Reaksie op pres. Zuma se staatsrede

Pres. Jacob Zuma en speaker Baleka Mbete. Foto: DoC

Pres. Jacob Zuma en speaker Baleka Mbete. Foto: DoC

Opposisiepartye en ander organisasies het grootliks negatief reageer op pres. Jacob Zuma se staatsrede vir 2015.

Die DA het gesê die ANC en die EFF het die parlement Donderdagaand in ʼn nasionale verleentheid verander. “Die parlement is Donderdagaand in ʼn sirkus verander, maar Vrydag is die land se elektrisiteitskrisis steeds daar, werkloosheid is steeds daar en misdaad gaan voort om ons gemeenskappe te teister,” het Mmusi Maimane, parlementêre leier van die DA, gesê.

Die DA se LP’s het Donderdagaand uit die Nasionale Vergadering gestap kort nadat EFF-LP’s hardhandig verwyder is. Donderdagaand se sitting was “niks kort van ʼn ramp en ʼn belediging vir Suid-Afrikaners nie”, het Maimane gesê.

Floyd Shivambu, EFF-LP, het intussen gewaarsku dat die party volgende keer gewapen sal wees wanneer die parlement se beskermingsdienste hulle konfronteer. Julius Malema, leier van die EFF, het die regering daarvan beskuldig dat hy nie met “politieke antwoorde” op “politieke kwessies” reageer nie maar met “veiligheid apparaat”.

Die Vryheidsfront Plus het gesê Zuma het die geleentheid gemis om deur die staatsrede hoop en sekerheid te bring vir die toekoms. “Die staatsrede was oninspirerend en ʼn herhaling van die ou bekende sake sonder enige nuwe inisiatiewe. Die ANC se korrupsie en onbevoegdheid regverdig nie die minagting van reëls en wet en orde nie,” het dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus, gesê.

Die vakbond Solidariteit het gesê die parlementêre wanorde is ʼn wekroep vir die burgerlike samelewing. “Die staatsrede van 2015 is meer as net ʼn verleentheid en terugslag vir die parlement se waardigheid en die publiek se vertroue in dié instelling. Dit is veral ʼn wekroep vir die burgerlike samelewing om te organiseer ten einde die vakuum, wat deur ʼn parlement in wanorde gelaat word, te vul,” het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van die vakbond Solidariteit, gesê.

Die burgerregte-organisasie AfriForum se reaksie was ook kort en kragtig. “Die parlement het ontaard in ʼn sirkus met ʼn paar honderd hansworse wat elk ʼn miljoen rand per jaar van belastingbetalers se geld as salaris ontvang en geen bydrae lewer om gewone mense se lewe te verbeter nie. Onder Jacob Zuma en Julius Malema se gebrek aan leierskap word Suid-Afrika die bespotting van die internasionale gemeenskap,” het Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum gesê. “Niks anders in gisteraand se gebeure verdien enige verdere kommentaar nie.”

AfriSake het gesê hy sal enige poging om grondbesit te beperk, aktief teenstaan. Dit volg na die aankondiging deur president Zuma dat grondbesit vir landsburgers beperk gaan word en dat buitelanders nie meer grond in Suid-Afrika mag besit nie. Volgens AfriSake se uitvoerende hoof, Cornelius Jansen van Rensburg, sal die organisasie se veldtog plaasvind by wyse van regsaksies, mobilisering van die plaaslike en internasionale sakesektor en aanmoediging van finansiële en ander druk op die regering.

Cosatu het die EFF se optrede tydens Donderdagaand se staatsrede gekritiseer. “Niemand wat ek ken het al enige president ontwrig nie … veral nie in ‘n demokrasie soos ons s’n nie,” het Zwelinzima Vavi, hoofsekretaris van Cosatu, gesê. “Dit was absoluut verkeerd om te ontwrig.”

Mangosuthu Buthelezi, leier van die IVP, was ook teleurgesteld in die onderbrekings tydens Zuma se staatsrede. “Ek was baie teleurgesteld. Hoewel ek saamstem met die algemene ongelukkigheid, dink ek nie dit was die regte manier om dit te hanteer nie…om ons tyd te mors nie.”

