Reaksie op hulppakket: Aankondiging verwelkom, maar …

Miljoene mense wat reeds in armoede leef, benodig nou ook dringend voedselhulp. Pres. Cyril Ramaphosa het R500 miljard beloof om die land weer op sy voete te help. (Foto: Twitter)

Die hulppakket wat pres. Cyril Ramaphosa Dinsdagaand aangekondig het om die land weer ná die Covid-19-pandemie op sy voete te help, is grootliks verwelkom. Daar was wel vrae oor sommige aspekte daarvan.

Ramaphosa het onderneem om Donderdag fyner detail oor die hulpverleningspakket van R500 miljard bekend te maak.

Dit moet broodnodige verligting aan Suid-Afrikaners bring deur verhoogde toelae, belastingverligting, hulp vir sakeondernemings, bykomende gesondheidsorg en voedselhulpprogramme.

DA: Geleidelike heropening van ekonomie verwelkom

(Foto: Helpende Hand.)

Die DA-leier, John Steenhuisen, sê talle van die maatreëls wat Ramaphosa aangekondig het om die uitwerking van die Covid-19-pandemie teen te werk, is voorstelle waarvoor die amptelike opposisie reeds lankal vra.

Die party het die geleidelike heropening van die ekonomie verwelkom. “Die president het ons steun vir die inwerkingstelling van die ingrypings. Hy het ook ons steun vir die ekonomiese hervorming waartoe hy verbind is, omdat die R500 miljard-inspuiting daarsonder kortstondig en uiteindelik ʼn vermorsing sou wees.

“Dit is bemoedigend dat die president praat van die heropening van die ekonomie in fases wat gegrond is op ʼn risiko-aangepaste grondslag wat berus op wetenskaplike bewyse. Dit is in wese die Slim Afsonderingsplan wat die DA verlede week voorgestel het en is broodnodig om ons ekonomie weer te begin opbou.”

Steenhuisen sê die party gaan later vandag in meer detail op die hulppakket reageer.

ANC: ‘Wakker inklusiewe ekonomiese groei aan’

Die sekretaris-generaal van die ANC, Ace Magashule, sê die hulppakket gaan vraag en aanbod stimuleer, infrastruktuurprojekte ʼn hupstoot gee en sorg vir die spoedige inwerkingstelling van ekonomiese hervorming wat inklusiewe ekonomiese groei kan help aanwakker.

“Dit is tekenend van die regering se verbintenis om gewone mense in die middel van die ontwikkelingsagenda te plaas, veral die armes en werkersklas,” sê Magashule.

VF Plus: ‘Gelykheid moet geld’

(Argieffoto)

Die VF Plus meen egter daar is sekere aspekte van die stimuluspakket waarvan die detail ontbreek en sê die nuwe maatskaplike toelaes wat betaal gaan word, moet met omsigtigheid benader word. Die party waarsku dit kan in die toekoms moeilik weggeneem word.

“Dit is belangrik om nie afhanklikheid van die staat daar te stel nie, maar eerder werkskepping en sakeontwikkeling moontlik te maak. Die fokus is sterk op die armes en kwesbares van die land, maar dit is belangrik om in ag te neem dat die definisie van kwesbares in Suid-Afrika verander het. Mense wat voor die inperking nie kwesbaar was nie en deel was van die middelinkomstegroep wat toe werk verskaf het, is nou kwesbaar,” het dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, gesê.

Die party hou vol dat geen hulp aan bemagtigingsvoorwaardes gekoppel mag wees nie.

“Gelykheid moet geld.”

Groenewald sê besonderhede oor lenings aan sakeondernemings ontbreek grootliks en dit is nie duidelik wat die terugbetalingsooreenkoms gaan behels nie. Aspekte soos die rentekoers en of dit op ʼn uitgestelde terugbetalingsgrondslag gaan geskied, is nie bekend nie.

EFF: Diversifiseer voedselwaardeketting

(Argieffoto: PnP)

Die EFF het die verhoging in maatskaplike toelae verwelkom en eis dat geen politikus by die verspreiding van voedselhulp betrokke mag wees nie. Die EFF sê dit lei tot nepotisme, diefstal en die verspreiding van hulp op ʼn partypolitieke grondslag.

Die rooi barette sê die belangrikste aspek is dat die hele voedselwaardeketting hervorm moet word, omdat dit tans oorheers word deur wit boere op produksievlak, multinasionale maatskappye wat produkte verpak en groot kettingwinkels op kleinhandelvlak.

“Die Suid-Afrikaanse regering moet betrokke raak by doelbewuste en besliste pogings om die hele waardeketting te diversifiseer omdat dit in sy huidige formaat wit boere, multinasionale maatskappye en wit kleinhandelaars bevoordeel.

“Die Suid-Afrikaanse ekonomie moet die demografie van die land begin weerspieël wat betref eienaarskap en beheer. Intussen moet swart kleinboere in die waardeketting opgeneem word en al die steun kry wat hulle benodig.”

Cosatu: ‘Staatsamptenare dra SA’

Cosatu se hoofkantoor in Johannesburg. (Foto: Twitter)

Die vakverbond Cosatu het die hulppakket verwelkom. Die regering het R40 miljard beskikbaar gestel om werkers te help wat afgelê of op onbetaalde verlof is. Cosatu sê dit is egter onaanvaarbaar dat net 2% van die geld wat vir hulle bestem is, werkers reeds bereik het.

