Realiteitstegnologie die toekoms van die klaskamer sê Nasa-kenner

sos-onderwyskongres-dr-japie-van-zyl-02

Dr. Japie van Zyl was een van die hoofsprekers tydens die SOS onderwyskongres in Gauteng. Foto: Verskaf.

“Ons moet kinders laat dink hulle word vermaak terwyl hulle eintlik steeds onderrig word – dit moet ‘edutainment’ word.”

Dit is die mening van dr. Japie van Zyl, direkteur van die sonnestelselverkenning by Nasa se straalaandrywingslaboratorium, en ʼn boorling van Namibië wat reeds 36 jaar in die VSA woon en veral betrokke is by navorsing by landings op Mars.

Hy het Woensdag op ʼn onderwyskongres aan sowat 468 onderwysers in Afrikaans gesê hy sien ʼn nuwe paradigmaskuif binne opvoeding en opleiding plaasvind waar aangevulde en virtuele realiteit (augmented and virtual reality) die manier word waarop inligting aan leerders en studente oorgedra word.

Van Zyl was een van die hoofsprekers by die Skoleondersteuningsentrum (SOS) van Solidariteit Helpende Hand wat tot 21 Junie in Irene, suid van Pretoria plaasvind. Altesaam 70 sprekers tree by die 215 sessies op. Die kongres het Dinsdag met ʼn leierskapsessie vir skool- en adjunkhoofde afgeskop.

Van Zyl, wat ook klasgee by die Kaliforniese Instituut van Tegnologie (Caltech), het gesê dit is beslis uitdagend om studente se aandag en verbeelding vas te vang in die digitale wêreld waarin hulle tans grootword.

“Ek het ook hier in die VSA ondervind studente verkies om inligting in korter formaat te ontvang en dat hulle toenemend visueel georiënteerd is. Hulle is ook gewoond daaraan om inligting op die internet te vind.

“Ons moet opleiding vir hulle voorsit in die formaat wat hulle ken. Gee vir hulle speletjies om die bekende omgewing te skep. En sit dit alles op hul slimfone en tablette, maak van onderrig ‘edutainment’ of vermaak.”

sos-onderwyskongres-dr-japie-van-zyl

Van Zyl het sy praatjie in Afrikaans en deur Skype uit die VSA gelewer. Hy het met onderwysers gesels oor die waarde van tegnologie vandag en in die toekoms. Foto: Verskaf.

Van Zyl het gesê hy glo die onderwysers van vandag het ʼn groot verantwoordelikheid, maar kan beslis ook tegnologie inspan om hul werk makliker te maak.

“Dink net, met hierdie nuwe ontwikkeling in realiteitstegnologie kan ons studente direk na die Grand Canyon neem of vir hulle koraalriwwe onder die see gaan wys. Ons kan dit in ʼn chemieklas gebruik waar hulle sal sien hoe atome lyk, bymekaar kom en mekaar aantrek. Hulle sal ook kan sien hoe so ʼn chemiese reaksie voor hulle kan gebeur.”

Volgens dr. Danie Brink, wat aan die hoof staan van die SOS, het Van Zyl in ʼn onderhoud met Pretoria FM, op ʼn vraag oor hoe belangrik hy dink goeie kwalifikasies is, gesê kwalifikasies is belangrik, maar om eienskappe soos nuuskierigheid en deursettingsvermoë vir kinders te leer, is eintlik veel belangriker.

Van Zyl het ook benadruk dat sy sukses direk te danke is aan die ondersteuning en opleiding wat hy van sy onderwysers in Namibië en Suid-Afrika ontvang het.

Ander sprekers sluit in Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Group, prof. Gerrit Stols van die Universiteit van Pretoria, Johan van Lill van RSG en dr. Danie Brink van die SOS en Helpende Hand. Daar word vanjaar gefokus op die grondslagfase, wiskunde, Afrikaans (huistaal), rekeningkunde en wetenskap.

Die SOS-kongres sal volgende week van 26 tot 27 Junie by die Lord Charles Hotel in Somerset-Wes plaasvind. Van die sessies sal ook ná afloop van die kongres op Onderwyskongres.co.za in videoformaat vir onderwysers beskikbaar wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

marous ·

Fantasties , maar vertel vir ons , werk die tegnologie met kers krag ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.