Reaksie op Gigaba se begrotingsrede

Minister Malusi Gigaba. Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Malusi Gigaba, minister van finansies, het Woensdag sy begrotingsrede gelewer. Verskeie partye en organisasies het hierop reageer.

Demokratiese Alliansie

Alf Lees, die DA se skaduminister van finansies, het gesê Gigaba se begroting benadeel die armes en is ʼn nalatenskap van Jacob Zuma se rampspoedige bestuur van die ekonomie van Suid-Afrika.

“Die verhoging van belasting is simptomaties van ʼn ANC-regering wat versuim om vooruit te beplan en die nodige kostebesparings in te stel om gewone burgers teen armoede te beskerm,” het Lees gesê.

“Vandag se aankondigings is ʼn yslike hou vir arm Suid-Afrikaners. Dit sal ekonomiese groei en werkskepping belemmer.”

Lees het bygevoeg die 1%-verhoging op BTW is ʼn klap in die gesig van miljoene Suid-Afrikaners wat daagliks sukkel om kos op die tafel te sê. Die verhoging, tesame met die verhoging van die brandstofheffing, sal arm Suid-Afrikaners dwing om meer te betaal vir basiese goedere, dienste en vervoer.

“In plaas daarvan dat die minister beslissend optree en verkwistende uitgawes sny, het hy voorstelle gemaak wat dienslewering sal verswak, waaronder:
– gedeelte van die begroting wat aan provinsies toegeken word, word met R4,7 miljard gesny;
– voorwaardelike provinsiale toelaes, hoofsaaklik menslike nedersettings en opleidinginfrastruktuur, word met R13,7 miljard gesny;
– toelaes vir plaaslike regerings word met R16,1 miljard verminder;
– voorwaardelike toelaes, wat geld vir nuwe skole insluit, word met R13,9 miljard gesny;
– indirekte toelaes word met R2,2 miljard verminder; en
– die polisiediens sal met 2 000 personeellede verminder word.

“Die besluit om geld vir nuwe skole en polisiebeamptes te sny, is ʼn risiko vir die toekoms en veiligheid van ons mense.”

Lees het bygevoeg die R57 miljard oor die mediumtermyn om arm studente te finansier vir hoër onderrig, lyk dalk soos ʼn stap in die regte rigting, maar dit is nie volhoubaar nie en versuim om die ware aard van die probleem aan te spreek met dekades van chroniese onderbesteding van dié bedryf.

Vryheidsfront Plus

Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het gesê Suid-Afrika se begroting wat vandag deur minister Malusi Gigaba aangekondig is, is in vele opsigte teleurstellend en het net onderstreep hoe groot die land se finansiële probleme werklik is.

“Die minister het nie die geweldige skuldlas van die regering wat deur voormalige president Jacob Zuma se administrasie veroorsaak is, daadwerklik aangespreek nie.

“Die verwagte groeikoers van 1,5% vir 2018/19 en 2,2% in 2020 is nie genoeg om die ekonomie sodanig te laat groei dat dit ʼn wesenlike impak op werkskepping gaan hê nie, veral nie as in gedagte gehou word dat meer as ʼn miljoen mense jaarliks die arbeidsmark betree nie.”

Groenewald meen om te sê die regering gaan oor die volgende drie jaar R85 miljard spaar skep wel die indruk hy wil bespaar, maar net die rente op regeringskuld beloop tans R198 miljard per jaar. “Die besparing is dus ʼn druppel aan die emmer.”

Die minister het ook geen aanduiding gegee wat gedoen gaan word om besparingsmaatreëls in te stel nie.

“Wat BTW aanbetref, is die VF Plus tevrede daarmee dat dit met een persent verhoog is, aangesien dit belangrik is dat die land se belastingbasis verbreed word. Die VF Plus het lank reeds gevra dat BTW verhoog moet word, in stede daarvan dat persoonlike belasting buitensporig verhoog. Op die oomblik word dit van sowat 5 miljoen belastingbetalers uit 55 miljoen landsburgers verwag om die belastingjuk alleen te dra. Daar kan nie van ʼn sekere groep verwag word om net meer en meer belasting te betaal nie.”