“Cosatu hoop dat die kwessie oor die nie-betaling van salarisverhogings vir staatsamptenare by die koördinerende bedingingsraad vir die openbare sektor (PSCBC) bygelê kan word. Dié werkers verdien beter, veral noudat hulle die land moet dra,” het Sizwe Pamla, Cosatu se nasionale woordvoerder, gesê.

Die vakbond het ook die verbintenis tot infrastruktuurbesteding verwelkom, asook die beginsel dat die ekonomie geleidelik oopgestel gaan word. Cosatu sê werkers se veiligheid moet prioriteit geniet.

Cosatu sê elke sent moet aangewend word vir dit waarvoor dit geoormerk is en geen korrupsie mag geduld word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Burgermeester ·

Kyk, … die woorde ‘inklusiewe ekonomiese groei’ dui weereens daarop dat die hulppakette net na sekere mense gekanaliseerd toe sal word. Alle befondsing wat die regering aan raak verdwyn in ‘n bodemlose put, of vind hulle weg na ‘n kader se beursie. Ek hoop ‘n ekonoom/ verslaggewer hier tussen ons kan vir my verduidelik hoe Suid Afrika van plan is om die geld terug te betaal wat Cyril nou so mildelik uitdeel. Het Cyril Ramaphosa en die ANC, Suid Afrika alreeds aan China verpand?

Johan ·

Waar gaan ons R500 miljard kry en as ons dit leen hoe gaan ons dit terugbetaal. Ons is nou op rommelstatus, Gaan seker weer petrolheffing instel.

Juliet ·

Kyk, ek wil nie in die President se skoene wees nie en het ook nie al die antwoorde nie, MAAR, ek dink dit is uiters kortsigtig om toelae “tydelik” te verhoog. Die wat reeds toelae ontvang, was VOOR Covid19 reeds gewoond aan x bedrag en hul kry dit steeds ten spyte van besighede wat toe is. Dis nie HULLE wat nou skielik nie inkomste het nie. En, nou verhoog jy vir ‘n klein tyd en wat gaan gebeur as hul dit weer verlaag? Betogings en munisipale geboue afbrand?

Cherokee ·

VF Plus se reaksie maak dit duidelik waarom die party die stem van die regdenkende blanke opraap.

Boortor ·

Ek se ook hy moet help. Hulp is goed as die regte mense gehelp word. Die wit besighede gaan maar niks van hierdie hulp sien nie. Gewaarborg. Maak nie saak hoeveel geld hulle bewillig nie, dit beland in die verkeerde sakke. Om die toelaes weer af te bring gaan nie werk nie, hulle gaan alles afbrand en verniel. Ek was nog altyd positief maar nou wonder ek ernstig. Hoop maar iemand wil nog SA he na dese.

Carina ·

Die meeste hulp klink my gaan aan die mense wat reeds elke maand Sassa geld kry. Maar wat van die mense wat nou hul werk verloor het en geen inkomste het nie? Hulle is die mense wat geld nou die nodigste het. Asook die besighede wat moes toemaak of gedeeltelik toemaak. Daar kom nie geld in nie want kliënte betaal nie hul rekeninge nie. Waar moet die geld vandaan kom om die besigheid aan die gang te hou? End van die maand soek SARS steeds sy deel, en dis ‘n groot uitgawe aan PAYE, UIF en VAT. Die 35% wat jy kan terughou beteken niks. Een of ander tyd moet dit betaal word. En hulle maak dit vir besighede ontsettend moeilik om vir hulp aansoek te doen. Dis amper nie die moeite werd nie. En wat gaan die terugbetalings voorwaardes, termyn en rentekoers wees? Nee wat, die geleende hulp help niks.

Gerhard ·

Cosatu is altyd groot-bek en uitgesproke oor alles…maar wat het hulle al bygedra tot enigiets konstruktiefs in hierdie land ??

Jacobus ·

Meeste kommentators het klaar tussen lyne gelees. Sekere kaders is klaar besig om hulle na-aan trog te posisioneer. As ons President ongeskonde deur al die rowwe waters wil kom beter hy regverdig wees en hom nie van sy melkkoei belastingbetalers vervreem nie.
Hy moet hom ook weerhou van klappe na gewone burgers wat op die stadium hulle huishulpe en tuinwerkers ten volle betaal sonder dat daar die vaagste hoop is dat hulle vergoed sal word. Ons doen dit omdat die regte ding is en nie omdat ons deur breindood politici geskel word nie.

Agge nee ·

Ek bel vanoggend my huishulp. Ek bel elke tweede dag om te hoor hoe dit gaan en of daar nood is. Ons praat oor die ekstra geld vir kinderpensioen. Sy vra vir my; Maar mevrou, waar kry hulle die geld as die kliniek vir almal vertel dat daar nie geld is vir medisyne nie. Hulle moet liewer vir die klinieke medisyne gee dan help dit almal. Ek het geen antwoord gehad vir haar nie.

Sonneblom23 ·

Ek voel dat ipv R500 se kontant meer gee elke maand moes hul eerder vouchers/coupons gegee het. Kom ons wees eerlik, hoeveel van die armes gebruik werklik daai geld om vir hul kinders kos en benodighede te koop en hoeveel gebruik dit vir drank, dwelms en dobbel? Hoeveel het 3+ kinders wat nou daai geld gaan mors en verwag dat organisasies weekliks vir hul kinders moet kos voorsien?

DieKriek ·

Sjina loer al lank om SA te koop. Ek dink die R500 miljard is die finale paaiement.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.