Red landbou deur besluite op grond van feite, sê VF Plus

Dr. Pieter Mulder. Foto: DoC

Neem landboubesluite op grond van feite. Meeste van ons huidige probleme is omdat landboubesluite op grond van politieke propaganda-stellings en mites geneem word.

Só het dr. Pieter Mulder, VF Plus-LP, Woensdag in die begrotingsposdebat van landbou gesê.

“Onlangs het ʼn prominente leier gesê dat die strategiese noodsaaklikhede om ʼn revolusie en konflik in Suid-Afrika te vermy, goeie verdediging, polisie en intelligensie is. Hy is verkeerd. Die strategiese noodsaaklikhede is nie verdediging, polisie en intelligensie nie. Dit is water, energie en voedselsekerheid deur landbou. Sny water, sny energie en sny kos en jy het ʼn revolusie.

“Wat moet ons doen om dit te voorkom? Die antwoord is eenvoudig: neem landboubesluite op grond van feite en nie op grond van politieke propaganda-stellings en mites nie,” het Mulder gesê.

Hy het gesê besluite word geneem op grond van politiek geskepte persepsies en op grond van eensydige stereotipes, bv. “alle swart boere is onbekwaam en misluk”. “Dit is nie korrek nie, met al hoe meer suksesvolle swart kommersiële boere. Nog ʼn mite: ‘Alle wit boere is rassiste wat hulle werkers sleg behandel.’ Dit is ʼn totale leuen, soos navorsing en feite bevestig.”

Mulder het verwys na die vorige sensus wat daarop gewys het dat daar 4,2 miljoen wit mense is uit ʼn bevolking van 55 miljoen. “Dit is minder as 9%. In 1980 was daar ongeveer 128 000 kommersiële boere, wat tot 58 000 gedaal het in 1997 en tot ongeveer 35 000 vandag. As jy verkeerdelik aanvaar dat alle kommersiële boere wit is, is dit dus 35 000 uit 4,2 miljoen wit mense, of 0,8%. Daar is ʼn voorspelling dat dit binne die volgende 15 jaar tot 15 000 sal daal.

“Ons is nie almal boere nie, ons woon in stede. Verstedeliking in Afrika is 58% van die bevolking en in Suid-Afrika reeds 62%. In die stede het ons almal kos nodig, wat deur hierdie klein getal wit en swart kommersiële boere vervaardig word.

“ʼn Voetnota. Die meerderheid van Vryheidsfront Plus se ondersteuners is nie boere nie. Die meerderheid van ons ondersteuning kom uit stede in Gauteng en die Wes-Kaap. Jy benodig tussen 45 000 en 50 000 stemme om een lid tot die parlement verkies te kry. Indien elkeen van die 35 000 kommersiële boere vir ons sou stem, is dit nie eers genoeg om een lid van die parlement verkies te kry nie.

“Nog ʼn mite. Grond gaan jou ryk maak. Sonder kundigheid en jare se ervaring gaan grond jou arm maak.

“Natuurlik het ons nog meer suksesvolle swart kommersiële boere nodig, maar ʼn staatsdepartement van landbou is nie gestruktureer om te boer nie. In hierdie stadium het die regering meer mislukkings as suksesse waar hulle probeer om swart kommersiële boere te vestig. Die belangrikste rede is omdat hierdie swart boere nie die grond besit nie. Dit behoort nog aan die regering.

“Die nie-regeringsorganisasie Graan SA behaal sukses. Laat hulle jou na die meer as 24 000 swart boere neem wat hulle al gehelp het.

“Die wolbedryf in Suid-Afrika het 7 000 swart boere suksesvol gehelp. Ons hoor net altyd die negatiewe propaganda maar nooit hierdie suksesse nie.

“Oor grondhervorming glo ek ons mors waardevolle geld en energie om mense te probeer herstel tot boere. Syfers toon aan dat die meerderheid Suid-Afrikaners nie plaasgrond wil hê nie. Hulle wil na stede toe gaan, ʼn selfoon besit en met ʼn BMW ry en in ʼn moderne ekonomie werk. Kom ons help hulle om eienaarskap van hul huise te kry en ʼn stuk grond in die stad, aangesien dit in alle moderne ekonomieë gebeur, terwyl die wit en die swart kommersiële boere vir ons kos vervaardig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

pieter ellis ·

Altyd verfrissend om na ingeligte menings te luister. Ek stem saam dat mites en selfverklaarde feite gewoonlik tot retoriek lei wat bloot ongesond is vir die land. Die regering se grootste flater was en is, om opkomende boere, entrepreneurs, en besigheidspersone nie op te lei en te mentor nie. Help geensins om iemand miljoene rande se grond te gee, en nie die nodige kundige hulp ook aan te bied nie. Daarom dat sowat 95% van die regering se grondhervorming plase, in rampe verander het.

Adam ·

Uistekende agrument deur een van die min mense in SA wat weet hoe landbou werk.

al ·

Sal Black First Land First na hierdie luister? Hulle is politiek gedrewe. As hul wil kla, moet hul by die regering kla oor waarom die grond in die Regering se besit is.
Hul en die EFF kyk net vas in die sukses wat sommige boere met harde werk oor die jare opgebou het.
Of dink hul 5 skape, 2 beeste en ñ paar mielies gaan verseker dat hul luilekker kan lewe?

Net die Waarheid ·

Dit is maklik om te boer wanneer iemand anders (belasting betalers ) die rekening vir grond en produksie middels moet betaal. Die kuns is egter om jouself deur die hoofstroom ekonomie te finansier en winsgewend te wees om almal terug te kan betaal en nog ‘n ietsie ekstra vir die keiser ook te gee…..werkskepping en die bydrae tot die ekonomie is meevallers wat volg…..weereens vir die Keiser.

Jacques Venter ·

King Goodwill in KZN besit omtrent die helfte van KZN. Hier voer swart boere n sukkel feudale bestaan. Begin grond hervorming hier. Gee die mennse eiendomsreg, dan kan hulle vooruit gaan. Hiervan wil BLF niks weet nie

Vierkleur ·

Ons boere moet ons eie spel begin speel met ons eie reels. Ons speel saam met die vyand en hulle reels.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.