Reaksie op die begrotingsrede: ‘ANC-regering se mislukkings beklemtoon’

Pres. Cyril Ramaphosa saam met finansiesminister Tito Mboweni, adjunk-finansiesminister David Masondo, direkteur-generaal van die nasionale tesourie Dondo Mogajane en SAID-kommissaris Edward Kieswetter (24 Februarie 2021) (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Verskeie organisasies het Woensdag reageer op Tito Mboweni, die minister van finansies, se begrotingsrede.

Demokratiese Alliansie

Geordin Hill-Lewis, die DA se skaduminister van finansies, het die minister se toewyding, om skuld teen 2025 onder beheer te bring en die besnoeiing van R300 miljard op die loonrekening verwelkom. “Dit is nie nuwe beloftes nie. Dit is reeds in die mediumtermynbegrotingsrede in Oktober 2020 bekendgemaak. Ons is egter dankbaar dat minister Mboweni by dié doelwitte bly,” het Hill-Lewis gesê.

Die party trek egter die geloofwaardigheid van die doelwitte in twyfel. “Die doelwitte is suiwer gebaseer op die regering se vermoë om die salarisbesnoeiing toe te pas waarvoor hulle nou begroot het. Dit gaan ʼn groot konflik beteken tussen die ANC en die staatsvakbonde.”

Hill-Lewis sê die begroting gaan egter stygende lewenskoste beteken vir Suid-Afrikaners wat reeds onder moeilike omstandighede gebuk gaan. “Dit is ʼn begroting wat Suid-Afrikaners skop terwyl hulle lê. Dis nie moeilik om te sien wat fout is met die begrotingsrede nie:

  1. Minister Mboweni het gesê hy gaan nie belastings verhoog nie. En toe verhoog hy die petrolbelasting met 27c per liter. Dit sal die lewenskoste van elke liewe Suid-Afrikaner verhoog. Taxi- en bustariewe gaan verhoog, en so ook voedselpryse, omdat dit duurder gaan wees om goedere landswyd te vervoer. Dit is ʼn regressiewe skuif wat ʼn onregverdige swaar las gaan plaas op armes (wat ʼn groter deel van hul inkomste op kos en vervoer spandeer).
  2. Die minister het vir die eerste keer toekennings tot maatskaplike toelaes besnoei. Begunstigdes sal verhogings van sowat 1% ontvang – dis baie minder as die lae-inkomste inflasie van sowat 4%. So moeilik as wat dit is om te glo, is dit daar op bladsy 61 en 62 van die begrotingsboek. Die toekennings vir die pleegsorgtoelaag, die kindersorgtoelaag en die toelaag vir gestremde persone word almal besnoei. Slegs in hierdie jaar word maatskaplike toelaes met R5,8 miljard besnoei. Dit is ʼn bewys van die omvang van rente op skuld se impak op noodsaaklike uitgawes. Dit is ʼn ongeregverdigde keuse. Soos wat die DA in ons alternatiewe begroting gemaak het, moes die regering maatskaplike uitgawes beskerm het en ander besnoeiings geprioritiseer het.
  3. Die minister het nóg ʼn immorele reddingsboei vir die SAL aangekondig ter waarde van R4,3 miljard, ʼn enorme R31,7 miljard vir Eskom en R7 miljard vir die Landbank. Hierdie reddingsboeie word elke jaar herhaal en elke jaar belowe die regering dit sal tot ʼn einde kom. Die waarheid is dat daar geen einde is nie. Hulle sal nie beëindig word totdat hierdie zombie-staatsinstansies uiteindelik opgebreek, verkoop of toegemaak word nie. Die DA waarsku elke jaar dat hierdie eindelose reddingsboeie sal beteken dat noodsaaklike uitgawes besnoei moet word. Die tyd het nou aangebreek, omdat die ANC maatskaplike toelaes met R5,8 miljard besnoei om die SAL weer met R4,3 miljard te help. Die armstes en mees kwesbare persone in ons samelewing betaal nou daarvoor.
  4. Ondanks die minister se sterk woorde, is die finansiering vir die entstofprogram heeltemal onvoldoende. Dit is die mees voor die hand liggende en basiese ding wat die minister vandag moes regkry – om genoeg geld te verskaf vir ʼn entstof vir elke persoon. Dit is nie net die regte ding om te doen om lewens te red nie, maar die beste ekonomiese herstelstrategie wat die regering kon instel. Dit is duidelik dat die regering ʼn drie jaar lange entstofprogram in gedagte het. Dit is te stadig, te min, te laat. Die DA se alternatiewe begroting het ʼn volle R35 miljard toegewys vir entstof vir elkeen.”

