Reaksie op Zuma se kabinet

Pres. Jacob Zuma Foto: digitlab.co.za

Pres. Jacob Zuma Foto: digitlab.co.za

Helen Zille, leier van die Demokratiese Alliansie, het Sondag gesê pres. Jacob Zuma laat Suid-Afrikaners met min hoop dat die probleme doeltreffend aangespreek gaan word.

“Die nuwe kabinet bied nie die vertroue dat Suid-Afrika se grootste uitdagings, naamlik swak ekonomiese groei, werkloosheid en korrupsie, doeltreffend in die president se tweede termyn aangespreek gaan word nie,” het Zille gesê.

Zuma se besluit om sy kabinet uit te brei was, volgens Zille ook ʼn swak skuif. “Die regering kort ʼn meer doeltreffende administrasie, nie ʼn groterwordende uitvoerende komitee nie.”

Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, het gesê Zuma se keuse is gebalanseerd en is uit ervaring gedoen. Hy sê die ANC verwelkom Zuma se “dapper en beslissende” besluit om van die departemente te herorganiseer en ʼn nuwe fokus vir hulle te gee. “Ons glo dat hierdie veranderinge tot groter koste-doeltreffendheid en monitering sal lei.”

Mbuyiseni Ndlozi, nasionale woordvoerder vir die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) het Sondag ook gesê die EFF is besorg oor die grootte van die kabinet wat Zuma aangestel het.

“Dit wil voorkom of president Zuma ʼn besluit geneem het om sy lojaliste met regeringsposte te beloon,” het Ndlozi gesê. “Die gemiddelde uitgawe op elke minister en adjunkminister vir hul motors, huise (in Pretoria en Kaapstad), beskermingsdiens, en vervoer beloop meer as R10 miljoen in totaal. Dit beteken dat bykans ʼn miljard rand op permanente vergadering van 72 ministers spandeer gaan word nog voordat ons kan dink aan kernfunksies en programme wat lewens kan verander.”

Ndlozi het ook gesê dit is jammer dat Zuma nie meer vroue in sy kabinet aangestel het nie.

Dr. Pieter Groenewald, woordvoerder van die Vryheidsfront Plus, het gesê die aanwysing van Bheki Cele as die adjunkminister van landbou, bosbou en visserye, is ‘n belediging vir die landbougemeenskap, aangesien hy as kommissaris van polisie onthef is uit sy pos weens wanadministrasie en korrupsie. “Cele is daarom eintlik nie geskik vir enige uitvoerende pos nie, maar die ANC beskou hom as goed genoeg vir die landbou wat op ‘n eerbare manier voedsel verskaf in Suid-Afrika,” het Groenewald gesê. “Die media het vroeër vanjaar ook berig die Onafhanklike Beskermer se ondersoek het onder meer voorlopig bevind dat Cele nie gekeer het dat geld onreëlmatig verkwis word met die bouwerk by Nkandla nie.”

Cele was sedert Julie 2009 polisiehoof, maar hy is in Oktober 2011 geskors, waarna hy in Junie 2012 afgedank is.

Groenewald sê dit is duidelik dat die regering drastiese grondhervormingsplanne wil deurvoer en nie kans sien dat ‘n persoon soos dr. Pieter Mulder in die uitvoerende gesag is waar hy die regering kan ontbloot vir sy hervormingsplanne nie. “Die waarde van dr. Mulder as adjunkminister van landbou, bosbou en visserye gaan nou eers besef word weens sy afwesigheid wat landbou gewis tot nadeel sal strek.” Landbou is ‘n strategiese bedryf en regverdig ‘n ervare en kundige minister en adjunkminister ter wille van die boere van Suid-Afrikia.

Alex Mashilo, woordvoerder van die SAKP, het die nuwe aanstellings verwelkom en gelukgewens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.