Basiese voedsel soos meel, bruinbrood en rys word uitgesluit van BTW en die verhoging sal die heel armstes feitlik nie raak nie.

Die VF Plus sê ook dat die bykomende heffing van 52 sent op die brandstofprys nie bloot in die belastingmandjie moet beland nie, maar dat dit eksklusief aangewend moet word vir Padongelukkefonds (POF) en vir die land se paaie-infrastruktuur.

Wat gratis hoër onderwys aanbetref moet daar ʼn voorwaarde wees dat studente wat kwalifiseer, hul akademiese jaar moet slaag, anders sal dit ʼn blote vermorsing van belastingbetalers se geld wees.

Congress of the People

Mosiuoa Lekota, leier van Cope, het gesê Gigaba se begrotingstoespraak het versuim om enige werklike oplossings te bied vir die land se probleme.

“Die las word nou op die belastingbetaler geplaas en arm mense gaan hieronder ly,” het hy gesê.

Lekota het bygevoeg dit wil voorkom of pres. Cyril Ramaphosa huiwerig is om die burokrasie aan te spreek en as hy dit sou doen, sal die land begin geld spaar. Hy het gesê Ramaphosa was Zuma se adjunk en kan nie nou aanvoer dat hy nie geweet het wat aangaan nie.

“Hy was die afgelope vyf jaar adjunk, ons moenie vergeet dat hy weet wat aangegaan het nie. Hy was deel van hierdie ding dat Zuma moes gaan, maar het nie gedink oor wat hy nou gaan doen nie,” het Lekota gesê.

“Ons wil sien dat geld begin bespaar word, sodat ons hierdie skuld kan begin hanteer.”

AfriForum

Die burgerregte-organisasie AfriForum is van mening dat Gigaba en die ANC-regering se vryery na gratis hoër onderrig blote politiekery is. AfriForum glo dat gratis hoër onderrig opgestel is om te misluk.

Gigaba het in die begrotingsrede aangekondig dat uit ʼn totaal van R324 miljard wat vir hoër onderwys en opleiding geallokeer is, die bedrag van R57 miljard aan ingefaseerde gratis hoër onderwys oor die volgende drie jaar toegeken word; hiervan sal R12,4 miljard na behoeftige eerstejaarstudente in 2018/2019 gaan.

“Die regering voer aan dat gratis hoër onderrig ten doel het om aan arm mense die geleentheid te gee om universiteit toe te gaan. Dít terwyl slegs 5% van arm mense toelating tot universiteit kry as gevolg van die swak toestand van Suid-Afrikaanse skole,” sê Monique Taute, nasionale woordvoerder vir AfriForum.

Taute voeg by dat 63% van studente wat deur die Nasionale Studente Finansiële Hulpskema (NSFAS) gehelp word, binne vyf jaar op universiteit uitsak – ’n verdere bewys dat gratis hoër onderrig bestem is om te faal. Slegs 8% van diegene in Suid-Afrika met ’n naskoolse kwalifikasie het dit binne ses jaar behaal. “Stel jou voor wat die uiteinde hiervan sou wees as gratis universiteite en kolleges sou realiseer,” sê Taute.

“AfriForum meen dat die geld beter aangewend kan word deur ons skolestelsel reg te ruk. As 80% van ons skole nie wanfunksioneel was nie, kon dít help om die onaanvaarbare hoë uitsaksyfer op universiteite en kolleges drasties te verminder,” het sy bygevoeg.

Solidariteit

Die vakbond Solidariteit het vandag sy misnoeë uitgespreek oor die begrotingsrede wat in die Nasionale Vergadering gelewer is.

Volgens Gerhard van Onselen, ekonomiese navorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut, sal die 2018-begroting ʼn verdere demper op ekonomiese groei plaas. “Daar is geen waarneembare afwyking van die skadelike ANC-beleid waarmee ons al jare te kampe het nie. Trouens, hoër BTW en brandstofbelasting sowel as geen werklike teken van reële besnoeiing aan staatsbesteding nie, plaas die ekonomie op ʼn daadwerklik swakker basis,” het Van Onselen gesê.