Hill-Lewis sê, ten spyte van al dié beloftes, sal die regering nog steeds ʼn bykomende R541 miljard moet leen vanjaar. “Die regering sal oor die volgende drie jaar R1 biljoen (“trillion”) slegs aan rente op skuld spandeer. Dit beteken dat die regering hierdie jaar sowat dieselfde in rente op skuld (R278,3 miljard) sal betaal as wat hy aan al die ander goedere en dienste spandeer (R279,5 miljard). Die staat spandeer nou 2,6 keer meer aan rentebetalings as aan polisiëring en rente is nou selfs hoër as die gesondheidsorgbegroting en die welsynsbegroting. Dit is nie ʼn begroting om op trots te wees nie. Dit plaas ʼn las op arm mense.”

VF Plus

Wouter Wessels, die VF Plus se hoofwoordvoerder oor finansies, sê dit is duidelik dat Suid-Afrika in ʼn ernstige finansiële verknorsing is en dat die land se ekonomiese skip besig is om te sink wat staatskuld en die toename in die begrotingstekort aanbetref.

Die enigste manier waarop dié skip gered gaan word, is deur ekonomiese groei. Die harde waarheid is egter dat daar nie werklik antwoorde is om ekonomiese groei te bewerkstellig en staatsbesteding te besnoei nie.

“|Kosmetiese skuiwe gaan nie goed genoeg wees om die situasie te beredder nie. Die enigste wyse hoe die staat daadwerklik sy skuldlas onder beheer kan bring, is om sy loonrekening en onnodige uitgawes te beperk,” het Wessels bygevoeg.

“Tog bestee die ANC-regering steeds broodnodige fondse op onnodighede, soos naamsveranderings van dorpe en stede. Daar is wel verligting wat persoonlike belasting aanbetref, maar dit is nie voldoende nie.”

Die VF Plus sou groter belastingverligting wou sien omdat dit werklik die enigste manier is hoe ekonomiese groei kan plaasvind. “Mense moet geld hê om te bestee en sodoende die ekonomie aan die gang te kry.”

Aan die negatiewe kant is dit kommerwekkend dat die begrotingstekort steeds toeneem en die belastingtekort op R213 miljard geraam word, het hy gesê. Geld moet geleen word om die tekort te oorbrug wat meebring dat lenings se finansieringskoste buite beheer raak.

“Die staat se skuld gaan in die komende finansiële jaar tot nagenoeg R4,38 biljoen styg wat 82% van die Bruto Binnelandse Produk is. Alhoewel uitgawes op elke wyse moontlik besnoei moet word, gebeur die teenoorgestelde soos blyk uit die deurlopende hulp aan mislukte staatsondernemings.”

Die R6,1 miljard aan die gefaalde SAL en die R7 miljard aan Landbank is ʼn onaanvaarbare vermorsing van belastingbetalersgeld.

“Die pleknaamsveranderinge van onder meer Port Elizabeth in die Oos-Kaap bring uitgawes van miljoene rande teweeg en is ʼn voorbeeld van verkeerde prioriteite. Hierdie vermorste geld kon veel eerder aangewend word vir prioriteitsprojekte om die ekonomie te stimuleer, soos infrastruktuur-ontwikkeling. Beleidsekerheid moet nou geskep word om beleggings te lok. Een van die groot negatiewe faktore wat Suid-Afrika se ekonomie aan bande lê, is die onsekerheid wat onteiening sonder vergoeding vir moontlike beleggers inhou.”

