Lede van die Reaction Unit South Africa (Rusa) is op die spoor van twee verdagtes wat Woensdagmiddag glo ʼn reaksiebeampte van National Security in Verulam, KwaZulu-Natal, beroof het.
Volgens Prem Balram, woordvoerder van Rusa, het verdagtes die beamptes net voor 14:00 in Brindhaven, Verulam genader. Die beampte het in sy voertuig gesit.
“Volgens die beampte was een verdagte gewapen en het hy hom [die beampte] opdrag gegee om sy dienspistool en ʼn spaar magasyn te oorhandig,” bevestig Balram.
“Die rowers het glo op sy voertuig losgebrand toe hulle daarna in ʼn silwerkleurige Toyota Corolla gevlug het.”Balram sê lede van die gemeenskap het Rusa ingelig dat hulle geweerskote in die buurt gehoor het. Beamptes is na die toneel en by hul aankoms het hulle ʼn 9 mm-vuurwapen se patrone in die pad aangetref.
“Rusa-lede het die betrokke reaksiebeampte gaan soek en hom by ʼn diensstasie opgespoor waar hy die verloop van die gebeure weergegee het.”
Balram sê die beampte is ongedeerd.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
3 Kommentare
Reaksie beampte ??? Het Walt Disney die man opgelei ?
Óf die reaksiebeampte ‘was aan die slaap’, óf die misdadiger was baie duidelik baie dapper gewees.
Ai ai, elke dag net meer en meer lagwekkende insidente.