Reddingsboei aan SAL ‘sal geen verskil maak’

Argieffoto

Die DA het Saterdag gesê die jongste reddingsboei wat die regering na die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) uitgooi, sal niks doen om die lugredery se geldkrisis op te los nie.

Dit kom nadat die nasionale tesourie Saterdag bevestig het dat die nasionale inkomstefonds R2,2 miljard aan SAL sal voorsien om sy skuld aan Standard Chartered Bank te vereffen.

Alf Lees, die DA se skaduminister van finansies, het gesê die reddingsboei van die regering doen afbreuk aan die geloofwaardigheid van die SAL-raad en die nasionale tesourie. “Net drie dae gelede het ek die nasionale tesourie gevra of hulle gereed is om die waarborgverpligtinge na te kom en SAL sowel as die nasionale tesourie het die parlement se staande komitee oor finansies verseker dat alles gereed was om die R9 miljard leningsbetalings van SAL teen 30 Junie te dek. Dit was duidelik nie die geval nie,” het Lees gesê.

Lees het ook gesê hy vind dit ironies dat die reddingsboei aangekondig is te midde van die ANC se nasionale beleidskonferensie waar daar sterk op ekonomiese beleid, en die stabilisering van staatsinstansies soos SAL, gefokus word. “Standard Chartered Bank het duidelik geen vertroue in die leierskap, bestuur of strategie van SAL nie,” het hy gesê.

Die nasionale tesourie het Saterdag gesê Malusi Gigaba, minister van finansies, het die oorplasing van fondse van die nasionale inkomstefonds na SAL goedgekeur om te verhoed dat SAL agterstallig raak met sy skuldbetalings. Die tesourie het gesê die betaling is gedoen ingevolge art. 16 van die Wet op die Bestuur van Openbare Finansies “wat die minister magtig om onbeplande uitgawes van ’n buitengewone aard te maak wat nie uitgestel kan word sonder ernstige benadeling van die openbare belang nie”.

Die tesourie het gesê gegewe die probleme by SAL was die gebruik van art. 16 van die Wet op die Bestuur van Openbare Finansies ʼn “laaste uitweg”. “Die regering sal alles in sy vermoë doen om te verseker dat die lugredery se omdraaistrategie geïmplementeer word. Die lugredery is steeds ʼn strategiese bate en dien as ʼn ekonomiese verskaffer met direkte en indirekte voordeel vir ʼn wye reeks ekonomiese aktiwiteite.”

Lees het gesê die reddingsboei aan SAL dui op die ernstige krisis waarin wanbestuur die nasionale lugredery gedompel het. “Hierdie belastingbetaler-reddingsboei maak geen verskil aan die krisis by SAL nie. SAL verloor om en by R370 miljoen elke maand en krap glo rond vir kontant om salarisse te betaal,” het hy gesê.

“Ons sien uit na die minister se verslag aan die parlement binne 14 dae. Die verslag moet besonderhede gee waarom hierdie uitgawe goedgekeur is as ʼn noodsituasie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Stephen Namibia ·

Die “laaste uitweg” seg die Tesourie? Daar is net een uitweg. Privatiseer SAL en gee die Lugdiens vir mense wat weet van lugvaart.
Maar nouja dan is dit weer witmense wat SAL moet bestuur en ons sal nooit die einde daarvan hoor nie.

Frederik ·

Stephen, die SAL is in so ‘n gemors dat niemand dit verniet wil hê nie.
‘n Ander, dalk groter, probleem is dat Gibaba aangekondig het dat die R 2.2 miljard na die SAL se rekening oorgeplaas gaan word. Siende dat hul reeds probleme het om selfs hul personeel se salarisse te betaal, kan niemand dus waarborg dat die R 2.2miljard by Standard Chartered Bank gaan uitkom nie. Hoekom nie maar die geld direk vanaf die tesourie na die bank oorplaas nie??

Jacques Venter ·

Stefen Namibia
Stem gedeeltelik met jou saam. Privatisering is die antwoord. Kyk n Telkom en Sasol.
Of die bestuurder wit moet wees weet ek nie. Hulle het al wit bestuurders gehad wat nie veel hond haaraf gemaak het nie.
Daar sal in diepte gekyk moet word waar die probleem lê.
Waaraan bestee hulle soveel geld wat ander winsgewende lugdienste nie doen nie.

Leendert ·

En hulle vertel dat die Tesourie nie gekaap is nie? Die Tesourie het ook sopas bewys dat hulle wel nie gekaap is nie. Die geskenkies hou nie op nie: vaderkersfees360. Die happies is nie gigabite vir gigabite nie, maar sommer megabite vir megabite.

