Redakteursforum bekommerd oor onbestendige SAUK

(Foto: pixabay)

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) sê hy is bekommerd oor die onbestendigheid by die openbare uitsaaier weens die dreigende afleggings daar.

Die SAUK het vroeër gesê hy gaan 400 van sy sowat 3 000 werkers aflê. Dit sluit werkers in nuuskantore in. Benewens die afleggings word salarisverhogings drie jaar lank gevries, het die SAUK ook onder meer gesê.

“Sanef doen ʼn beroep op die SAUK-leierskap om sy openbare mandaat na te kom deur te verseker dat begrotingsbesnoeiings nie ʼn aantal belangrike dienste, waaronder sy Afrikataal- en streekprogramme, in die wiele ry nie. Ons doen ʼn beroep op die SAUK om sleutelnuus- en aktualiteitsposte te beskerm en nie sy mandaat, om nuus te lewer, in die gedrang te bring nie.”

Sanef sê hy wil met die SAUK vergader om sy herstruktureringsplanne en visie vir die toekoms te bespreek.

Die art. 189-kennisgewings wat vroeër aan sekere SAUK-werkers gegee is, is intussen voorlopig teruggetrek.

Sanef sê sedert pres. Cyril Ramaphosa in Maart ʼn ramptoestand afgekondig het, het meer as 700 poste in die mediabedryf verlore gegaan. Twee tydskrifuitgewers en 80 kleiner publikasies het hul deure gesluit.

Die organisasie sê hy neem met kommer kennis dat joernaliste in talle nuuskantore bloot nie vervang word nie, wat lei tot gebrekkige vermoë om nuusgebeure landwyd te dek. Weens die taai ekonomiese tye het inkomste uit advertensies boonop gedaal.

Sanef sê dit was egter nie net die Covid-19-krisis wat onder die mediabedryf gemaai het nie.

“Oor die afgelope drie jaar is talle joernaliste hul poste kwyt weens afleggings by die destydse Tiso Blackstar, Media24, Independent Media en die sluiting van Afro Worldview, voorheen bekend as ANN7, asook by MultiChoice. Publikasies soos The Times en HuffPost SA is gesluit, wat die uiteenlopendheid van stemme in Suid-Afrika verder afgewater het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Dries ·

Jy weet, as hulle net EEN KEER wil erken dat hulle ‘n mislukking is, sal ek dalk kan beter slaap. Maar dis altyd vinger wys en verontskuldiging.

Nie Verbaas ·

Hulle trek kennisgewings terug? So hoe dan nou? Is daar regtig niemand in die ANC met ruggraat nie. Feite is op die tafel vir SAUK en ongelukkig het hulle die normale aanstellings gedoen sonder dat dit behoorlik deurdink is. Soos gewoonlik.

Nico ·

So styg die werkloosheis syfer. Daar is hoeveel inwoners van al die swart woonbuurtes wat nie TV lisensies betaal nie, so gaan alles tot niet die eens waardige SAUK is tot niet nadat die land aan die ANC op ‘n skinkbord gegee is.

Jakes ·

Hoe op aarde kon die SAUK 3000 weknemers in diens neem? Sal graag wil weet hoeveel van hierdie mense posbeskrywings het? Klink soos die SAL en Eskom wat hopeloos te veel mense as werknemers het.

Riana ·

Lees vanoggend in Bussiness insider , gemiddelde werknemer by SAUK verdien R 700 000.00 PER JAAR!!! Ek sal ook nie wil afgele word as ek hulle is nie… met vorrige aflegginng jaar later het Minder mense meer salarise verdien as voor die afleggings… betaal 400 mense af en gee julle self 50% increases… wat is die punt. Daar is 400 supervisors en omtrent 800 gewone werkes so elke supervisor het 2 werkers wat na hulle raporteer…. geen wonder daar word nie geld gemaak nie SAUK is top heavy met niemand wat die werk wil doen nie…. Vries salarisse vir 3 jaar hulle moet almal ‘n 60 % paycut vat plus salris vries vir 3 jaar!!!! Top managers (8 VAN HULLE) VERDIEN Miljoenne en vir wat.. die plek maak ‘n verlies, sak julle koppe in skaamste!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.