Redakteursforum sê joernalis se dubbele stem ‘in openbare belang’

‘n Skermskoot van Etienne Mare uit die video waarin hy wys hoe hy die inkmerk op sy duim verwyder. (Video: Suburb.News)

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) is bekommerd oor die inhegtenisneming van ʼn joernalis van Mpumalanga omdat hy in ʼn video erken het dat hy twee keer gestem het.

Etienne Mare, ʼn joernalis verbonde aan Suburb.News, het verlede week ʼn video op dié instansie se Facebook-blad gedeel waarin hy ʼn onderhoud met ʼn kieser voer wat beweer dat sy drie keer in die verkiesing gestem het. Die kieser se gesig word in die video verbloem.

Sy is later as Malinda Halloway geïdentifiseer.

Mare en Halloway het reeds in die hof verskyn op aanklagte dat hulle meer as een keer gestem het, met opset ʼn vals verklaring afgelê het of anders aanklagte van bedrog en skending van die reg op geheimhouding.

“Sanef glo nie dat joernaliste bo die reg verhewe is nie en ons is bewus van die feit dat dit ʼn oortreding is om twee keer te stem. Dit lyk tog of Mare werklik in openbare belang opgetree het. Hy het dié stappe gedoen om die OVK (Onafhanklike Verkiesingskommissie) se stelsel te toets, met die doel om moontlike kiesbedrog uit te wys.

“Die feit dat hy sy stem bederf het, is ʼn aanduiding dat hy nie die kiesproses probeer ondermyn het nie,” het Sanef in ʼn verklaring gesê.

Brig. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, het vroeër gesê Mare en Halloway is twee van altesaam 24 kiesers wat in hegtenis geneem is omdat hulle probeer het om meer as een keer te stem.

Kate Skinner, uitvoerende hoof van Sanef, het by navraag aan Maroela Media gesê dit is nodig om in die hof groter duidelikheid te kry oor gevalle waar ʼn joernalis byvoorbeeld wetgewing oortree om ongeregtigheid uit te wys. Hulle het daarom by Mare se saak betrokke geraak.

Skinner het gesê dit sou ideaal wees as daar in wetgewing ʼn bepaling is wat sekere optrede van joernaliste – in die openbare belang – toelaat.

Sy het gesê joernaliste het ʼn bepaalde rol om in die samelewing te speel: hulle moet ongeregtigheid en korrupsie blootlê en die regering en private sektor verantwoordelik hou.

In ʼn hedendaagse media-era van onder meer burgerlike joernalistiek en klein gemeenskapsmedia-instellings, is daar egter onduidelikheid oor wie in sulke gevalle kwytgesteld kan word. Die kwessie oor wié presies joernaliste is en wanneer hulle in die openbare belang optree, moet ook gedebatteer word, het sy gesê.

“Ons sê nie joernaliste moet die wet oortree nie, ons sê dit is ʼn grys gebied dié,” het Skinner gesê.

Sy het gesê Sanef sal Mare onder meer met regshulp of finansiering van sy saak probeer bystaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Hans Richardt ·

Dis geen verdedigingsgrond om misdaad te pleeg om iemand bewus te maak van Misdaad nie.
Daar is voorsiening vir klagtes. Redakteursforum wil nou voorskryf aan die regbank. Laat die oortreder nou pa staan vir oortredings.

Ellisras ·

As jy jou vir ‘n toffie uit gee gaan jy gekou word. Ander mense het (amper) dieselfde gedoen. Hulle het net na hul die papiertjie gekry het by Hoof Kiesbeampte aangemeld. Maar nie gestem nie. Stembriewe kan nie aan ‘n persoon verbind word nie. So jy kan nie jou stem terugtrek of kanselleer nie.

judie ·

Hierdie joernalis het BEWYS dat ongerymdhede wel plaasgevind het. Nou word hy vervolg, soos gewoonlik. Maar nou ja, gelukkig gaan hy onskuldig bevind word want die OVK het mos bevind dat daar GEEN ongerymdhede was nie, GEEN dubbelstemmery was nie, so waaroor wil hulle hom dan nou aankla?

Johan ·

As jy sy gedrag goedkeur dan is jy net so skuldig soos hy. Daar’s niks wat sy optrede regverdig nie.

PaulV ·

Johan; die joenalis het nie twee keer gestem nie, hy wou bewys dat dit moontlik is. Hy het sy tweede stembrief bederf.

Andre ·

Johan : hierdie gaan nie oor 2 keer of 10 keer stem nie ,die joernalis het net bewys hoe maklik dit is om te verneuk . Ek verstaan dit maak seer as sulke bewyse uitkom ,maar dit hoort nie in n sg demokrasie nie

Piet ·

As enige persoon kon regkry om meer as een keer te stem – om watter rede ookal, behoort die OVK en die hele stemproses ondersoek te word. Die punt is dat die stelsel so behoort te werk dat dit onmootlik is om meer as een keer te stem. ‘ n Koukie merk op die duim is in elk geval belaglik – ek is seker daar kan aan ander meer effektiewe maniere van beheer gedink word.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.