‘Rebellie’ teen kaderontplooiing verskerp

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Die DA sê hy is die afgelope ruk oorval met inligting van fluitjieblasers in die staatsdiens wat aansluit by die party se “rebellie teen kaderontplooiing”. Dít nadat die Konstitusionele Hof beslis het die ANC moet sy kaderontplooiingsrekords bekend maak.

“Oor die afgelope paar weke het [pres. Cyril] Ramaphosa en sy party die praktyk van kaderontplooiing aanhou verdedig, ondanks ʼn groeiende rebellie daarteen vanuit die samelewing en van binne die staatsdiens,” sê dr. Leon Schreiber, die DA se woordvoerder oor staatsdiens en administrasie.

Ramaphosa het in sy weeklikse nuusbrief onder meer verwys na wetgewing wat aanspreeklikheid en doeltreffendheid in die staatsdiens moet verbeter. Die president het ook gesê die hervorming van die staatsdiens gaan verseker dat net die beste kandidaat in ʼn pos aangestel word en dat dié mense die nodige ondersteuning sal ontvang om hul werk doeltreffend te doen.

Met verwysing na die wetsontwerpe, sê Ramaphosa dit moet die moontlikheid van onregmatige politieke inmenging in die staatsdiens beduidend verminder.

Schreiber sê die president se skynheiligheid het met dié nuusbrief ʼn nuwe laagtepunt bereik.

“Dit was ʼn ooglopende poging om amptenare in die staatsdiens, wat toenemend rusteloos word terwyl die DA aanhou om die ANC se kadergeheime aan die groot klok te hang, te probeer paai.”

Deur vir die “eerste keer te erken” dat die staatskapingskommissie se bevinding dat die ANC se beleid van kaderontplooiing “staatskaping gefasiliteer het”, het Ramaphosa sy “eie lafhartige skynheiligheid oor die kwessie” gewys, sê Schreiber.

“Aan die een kant probeer hy krediet aanvaar vir die werk wat amptenare gedoen het deur die DA se teen-kaderontplooiingsbeleid te gebruik om die Wysigingswetsontwerp op die Staatsdiens te formuleer. Aan die ander kant hou hy aan om die ANC se kaderontplooiing te verdedig, soos hy tydens sy onlangs tirade daaroor by die bekendstelling van die ANC se manifes gedoen het.

“Ramaphosa het duidelik besef dat die DA se werk om kaderontplooiing bloot te lê, ʼn volskaalse rebellie teen hierdie korrupte ANC-praktyk veroorsaak het. Selfs terwyl hy voortgaan om hierdie bose praktyk te verdedig, probeer hy terselfdertyd amptenare in sy eie regering wat moeg is om beledig te word deur die voorkeur aan onbevoegde en korrupte kaders, eerder as vaardige beroepslui, paai.”

ʼn Verslag van die staatsdienskommissie wat verlede week bekend gemaak is, het onder meer gelui dat dit wel so is dat “senior aanstellings politieke aanstellings is en dat die rol van die ANC se ontplooiingskomitee nie geïgnoreer kan word nie”.

Die verslag het voorts gelui dat die huidige fokus op “politieke ontplooiing vervang moet word deur ʼn fokus op die bou van ʼn professionele staatsdiens”.

Schreiber sê in sy poging om die opstand teen politieke inmenging te probeer afweer, het Ramaphosa eintlik die DA reg bewys in sy standpunt teen kaderontplooiing.

“Die DA beskou die openlike skynheiligheid in die nuusbrief as ʼn teken van swakheid wat ons verder aanvuur om die stryd te stry tot ons Ramaphosa se aandadigheid in staatskaping – as die voormalige voorsitter van die kaderontplooiingskomitee – ten volle blootgelê het en tot ons die praktyk uit Suid-Afrika verban het.”

Die DA gaan ook voort met regstappe deur te vra dat die ANC aan minagting van die hof skuldig bevind word weens sy versuim om die volledige kaderontplooiingsrekords openbaar te maak, en om die praktyk ongrondwetlik en onregmatig te laat verklaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Strandloper ·

Die wiel word telkens herontwerp bly die resultate driehoeke en vierkante. Die ywer

Amelia ·

Die politieke wiel draai so stadig – teen die tyd dat die kaderontplooiing uiteindelik gestaak word, is daar niks meer van die land oor nie.

Wildemien ·

As jy dan nou ‘n kader MOET ontplooi…….lei hom minstens op om professioneel en effektief in sy rol te kan funksioneer. Wen-wen. Dis nie so moeilik nie.

Casper ·

Kaderontplooiing kom al ‘n lang pad in alle staatsdepartemente.Ek was self die slagoffer met my aansoek om bevordering ten gunste van ‘n kandidaat wat onbevoeg was.

Althes ·

Wonderlik! Kaderontplooing laat die staatsdiens in geheel misluk!

domheks ·

Het die DA darem navraag gedoen oor die rekenaar wat data oor kaderontplooiing verloor het. Was daar nooit ‘n ‘back-up’ gedoen van alle rekenaars in cANCer se besit nie?
Julle moet onthou lieg = anc.

JohanR ·

Niks nuut hier vir Ramaphosa en die ANC……duck en dive, duck en dive! Die kaders wat nou in 2024 ‘n kaans sou gekry het om te vreet sal miskien nie kan nie.

kragaap ·

Kaders is een ding……die onbevoegdheid en korrupsie is die eintlike probleem.

Martie ·

Die eintlike probleem was nie die kader ontplooiing nie. Die eintlike probleem was dat die kaders wat aangestel was nie opleibaar was nie. En natuurlik as die opleier dan nog wit was was dit chaos. Hulle het net ingestap en oor gevat en alles opgemors. Ek het 30 jaar vir die staat gewerk en het dit regstreeks ervaar. Moes die kader se werk doen vir die muishond se geld en daarom kry ek vandag die muishond pensioen.

minnie muis ·

BEGIN BY parlement…. anc die grootste in wereld , hoekom ….ons is nou junk status

Frans ·

Ek lag maar net oor die gebruik van die woord rebellie. Ek dink die DA het niks bereik nie. Dis my gevoel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.