Van Onselen voer aan dat belastingbetalers en verbruikers die swaar las van die ANC-beleid sal moet dra.

Van Onselen sê voorts dat al die optimisme ná pres. Ramaphosa se staatsrede oor die inperking van staatsbesteding misplaas was. “Dit blyk dat hierdie begroting ʼn voortsetting is van die bou van lugkastele op skuld,” het Van Onselen bygevoeg.

United Democratic Movement

Nqabayomzi Kwankwa, UDM-LP, het by ander opposisiepartye aangesluit en Gigaba se verhoging op die BTW veroordeel. “As mens na die begroting kyk, dan leef ons in moeilike tye. Daar moet nou moeilike besluite geneem word, en ons verstaan dit.” Hy het egter bevraagteken waarom korporatiewe belasting nie verhoog is nie.

“Daar is wel positiewes soos gratis hoër onderrig, maar die toespraak is grootliks ʼn antiklimaks ná die staatsrede deur pres. Ramaphosa.”

South African Federation of Trade Unions

Zwelinzima Vavi, sekretaris-generaal van Saftu, het Gigaba se begroting as ʼn “aanval op die land se armes” beskryf. “Ons is baie kwaad oor hierdie persentasieverhoging op BTW. Die armes sal erger hieronder ly as enigiemand anders.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Lisa Gird ·

Ek is verpletterd dat ons Ou mense so min geldtjies moet kry, hoe op aarde moet hulle leef, Wat eet hulle na hul verblyf moet betaal en nie te praat van medisyne ens. Ek wonder of ons Politiekis op daardie patetiese bedrag geld moet lewe.

Francois le Cochon ·

Hoekom? Ou mense behoort niks van die staat te kry nie. Hulle het om en by 45 jaar gahad on te voorsien vir hulle oudag. As hulle dit nie gedoen het nie, is dit hul eie skuld. Hoekom moet die belastingbetalers vir hulle sorg?

Robert ·

Ek is baie bly dat die sogenoemde “poor” ook sal moet bydra tot die tekort. Gewoonlik is dit net die belasting betaler wat die onderspit moet delf maar nou is almal aan die betaal kant

S&I ·

Ongeag al die klagtes teen en oor hom as Min. van Finansies. Om ‘n 2 uur+ lange Begrotingsrede te lewer, sonder om dit af te lees, te soek vir woorde, syfers, persentasies, ens. korrek uit te spreuk, feite te herroep, skrywers aan te haal en nog meer dink ek hy verdien ‘n applouse. Welgedaan Min. Gigaba, daar is nie baie mense (van enige party of ras) in ons land wat hierdie moeilike Begrotingsrede met soveel waardigheid en professionaliteit kon lewer nie. #Respek

JM ·

Geagte S&I dit lyk vir my jy stem ook vir die ANC want jy moet bietjie dink en logika gebruik om te kan sien dat Gigaba en Ramaposa die mense ‘n rat voor die oe draai

Johan. H. ·

Ja moet die man krediet gee, niks afgelees nie en hy ken getalle, Puik

Fred ·

Dis vir my verbasend dat ons mense wat nou tyd mors met kommentaar lewer oor ‘n goeie toespraak. Die punt is dat dit gaan oor die begroting en die effek op die ekonomie en mense van hierdie land en ons toekoms en ons kinders en kleinkinders s’n. Dis hoekom Gigaba ‘n politikus is, om ys aan al die eskimos te verkoop. Net my opinie, die begroting lyk maar vrot en mis Ramaposa se voorneme van beperking van staatsbesteding ens

Andre ·

CR speel `n gevaarlike spel.

Hy laat Gigaba die budget lees sodat hy die skuld gaan dra, dan gaan CR hom verwyder na `n paar dae en die lof vir dit vat. Maar die budget gaan nie verander en ons almal gaan sukkel. As die budget onder Zuma se regering gelees was so die reaksie baie naders wees.

Mense moet ophou om so `n hoop in CR te sit, julle gaan sleg tweede kom!

Dirk Swart ·

Glo jy werklik dat hy daardie hele toespraak gememoriseer het ? Geen wonder dat mense so maklik misleibaar is nie. Al gehoor van “tele promt ” ?