Chaparel ·

Hulle doen maar wat hulle wil maar ek vlieg lankal nie meer met SAL nie en is ook nie van plan om in die toekoms SAL te vlieg nie.

Johanna Botha ·

Daar gaan die belasting geld weer om die siek SAA maar net WEER te help …waneer gaan dit STOP ! Die land word regeer deur dom diewe wat geen kennis het van dit wat hulle doen en leer ook NIKS op die job nie. Ons vlieg uit beginsel nooit meer SAA nie …hoe diens mens n vliegtuig sonder geld en die risiko van n strike die heeltyd wat alle planne ontwrig. Die anc is net n mislukking op alle vlakke … NIKS werk reg nie en hulle soek heeltyd die fout by ander al skreeu die feite dat dit onkunde en korrupsie is …en net mooi niks gebeur itv verantwoording of vervolging …mense voel al SO magteloos teen die verrotting !

René Prinsloo ·

Ja ja daar gaan geld betaal word om hulle te red. Netso vinnig wat die geld inbetaal word, word dit weer verkwis en die bose kringloop gaan aan.

Sêmaarnet ·

Volgende wat ons gaan hoor is ‘n enorme bonus vir Dudu.

Ander Annie ·

O liewe Dudu, jy is aan die Dudu en nou moet Gigs sy groen note Dudu, want jy mors note liewe Dudu.

Blondie ·

Jaar na jaar dieselfde storie! Wakker word Suid~Afrika! Ons boer agteruit! Die finale val gaan vinnig en katastrofies wees!

Leendert ·

En hulle vertel dat die Tesourie nie gekaap is nie? Die Tesourie het sopas bewys dat hulle wel nie gekaap is nie. Die geskenkies hou nie op nie: vaderkersfees360. Die happies is nie gegabite vir gigabite nie, maar sommer megabite vir megabite.

Wonder maar net ·

BEE byt maar seer , maar luister gaan ons nie ………..

zoom zoom ·

Ek kan nie verstaan hoekom die geld direk betaal word aan Dudu Airways. Betaal die geld direk aan die plekke aan wie die geld geskuld word nadat hulle die nodige bewyse aam die Tesorie oorhandig het .

JC ·

Wers dan gewaarsku. Vliegtuie van SAL word dan nie gediens nie en daar wag n tragedie. Moet nie SAL vlieg nie.

Domtert ·

SAL gaan binnekort vliegtuie en brandstof by die Guptas koop teen dubbel die markprys…

John ·

?.. Privatiseer soos India Airways? Iets klink bekend. Wat sou dit wees? Maak eers die lugdiens bankkrot en verkoop dit aan die laagste bod. So sal dit ook gaan met ander semi-staatsinstellings totdat die land sy naam kan verander na… Doelgerigte beplande selfvernietiging…

Nico ·

Dis nie om die skuld te betaal nie dis vir die ongeskooldes wat die plek run se bonus wat betaal moet word

Susan ·

Hoe kry die ander lugleerderye reg omdat hulle weet hulle kan nie net op mors en die regering Gaan maar weer jaarliks hul instop nie.

Jacques Venter ·

Daar moet indringend na hulle salarisse en diens voorwaardes gekyk word. As dit reg gestel word hoef ons nie jaarliks miljarde te hoes nie

Jacques Venter ·

In n artikel in die Citizen van 23/9/2016, onder die titel: ” Pampered SAA pilots’ bizarre perks and wages cost R2bn” word oa die volgende berig:
Vlieëniers bly slegs in die duurste hotelle
Hulle gesinne vlieg gratis in besigheids klas
As n vlieënier skei, kry beide sy ex en sy nuwe meisie die voordele
Vlieëniers is getegtig op 180 dae siekvverlof per jaar
Selfs as hulle vir ander lugdienste vlieg behou hulle nog die voordeel van gratis vlugte
Vlieëniers word 2 jaar, sabbatical verlof toegestaan, en hulle mag gedurende die verlof vir ander lugdienste vlieg
Die artikel is te lank om opte som.
Lees dit asb self

Wonder ·

Ek wonder nogal of die “reddingsboei” uit die nasionale inkomstefonds waarvan die tesourie praat die GEPF (Government Employment Pension Fund) is? Daar is mos ‘n paar weke gelede die bewerings gemaak dat die GEPF se fondse moontlik daarvoor aangewend gaan word?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.