Wessels sê gefaalde ANC-beleid en striemende wetgewing moet afgeskaf word. Daarsonder sal groei nie kan plaasvind nie, al word daar ook hoeveel kosmetiese skuiwe gemaak.

AfriForum

Die burgerregteorganisasie meen die begrotingsrede onderskryf weereens dat die regering nie oor die vermoë beskik om Suid-Afrika doeltreffend te regeer nie.

“Die ekonomie kan eenvoudig nie voortbeur onder die druk van onbetroubare kragvoorsiening nie,” sê dr. Eugene Brink, AfriForum se strategiese raadgewer vir gemeenskapsake. “Die staat moes al jare gelede daadwerklike stappe gedoen het om ’n einde aan beurtkrag te bring. Buiten dat Eskom geprivatiseer moet word, moet ander kragverskaffers ook toegelaat word om in die sektor te kompeteer.”

Jacques Broodryk, AfriForum se bestuurder van veldtogte, het bygevoeg die verhoging van kragtariewe, sowel as sekere belastings en die brandstofheffing, is eenvoudig immoreel. “Belastingbetalers trek reeds swaar en die staat se weiering om daadwerklike aksie te neem teen korrupsie en wanbesteding, maar eerder nog geld van burgers te eis, is absoluut onaanvaarbaar.”

AfriForum sê verder dat die minister weereens daarin gefaal het om daadwerklike stappe te doen om die enorme uitgawe op staatslone te verminder, soos hy al telkemale beloof het om te doen.

“Dit is ook duidelik uit die begrotingsrede dat die minister dink dit is ’n prestasie om toenemend meer welsynstoelae uit te betaal, eerder as om ’n stabiele omgewing te skep vir die ekonomie om te groei en sodoende meer werksgeleenthede daar te stel. Daar is tans meer mense wat van welsynstoelae afhanklik is, as wat daar belastingbetalers is en dit stuur op ’n ramp af,” het Broodryk gesê.

“Die staat se rigtinglose planne om die ekonomie te herstel, beklemtoon weereens waarom mense eerder in hul eie gemeenskapsekonomie moet belê, en so hulle gemeenskap bemagtig en versterk.”

TLU SA

Die nasionale begroting van 2021 het niks gedoen om landbou opgewonde te maak nie. “Soos verwag was daar ʼn sterk fokus op ekonomiese groei en het die minister vroeg in die toespraak gesê hierdie begroting skep die raamwerk sodat Suid-Afrika teen 2024/25 ʼn surplus op die begroting sal bereik en die regering se skuld teen 2025/26 sal stabiliseer,” sê Henry Geldenhuys, president van TLU SA.

“Geen ekonomiese groei vind plaas omdat dit in ʼn begrotingsrede aangekondig word nie. Die regering wil deur staatsbesteding en -toelaes, ʼn ekonomie bou. Enige ekonomie kan net groei deur verwerking, produksie en werkskepping. Hierdie deel van ekonomie 101 het die regering mis gelees.”

Geldenhuys sê die balans tussen mense wat maatskaplike toelaes kry en diegene wat werk en belasting betaal, raak ook al hoe groter. “Dit is ‘n tydbom waarop ons land sit.”

Uit ʼn landbou-oogpunt – die bedryf wat die land altyd moet red – word tabak- en alkohol produsente hard geslaan met ʼn 8%-verhoging in aksynsbelasting. Verder sal die somtotaal van die aspekte wat die produksieproses beïnvloed – soos ʼn verhoogde loonrekening, duurder kragvoorsiening en die brandstofstyging – dit al hoe moeiliker maak vir landbouers om winsgewend te wees.

