Rede tot kommer oor stroping van rampfonds

Vloedskade in KwaZulu-Natal (April 2022) (Foto: Marco Longari / AFP)

Suid-Afrika het rede om bekommerd te wees oor die stroping van die rampfonds in KwaZulu-Natal aangesien vorige beloftes van pres. Cyril Ramaphosa om bedrog en korrupsie te keer met die Covid-19-noodfonds, geen uitwerking gehad het nie.

“Die president het in 2019 ook gesê hy sou die nasionale tesourie en die ouditeur-generaal (OG) betrokke kry om korrupsie te stuit. Die enigste tasbare verskil nou is die intydse of deurlopende oudits wat gedoen gaan word soos die rampgeld aangewend word,” het Pieter Groenewald, leier van die VF Plus tydens ʼn debat in die parlement oor rampskade aan die Ooskus, gesê.

“Tog is daar reeds bewerings van bedrog wat plaasvind en daar moet geen twyfel wees nie dat stropers by voorbaat hul lippe aflek oor die vooruitsig om hul hande op die rampfondse te kry sodra dit beskikbaar raak. Veral wat die herstel van infrastruktuur aanbetref.”

Groenewald sê kontrakte wat toegeken word, moet ’n deursigtige proses volg. Dit moet gepubliseer word en die publiek moet insae kry in die proses.

“Wat die rampskade aanbetref, is dit belangrik om daarop te let dat dit nie net te wyte is aan natuurlike oorsake nie, maar ook aan swak beplanning en onderhoud van infrastruktuur deur die munisipaliteit van eThekwini.”

Die SA Kamer van Handel en Nywerheid het in 2019 reeds gewaarsku dat die infrastruktuur dringende aandag vereis. Niks is daaraan gedoen nie.

“Die ramp wys ook op die waarde van die kommandostelsel van in 2007 afgeskaf is. Die stelsel se lede was mense vanuit ’n sekere gemeenskap wat hul omgewing geken het en onmiddellik kon optree waar nood ontwikkel het.

“Dit het ’n groot leemte gelaat en ek doen hiermee ’n beroep op die president om deur die ministerie van verdediging ondersoek in te stel na die moontlikheid om ʼn gebeurlikheidsgroep soos ’n plaaslike wag tot stand te bring.”

Groenewald meen só ’n groep kan onmiddellik ontplooi word met ’n noodsituasie soos die onlangse rampvloede. “Dit kan gedoen word met die oog op die toekoms aangesien hierdie ramp in KwaZulu-Natal gewis nie laaste ramp is wat Suid-Afrika gaan beleef nie. Die grootste ramp wat Suid-Afrika egter tans beleef, is ’n onbevoegde ANC-regering wat nie die wil of die vermoë het om korrupsie te bestry nie.”

In dieselfde debat het Fanie du Toit, VF Plus-lid in die NRP, gesê die ANC-regering het om politieke redes, gewildheid en ideologiese drome, opsetlik toegelaat dat munisipale regulasies en wetgewing oortree word op plekke wat deur die rampvloede geraak is.

“Dit het direk gelei tot die dood van baie van die 435 mense wat in die ramp omgekom het. Die impak van die oorstromings kon veel minder gewees het indien stormwaterstelsels skoon en werkend was en basiese instandhouding van infrastruktuur gedoen is.”

Groenewald voeg by ironies genoeg veroorsaak die regering se onbevoegdheid en onvermoë toenemend groter staats-afhanklikheid, werkloosheid en honger. “Die ANC is eindelik die grootste ramp wat Suid-Afrika beleef.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Hasie

Good luck om ANC gene te verander …mens Kan Alles verander behalwe jou bloed ….

Christine

Oooooo blikkies, skaars was my gedagtes koud in die vorige berig dat die hulpfondse gaan verdwyn, toe pop hierdie berig op!!! Ja, daar het julle dit, die klomp staatsdiewe slaan reeds toe!!!! Waarom het Ramaphosa nie opdrag gegee dat die rampfondse ook beheer moet word deur ‘n onafhanklike instelling nie!! Dit wys jou, hy keur dit goed!!

SjN

Die Anc is n groter ramp.

Yvonne

Stem saam met Mnr Groenewald tov die grootste ramp wat ons getref het….bitter tragies…R10 .00 , een miljoen en n miljard beteken vir hulle dieselfde

Charl

Net so goed jy praat met ‘n klip Mnr Groenewald, daar sal níks van jul pleidooie en/of voorstelle kom nie, hulle, die anc en trawante, is soos swerms Sprinkane, dit vreet álles voor die voet op en los kaal gestroopte vlaktes agter. Die rampfonds is maar net nóg vreetgoed op hulle pad na selfvernietiging.