Nhlanhla Khubisa, sekretaris-generaal van Nasionale Vryheidsparty, het aan Suid-Afrikaners om verskoning gevra vir Donderdagaand se gebeure in die Nasionale Vergadering. Khubisa het ook gesê pres. Zuma het nie genoeg klem geplaas op werkskepping nie.

Die ACDP het Zuma se staatsrede as “baie oninspirerend” beskryf. “Ek het amper vir die eerste keer aan die slaap geraak. Ek moes buite toe gaan en vars lug gaan kry,” het Kenneth Meshoe, leier van die party, gesê. Volgens Meshoe moes pres. Zuma die land hoop gegee het, maar het hy nie daarin geslaag om dit te doen nie.

Klik hier vir alle vorige berigte oor die staatsrede op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

remondo ·

ons wonderlikke sirkus van n land as ons maar net kon lag vir die sirkus narre. Juju is net n rampokker in n baadjie, die oorpak pas hom dalk as hy een dag se eerlike werk doen sal hy anders reageer. en wat sal ons se oor ons Hoofnar? swaar en donker dae le voor. Eskom in finansieele moeilikheid? Wat dan van alle buitensporige bonusse wat betaal word? Vra maar net.

Barend de Beer ·

Ek was nie eers verbaas of geskok tenopsigte van Donderdag aand se staatsrede nie, baie goeie bewys. Dat die land rampspoedig swaker en slegter word. Baie Baie swak, leierskap en voorbeeld.

Lindie Lourens ·

Mangosuthu Buthelezi, leier van die IVP, aangehaal:. “Ek was baie teleurgesteld. Hoewel ek saamstem met die algemene ongelukkigheid, dink ek nie dit was die regte manier om dit te hanteer nie…om ons tyd te mors nie.
Ek verstaan weer nie. As sommiges ongelukkig is oor salarisse, omstandighede,ens. en daar word nie ag op hulle ongelukkigheid geslaan nie, betoog hulle- dit word goedgekeur deur sekeres. MAAR as die leier van die land en sy organisasie die land se belange en sy burgers se ongelukkigheid ignoreer, word soortgelyke optrede afgeskiet. Die ANC en sy leiers LUISTER en ANTWOORD nie, wat moet die andersdenkendes dan doen? Ons verwag immers van die partye waarvoor ons stem om ons belange te behartig en te “veg” vir ons voortbestaan. Die ANC buit die feit dat die DA en van die ander patye goedopgevoede lede het, uit. Opgevoedes gaan mos nie iemand in die openbaar teë nie, maar ek dink ons het nou genoeg gekruip en ekskuus gevra en ons mooi gedra!

Willem ·

Is ons werklik ‘n Reënboognasie? Dit impliseer tog samehorigheid en ‘n trots in jou land. Is ons dit werklik? Sal ons dit ooit kan wees? Of is dit maar net ‘n manier om mense wol om die oë te sit?

Dries ·

Liewe land Willem word wakker, waar was jy die laaste 21 jaar? Reenboogland het in Kommunistiese Azania verander, kyk om jou rond!

Willem ·

Hehehehe. Dis presies wat ek hier bo beduie, maar dit lyk my jy het dit agterstevoor gelees. Ten minste het ‘n reënboog ‘n pot goud aan die punt, hulle het selfs dit gevat, of laat weg raak, of what ever.

Faan ·

Net wat hulle wou reg kry, n groot sirkus, en nou praat niemand oor die boere wat alleen sonder enige hulp van die staad ons hele nasie van kos voorsien, dat hulle grond, gedeel, weggegee en gevat word. Hulle lag almal in hulle mou, almal praat net oor die sirkus.

