as alternatief eerder aan sy besteding van belastinggeld te sny om sodoende staatskuld onder bedwang te bring. Hoewel Nene heelwat gesê het oor beter bestedingsdoeltreffendheid, is dit ’n refrein wat jaarliks herhaal word terwyl die praktyk die teendeel wys,” het Le Roux verduidelik.

Hy het gesê die miljarde in ongemagtigde, onreëlmatige, vrugtelose en verkwistende besteding wat jaarliks deur die ouditeur-generaal blootgelê word, is slegs die mees ooglopende manier waarop die staat belastinggeld ondoeltreffend bestee. “Staatsbesteding wat nie tegnies onreëlmatig is nie, is steeds dikwels verkwistend en ondoeltreffend omdat dit hulpbronne in beslag neem wat vir die privaat sektor beskikbaar moes wees,” sê Le Roux.

Solidariteit hou vol dat Suid-Afrikaners se welvaart nie vermenigvuldig kan word deur ’n herverdelingsbegroting nie. Dit is duidelik dat die regering se eerste prioriteit is om effektief daarmee te wees om meer belasting uit hardwerkende mense te tap.

TLU SA

TLU SA het ook in ʼn verklaring gesê hy is jammer dat die minister geen droogteverligting aangekondig het nie. Die organisasie het ook gesê die petrolheffing is ook slegte nuus vir boere en sal ʼn negatiewe impak op die ekonomie hê wat tot stygende kospryse sal lei.

Demokratiese Alliansie

Mmusi Maimane, parlementêre leier van die DA, het gesê Suid-Afrikaners gaan ʼn opdraande stryd hê met belastingkoerse wat verhoog en die petrolheffing wat styg.

AfriSake

AfriSake het Woensdag gesê die begroting kan in die volgende woorde opgesom word: Verhoogde staatskuld, meer sentralisering, verhoogde sosiale spandering en die ondersteuning van ondoeltreffende staatsondernemings. Volgens AfriSake se uitvoerende hoof, Cornelius Jansen van Rensburg, sal die gevolglike verhoging in belastings ʼn negatiewe effek op ekonomiese groei hê.

“Die begroting reflekteer, meer as verkiesingsbeloftes, die werklike prioriteite van die staat,” het Jansen van Rensburg gesê. “Dit is duidelik dat die regering steeds groter staatsbeheer en sentralisering sien as oplossing vir die land se ekonomiese uitdagings. Privatisering, kwaliteit onderwys en die verlaging van belastings en administratiewe kostes moes eerder minister Nene se prioriteite gewees het, want daarsonder kan die ekonomie nie groei nie.”

Jansen van Rensburg het gesê as almal moet saamwerk en bydra om die land uit sy ekonomiese moeras te lig, moet die regering ook sy deel doen en verantwoordelik met belastingbetalers se geld handel. “Die regering se belofte om minder te spandeer aan onthale terwyl Jan Alleman moet uithaal en wys, skiet ver te kort,” het hy bygevoeg.

Lees alle vorige berigte oor die begrotingsrede op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frik Lotz ·

Stem saam met dr. Mulder dat BTW eerder verhoog moes word ipv persoonlike belasting.

boer ·

Watter groep mense is die grootste belastingbetalers in die land? Ja dis ons , wat op die plase vermooer en gemartel word. Hierdie is maar net nog n manier om ons verder te vertrap.

BTW, is tog die logiese uitweg,maar nee,kom ons teiken eerder die groep wat ons uit die land wil verdryf

CHRISTA ·

Ons staatsbeheerde dienste het nooit gevou nie – selfs nie met dekadelange sanksies teen ons land nie. Eskom, SAL, ons mediese dienste, onderwys, watervoorsiening, selfs behuising het voort gegaan. Sanksies kon dit nie eers laat vou nie, waarom val als nou inmekaar? En dis die party wat die meerderheid GRATIS onderwys, GRATIS behuising, GRATIS water en ligte, GRATIS mediese dienste beloof het!!! Hulle het in elkgeval NOOIT voorheen daarvoor betaal nie. Of het hulle bedoel dat dit net GRATIS vir hulle ministers en die se families gaan wees?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.