Terugvoering ·

Francois jy wat se die oumense verdien nie pensioen nie het jy al gedink ek glo nie so nie dat daai oumense ook n bydra gemaak het vir 45 jaar tot die staatskas,het jy verder gedink dat van die oumense soos jy na hulle verwys miskien vir die spoorwee gewerk het so die vrou se staats pensioen help,het jy gedink dat daar skelm makelaars was waar die oumense hulle hard verdiende pensioen bele het,het jy verder gedink ek glo nie jy het nie laat jy ook eendag in dieselfe sutsiasie kan wees dat dit al inkomste is wat jy kan verdien so hou op klippe gooi na die oumense en nee ek is nie n oumens nie eks 45 jaar oud groete vir al die oumense en behou julle waardigheid

BB ·

S&I na my mening kon hy dan liewers sy brein kapasiteit tot voordeel van die land en sy mense aangewend het. Wat help dit hy dat hy foutloos uit die vuis kon praat as dit nie veel beteken nie.

Mien ·

Dankie Terugvoering dat jy meer begrip en insig het as Francois. Die polisse met die groot premies wat ons uitgeneem het toe ons jonk was, terwyl ons geldjies maar skraps was, is nou nie veel werd nie. Die probleem is nie die oumense wat hulle lewe lank hard gewerk het en nog steeds hard werk nie, maar die mense wat dink hulle kan maar bakhand staan en net kry en kry ……..

BOLANDER ·

Francois, jy het geen benul waarvan jy praat nie. Hoop jy word vergewe waneer jy jou kop vir die laaste keer neer lê

Perspektief ·

Die staatsamptenare, is in die diens van die publiek…die vergoedings-pakkette is heeltemal te hoog, asook hul motor-toelae..sulke duur motors kan met hul persoonlike inkomste bekom word…ek verstaan dat daar wel nou beter beheer toegepas gaan word op dit . Ampswonings en die onderhoud daarop is ook nonsense…ons gewone burgers kan dit doen met n salaris, so kan hulle ook…

Gratis higher education”, is n pyp droom…ek moes my eie studies betaal en daar is hulpmidels soos “eduloans” wat “arm” studente kan help…maar die lening moet terug betaal word…lees gerus weer afriForum se komentaar hier-bo .

Elkegeval, as gratis higher education ” wel toegestaan gaan word, dan soek ek my “backpay” en rente daarop,…hoekom moes ek daai skuld aangegaan het om te swot en die nuwe studente hoef nie…dit moet deur die bank geld en dan terugwerkend wees!!

adriana ·

Ai Francois, kry jou jammer.
Dink asb weer oor wat jy kwytraak.
Dit gaan jou in die hakskeen byt.
Jy gaan ook oud word en dan gaan jy dalk nog eendag aan hierdie stukkie kommentaar dink van jou vandag.

Leonie ·

Ek stem 100% saam met jou Adriana. My ouers kry ook SASSA geld en ek het nie ‘n idee hoe hulle met dit uitkom in ‘n maand nie.
Francois jy moet mooi onthou, baie firmas het gladnie ‘n pensioenfonds nie. Hoe dink jy moet die mense leef? Ons sal kyk as jy die dag oud is.

Casper Labuschagne ·

Hoe meer die regering die sondebelasting op drank en sigarette verhoog, hoe meer geld verloor hulle, want ek kan regtig nie meer bekostig om te rook of te drink nie!

;-)

natri ·

Francois,
Ryk ouers gehad seker om verder te kan studeer.
Geleerd met goeie pensioen en ‘n massiewe salaris.

Ons wat nie die kans gehad het om te studeer nie , en tog hard gewerk om die land te probeer opbou het elke liewe maand ons belasting aan die staat betaal.
Waarvoor mag ons nie nou ons deel terug te kry nie?

Mag jy skatryk en lekker oud word en nie nodig het om staatsgeld te ontvang nie.

GAAN ONTVANG DIT EN SKENK DIT AAN IEMAND WAT DIT OPREG SAL WAARDEER.
“SHAME FOR YOU”

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.