Martyn du Plessis ·

Julius Malema gaan die oorsaak wees van die “nag met die langmesse” as hy gaan regeer.
Dit kom, so seker soos ek hier sit. Die swartes is mal oor die tiep van gangster leier.
Zuma is `n vulletjie teen Malema.

chris ·

Martyn.
Wees rustig ,maar wakker Swaer .
Die ding van Afrika-mag speel hom voorspelbaar uit.Los hulle solank jy nie die gemeenskaplike vyand is nie, het hulle net mekaar om te vernietig.Moet Zuma nie onderskat nie,gaan vra maar vir Thabo hy het.

Ilze ·

Die “president” se beplande kern-reaktors laat my met koue rillings. SA se elektrisiteit- en water infrastruktuur tuimel in duie weens gebrekkige instandhouding. Wat gebeur as ‘n kern reaktor nie behoorlik in stand gehou word nie? My kennis op hierdie onderwerp is erkentelik baie beperk, maar lees gerus hierdie Wikipedia plasing: http://en.wikipedia.org/wiki/Chernobyl_disaster
My vrees is dat ons kinders se kinders heel waarskynlik eendag gaan leer van die “South African Disaster”!

magriet ·

ek moet erken, ek het nie geluister wat die man babbel nie, gaan dit ook nie lees nie want ek is besig met belangriker dinge, maar vandag juliusie in die parlement is is ek mal oor politiek. so gee hulle mekaar gas and i love every minute!!!

Narike ·

En daar gaan die eff alweer… ek wil net graag weet hoe hulle by hulle naam uitgekom het? Econimic Freedom Fighters – Econimic (niks aan of in daai party is ekonomies nie, veral nie met Malema se miljoene rande se huise nie of die kar wat nou die dag uit die eff betaal is nie). Freedom (hulle bly klaar in ‘n vrye land, so waar wil hulle weer bevry word? Dalk bevry word van die ANC?) En dan die enigste woord wat hulle pas… FIGHTERS.

Zuma, jou dae is getel….

Elize ·

Zuma voel f …. ol vir Suid-Afrika. Hy dink net aan homself.

Gwen ·

Vir wat is die VF+ nie by die sleutelwoorde ingesluit nie? Kan die redaktrise asb. lig werp hierop?

Dit skep die indruk dat Maroela voorkeur gee aan nuus m.b.t. die DA, die EFF en heel verstaanbaar Afriforum en Solidariteit.

Pieter du Toit ·

Ek sal ook wil wat die redenasie daaragter is dat die VF+ nie deur Maroela belangrik genoeg geag word nie.

Dit spreek teen wat talle lesers beweer dat Maroela apolities is.

Sune van Heerden ·

Dagsê Pieter

Dit was slegs ‘n oorsig, ons het nou dadelik die fout reggestel. Dankie dat jy ons daarop gewys het.
Terloops, die “sleutelwoorde” onderaan is bloot net ‘n skakel na ‘n sleutelwoordargief en ons probeer nie enige klem op enige van die woorde plaas nie.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Sune van Heerden ·

Dagsê Gwen

Dit was slegs ‘n oorsig, ons het nou dadelik die fout reggestel. Dankie dat jy ons daarop gewys het.
Terloops, die “sleutelwoorde” onderaan is bloot net ‘n skakel na ‘n sleutelwoordargief en ons probeer nie enige klem op enige van die woorde plaas nie.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

kippy ·

Hi.

Hoogtans is dit verkeerd om biutelanders te bewys dat geen respek goed keuring weg dra deur sekere LP’s/mense in gemeenskappe.Om ‘n grondwet te implementer word almal se bydrae verwag om ekonomiese groei in SA te bewerk stellig.Een drag maak mag.Steeds glo ek om die party aan stuur van sake te ondersteun asgevolg van die wat my op daardie stoel asgevolg van vertroue te sit,respekteer eerstans hulle verlange en gtrouheid as party,nie om hulle te wys hoe om die leier van die land en sy volgelinge te disrespekteer nie en nog dit noem as deel van demokrasie nie. Julle is daar geplaas om die leidinde party te ondersteun om ekonomiese groei te bevorder in SA.

Dankie vir die geleenheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.