“As gevolg van die stygende kostes van die produksieproses, is landbouers meer afhanklik van finansiering, maar helaas is die Landbank ook op die laaste bene – al begroot die minister R7 miljard daarvoor. Die inspuiting sal nie die nodige resultate lewer tensy die bank se bestuur geherstruktureer word nie. Die bank moet ook toegelaat word om volgens bankbeginsels besigheid te doen sonder dat die regering inmeng en ʼn ideologiese agenda afdwing wat onrealistiese vereistes vir finansiering vereis.”

Die belegging van R791 miljard in infrastruktuur-ontwikkeling is ʼn ligpunt, maar moet ook gesien word teen die agtergrond van korrupte tenderprosedures en onkundigheid.

“Die regering moet by ‘n punt kom waar harde ekonomiese besluite in plaas van ideologiese besluite geneem word. Solank enigiets anders as die markkragte die ekonomiese pad rig, sal die ekonomie net voort stotter,” het Geldenhuys bygevoeg.

Sakeliga

“Op die keper beskou is dit kommerwekkend van die begroting vir 2021 van Tito Mboweni dat die geprojekteerde tekorte wissel tussen 2 en 3,5 keer teenoor dié van die laaste paar dae van die Zuma-era,” sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van die sakegroep Sakeliga. “Van die punt van fiskale en ekonomiese volhoubaarheid, is die jongste begroting van Mboweni dus minstens twee keer so kommerwekkend as dié van die voormalige minister van finansies, Malusi Gigaba. Die toename in uitgawes en skuld moet egter nie aan die voete van Mboweni gelê word nie, maar aan dié van die regering weens die versuim om die vereiste strukturele en beleidshervorming deur te voer.”

Sakeliga het twee weke gelede gevra vir ʼn skuif na ʼn gebalanseerde begroting en benadruk dat grootskaalse strukturele hervormings nodig is om die skade wat deur inperkings aangerig is, ongedaan te maak.

“Ongelukkig het regerings- en staatsamptenare by talle geleenthede gewys dat hulle gereed is om groot sektore van die ekonomie eensydig ernstige en totale inperkings op te lê. Totdat daar duidelikheid en sekerheid is oor die manier van toekomstige inperkings van die regering, moet besighede hulself defensief posisioneer vir harde ingrypings. Terwyl sake-ondernemings op die mediumtermyn versigtig moet wees vir die moontlikheid van hernieude Covid-19-verwante regulatoriese skade, is die werklike ekonomiese probleem in Suid-Afrika ongeskikte langtermyn ekonomiese beleid van die regering. Dit sluit in strenger politieke kapitaalallokasieprogramme soos BEE, onteiening sonder vergoeding (OSV) en die algemene uitbreiding van staatsbeheer oor die ekonomie. Ondernemings wat stappe doen om te waak teen blootstelling aan hierdie risiko’s, sal in openbare belang optree,” voeg Le Roux by.

Tax Justice South Africa

Yusuf Abramjee van Tax Justice South Africa (TJSA) sê die minister se verhogings in sondebelasting is ʼn geskenk vir misdadigers in onwettige handel en nóg ʼn knou vir wettige belastingbetalende maatskappye en verbruikers.

“Die swartmark in tabak en alkohol wat weens afsonderingsregulasies ontplof het, sal waarskynlik nog meer buite beheer raak; al hoe minder belasting sal ingevorder word en duisende eerlike lewens sal verlore gaan in aksynsverhogings wat meer as dubbeld die koers van inflasie is.”

Abramjee sê die verhoging in sondebelasting is die ergste moontlike nuus vir Suid-Afrikaners wat moeg is daarvoor om te sien hoe misdadigers al hoe ryker word terwyl hul eie gesinne honger ly.

