‘Rede tot kommer oor Eloise’ – weervoorspellers

Storm Eloise (Foto: NASA & Meteo France vis Storm Report SA Facebook)

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) waarsku dat swaar reën en oorstromings binnekort oor dele van die land aangemeld sal word soos tropiese storm Eloise vinnig nader kom.

Ndaghi Maliage, ʼn voorspeller verbonde aan die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD), het Donderdag gesê daar is rede tot kommer soos tropiese storm Eloise die Mosambiekkanaal bereik. Eloise sal na verwagting vandag die kanaal bereik en in sterkte toeneem weens die warmer temperatuur.

Maliage sê swaar reën en oorstromings sal na verwagting veral die laagliggende dele van die platorand oor die naweek tref.

Die storm sal verswak soos dit oor die land beweeg, maar swaar reën kan steeds teen Sondag oor die suide van Mosambiek, die oostelike Laeveld, die Limpopo- en Mpumalanga-platorand, asook die noorde van KwaZulu-Natal verwag word. Dit sal na verwagting tot Maandag duur.

“Die moontlike gevolg van al dié reën sluit in wydverspreide oorstromings, skade aan paaie en brûe, asook die moontlike ontwrigting van mense in die gebied,” sê die weerdiens.

Maroela Media het vroeër berig swaar reënval is in dié stadium die beste scenario. Die ergste scenario kan lei tot ʼn herhaling van die sikloon Domoina van 1984 toe 950 mm reën geval en altesaam 29 rivierbekkens oorstroom het. Die reënval het destyds ook veroorsaak dat die Pongola-rivier in die noorde van KwaZulu-Natal sy loop verander het.

Sikloon Domoina het aan die noordoostelike kus van Madagaskar ontwikkel en deur dele van die eiland gevee en só altesaam 42 lewens geëis en skade van ongeveer R37, 5 miljoen aangerig.

Domoina het oor die algemeen ongeveer R3 miljard se skade veroorsaak en die lewens van 242 mense geëis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.