Reddingspogings duur voort ná verwoesting in Midvaal

Skade wat deur ʼn beweerde “tornado” in die Vaal Marina-gebied in Midvaal, Gauteng aangerig is (11 Desember 2017). Foto: Twitter via @ReenvalSA/JJ van Rooyen

Die provinsiale en plaaslike regering in Gauteng werk saam om verligting te bring na inwoners wat deur ʼn groot storm in Midvaal geraak is.

Die rampbestuureenheid en die Midvaal-munisipaliteit werk in Mamello- informele nedersetting, Deneysville en op die Vaal Marina-kleinhoewes nadat ʼn storm Maandag in die gebied verwoesting gesaai het.

Maroela Media het vroeër berig dit is vermoedelik ʼn tornado wat die gebied getref het.

Paul Mashatile, LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, het gesê 565 plakkershuise is verwoes en meer as 1 000 persone, insluitend vroue en kinders, word hierdeur geraak. Minstens 31 persone het beserings aangemeld en hulle is na Heidelberg- en Kopanong-hospitaal geneem. Een persoon, wat kritieke beserings opgedoen het, is na Baragwanath-hospitaal geneem. Altesaam 26 persone wat na ʼn hospitaal opgeneem is, is reeds ontslaan.

Mashatile sê daar is alternatiewe skuiling gereël vir die betrokke gesinne met kos, komberse en mediese sorg.

Die rampbestuurspanne probeer nog die skade bepaal by Vaal Marina.

“Die vinnig optrede deur die rampbestuurspanne en paramedici en hulp deur NRO’s en privaat instansies, gaan nie ongesiens verby nie,” het hy bygevoeg.

Hy verseker die gemeenskap dat die personeel sal doen wat nodig is en dat hulle gereed, opgelei en voorbereid is om enige gebeurlikheid te hanteer.

Die departement van menslike nedersettings sal binnekort begin om 200 huise op te rig, en dit sal na verwagting binne die eerste kwartaal van 2018 afgehandel wees. Die LUR het gesê die 200 huise sal toegeken word aan die persone wat dit die nodigste het. Diegene wat vir HOP-huise kwalifiseer, sal voordeel trek uit verskeie maatskaplike huurhuise binne megaprojekte in die Sedibeng-streek.

Mashatile het gesê hy het die rampbestuurspan ook opdrag gegee om grond te identifiseer waarheen die betrokke persone tydelik geskuif kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Peet Schabort ·

Ek verstaan die orkaan het van Heilbron rigting Deneysville (ek weet nie waar is Dennisville) getrek, daarvandaan oor die Vaaldam waar dit weer spoed opgetel het en Vaal Marina en omgewing getref het. Daar is skade in beide omgewings waar die Vaal Marina-gebied erger deurgeloop het. In beide gebiede is groot bome ontwortel en het dwars oor strate gelê, dakke is weggewaai, mure van heinings is omgewaai, geboue is erg beskadig en kragpale het omgewaai. Elektrisiteitstoevoer is vanaand herstel op Deneysville na ‘n harde nag- en dag se werk. Brandhout behoort weer volop te wees vir die komende winter!
Dalk tyd dat ons hierdie orkane ook begin name gee? Hierdie is die eerste(?) een komende van die Vrystaat, wat van beginnende by ‘A’ wat beteken ‘Ace”?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.