“Dit is nog ʼn betaaldag vir georganiseerdemisdaad-sindikate wat oor die afgelope jaar alkohol en tabak by hul gewone portefeulje van dwelmmiddels, beskerming en prostitusie gevoeg het. Onwettige netwerke wat die mark oorstroom het met sluikhandelprodukte en produkte waarop daar nie belasting betaal word nie, sal selfs dieper wortel skiet en die impak sal jare duur om om te keer. Die belasting wat die regering verloor het weens afsonderingsregulasies is meer as dubbel die bedrag wat hy aan die entstofprogram wil spandeer. Dieselfde wetsgehoorsame bedrywe, wat deur daardie regulasies geraak is, word nou geteiken om ʼn regering te help wat soveel geld verkwis het,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Elsabe ·

Ek verstaan nie ‘n snars nie. Sal maar net voort plodder die dae in en uit. En so gaan jou lewe verby, plodder-plodder.

Dries ·

Elsabe moenie bekommerd wees nie. Die aNC self verstaan nie n snars wat is hulle besig om te doen nie

My siening ·

Die foto is pateties en arrogant en dit is die top punt van magsvertoon. Net die ANC kaders dink jul is snaaks. Julle het die land vernietig en is trots daar op!

Johan ·

Janee,die manne staan breeë bors oor die reuse suksesse wat hul kundige bosvegters die land aandoen.

Paul ·

Hierdie is die laaste negatiewe uitlating ooit in my lewe – diè land sou ‘n beter plek gewees het sonder hulle.

annie ·

Dit is hoogtyd om regtig vas te stel hoeveel mense in die land is want ons sorg vir baie uitlanders. Geen nuwe skole word gebou nie maar die toeloop jaarliks is 1 miljoen. Waarom word geboortebeperkings nie aangemoedig nie (maar aborsies is aan te prys). Glo ons regering werklik steeds dat Afrika-die-natuurkind altyd kan maak of hy so onskuldig is en dat sy skuld maar die een of ander tyd weer deur die ‘wèreld’ afgeskryf sal word. En om die bevolking ‘te groei’ simpatie sal wek sodat gratis entstof en gratis geld forever sal invloei?

Dirk Mostert ·

China se lenings is nie gratis nie. Hulle besit reeds die Piraeus-hawe by Athene, wat sekuriteit vir lenings was.

Kompas ·

Kan net nie glo dat hul alweer miljoene rande begroot om SAL uit hul gemors te help Nee regtig!

Pieter ·

Dis logies…. anders kan hulle nie die land – en die wereld – vol vlieg op die belastingbetaler se geld nie!

Dirk Mostert ·

Dis maar net om die vakunies ter wille te wees. Om die oordadige poste in SAL te beskerm.

Mallie ·

Miskien is ek net stupid. Ek verstaan nie so mooi hoekom CR die president is nie. Is hy nie veronderstel om die land te regeer nie? Waar kom al die nonsens vandaan.

Surfer ·

En so hou die ANC sirkus aan. Meer biljarde vir SAL, ESKOM en Landbank sodat daar net meer is om te stel. CR moet mos na sy Comrades kyk, anders fluit hulle deuntjies.

Francois Le Cochon ·

“Sin tax” kon meer verhoog het in plaas van die bykomende belasting op brandstof.

Dirk Mostert ·

Ons moet dankbaar wees dat daar iets is om oor dankbaar te wees in die begroting, nl. belastingkoerse wat nie gestyg het nie. Verhoogde belasting op rook en drank styg om op te maak vir die afgelope jaar se swak opbrengs. Nou hoekom was die belastinginkomste op daai items so laag? Soos Escom se tariewe wat styg om op te maak vir minder krag gebruik weens beurtkrag en Escom se aanmoediging op TV om krag te spaar.

JohanR ·

Suid Afrika it al twee arms in die lig vir die dag dat die ANC ge #Voertsak het!

Sylvia ·

Wonder wie se idee was dit dat die “pose” geneem moes word, dit lyk komieklik en potsierlik, maar ek verstaan nou die begroting beter, dit is eintlik ‘n komedie wat voorgedra/opgevoer is, daarom die komiese “pose”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.