Reaksie op Gautengse provinsiale rede: ‘Een stap vorentoe en ʼn duisend terug’

Panyaza Lesufi, premier van Gauteng, Maandag tydens ’n mediakonferensie na afloop van die provinsiale rede. (Foto: Gauteng Provincial Government)

Een stap vorentoe en ʼn duisend terug. Dít is wat die afgelope 30 jaar met Gauteng onder die ANC gebeur het, het adv. Anton Alberts, VF Plus- nasionale voorsitter en lid van die wetgewer in Gauteng, Donderdag gesê in reaksie op Panyaza Lesufi, premier van Gauteng, se provinsiale rede.

“Al die voorbeelde wat premier Lesufi voorgehou het as vooruitgang, dien eerder as bewys van agteruitgang. Hierdie agteruitgang is veral in die provinsie se ekonomie sigbaar. Die nasionale én provinsiale regering is bankrot en kan nie meer programme finansier soos nodig nie.”

Meer werksgeleenthede, verbeterde veiligheid, ʼn florerende ekonomie, minder misdaad, beter energieoplossings, nuwe skole en ʼn einde aan e-tol teen Maart vanjaar. Dít is maar net ʼn paar van die beloftes wat Lesufi Maandag in sy provinsiale rede by Nasrec aan inwoners van dié provinsie gemaak het.

Alberts meen egter die ekonomie is vernietig deur 30 jaar van wanbestuur, korrupsie en staatskaping deur tenderpreneurs wat steeds plaasvind.

“Om voorbeelde soos die Nelson Mandela-brug in Johannesburg en die sokkerstadion by Soweto voor te hou as infrastruktuurontwikkeling, is om na strooihalms te gryp. Almal kan sien hoe die provinsie se infrastruktuur agteruitgaan. Die duisende kilometers grondpaaie in townships, slaggate in provinsiale paaie en ʼn gebrek aan openbare skole is enkele voorbeelde.”

Die provinsie is só swak bestuur dat ʼn snelwegstelsel wat al voor 1994 afbetaal is, oornag in ʼn tolpad verander is. Dit word deur al die inwoners van Gauteng verwerp en ten spyte daarvan is dit nog steeds ʼn tolpad, het Alberts in reaksie gesê op die soveelste belofte dat e-tol afgeskaf gaan word.

“Wat misdaad betref, is dit ironies dat Gauteng ondanks al sy hommeltuie, kringtelevisie, veiligheidskameras, paniekknoppies en nuwe vredesbeamptes die hoogste misdaadvlakke ooit beleef. Al die foefies in die wêreld kan ʼn swak regering nie beter maak nie.”

Al wat die premier in sy provinsiale rede gedoen het, was om onvervulde beloftes in ʼn pakkie met nuwe beloftes toe te draai om die kiesers te mislei in ʼn desperate poging om nie die mag te verloor nie, sê Alberts.

“Hierdie en ander tierlantyntjies rakende misdaadbekamping, township-ontwikkeling, sonplase en die beëindiging van e-tol is duidelik voorverkiesingsfoefies.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Papsak ·

Ja in 30 jaar se tyd kan jy duidelik die agteruitgang sien daar is geen maar geen vooruitgang in die land nie die regering en Lesufi kyk net hulle self kyk die korrupsie die wanbestuur in alles kyk hoe lyk die paaie kyk die drinkwater om nie eers te praat van loadshedding nie en noem maar op kyk petrolpryse kos pryse wanbestuur alles is die hoogte in alles foefie stories nee wat hulle moet uit hoelank wil die mensdom vat om dit raak te sien se my maak oop julle oe en stem reg tyd het gekom lig hulle uit vinnig ook!!!!!!

Jakes ·

Van een nar na n ander. Lesufi moet besef wat met Pinochio gebeur elke keer as hy gejok het. Dit geld vir die hele ANC. Beloftes wat nooit realiseer nie. Reeds oor 30 jaar bewys.

skurweberg ·

Iemand wat so regeer het, realiteit met die werklilheid verloor, raak ontslae van hom

skurweberg ·

Iemand wat so regeer, het realiteit met die werklilheid verloor, raak ontslae van hom

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.