Redery verbied om te vlieg oor ‘veiligheidsgevare’

CemAir se 23 vliegtuie mag nie een meer vlieg nie. Foto: Wikipedia

Die Burgerlike Lugvaartowerheid (BLO) het CemAir se vlerke geknip en die redery verbied om met enigeen van sy 21 vliegtuie te vlieg.

Dit volg nadat die BLO besluit het om twee van CemAir se lugbedryfsertifikate op te skort.

Volgens Kabela Ledwaba, BLO-woordvoerder, het die opskorting van CemAir se reg om te vlieg Donderdag om 15:30 in werking getree toe die redery van die BLO se besluit in kennis gestel is.

Hy sê die besluit het gekom ná ʼn deeglike jaarlikse ondersoek voordat die lugredery se sertifikate hernieu sou word. Van die probleme is dat CemAir sy vliegtuie oorlaai het en dat die gewig van passasiers en vrag wat die vlugpersoneel verklaar het nie ooreengestem het met dié wat CemAir se diensverskaffer aangeteken het nie.

Die BLO was ook besorg daaroor dat CemAir steeds vliegtuie gevlieg het ten spyte van ʼn beperkingsbevel. Dit het ʼn bedreiging vir lugvaartveiligheid ingehou en getuig van ʼn totale minagting van die rol en verantwoordelikhede van die BLO. “Sulke optrede is absoluut onaanvaarbaar en ontoelaatbaar,” sê Ledwaba.

“Die magdom nienakomings van die lugredery dui op die feit dat sy optrede ʼn ernstige gevaar vir lugvaartveiligheid inhou. As die BLO nie onmiddellik ingegryp het om dié oortredings stop te sit nie, sou die owerheid in wese sy plig namens die mense van Suid-Afrika versuim het.”

Ons verwerp die redes wat die BLO aanvoer om hul besluit te motiveer.

CemAir het Vrydagoggend in ʼn verklaring gesê hy is uiters spyt oor die BLO se onbepaalde opskorting van sy lugbedryfsertifikate. “Dit beteken ons kan nie handelsvlugte onderneem nie tot verdere kennisgewing.

“Ons verwerp die redes wat die BLO aanvoer om hul besluit te motiveer. As ʼn lugredery is ons opreg verbind tot veiligheid en uitnemendheid en het ons reeds talle redelike oplossings vir die BLO se kommer aangebied. Maar dis alles verwerp, wat dui op kwade bedoelings aan die BLO se kant om CemAir tydens die besige vakansietyd op sy knieë te dwing.”

Aangesien CemAir geen oplossing vir die huidige dooiepunt het nie, raai hy passasiers aan om alternatiewe reisreëlings te tref en onderneem hy om diegene wat reeds bespreek en betaal het, so gou moontlik oor ʼn terugbetaling in te lig.

Die 13 jaar oue CemAir vlieg na 11 bestemmings landwyd, waaronder Plettenbergbaai, Margate, Richardsbaai, Sishen, Johannesburg en Hoedspruit. Sy vloot bestaan uit 24 Beechcraft en Bombardier-vliegtuie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

zoom zoom ·

Kan iemand vir my asb sê wie bedryf CemAir en vanaf watter lughawe bedryf hulle hul besigheid.

Mina ·

Vanaf Or Tambo. Privaat redery en na my mening kompetisie vir staat se rampspoedige redery

Peach ·

Weet nie wie bedryf dit nie, maar is n blanke ou en hulle vlieg van jhb lugawe af na plett, bloem en kaapstad.

Lh ·

Ja nee . . . ons sal dan seker verplig word om gebruik te maak van SAL!

HPV ·

Gelukkig nie meer vir lank nie, die SAL kan net in die lug bly solank die geld wat hulle gereeld bedel hou en ons weet dit hou nie lank nie, hulle het letterlik geen bates en bestaan slegs in naam.

Stephen Namibia ·

I smell a rat. Mind you maybe more than one. The timing of the ban is suspect. Protecting SAA??

B ·

Komaan!
As iem hulle werk doen is dit ‘n sameswering!
Ek verstaan CM was gewaarsku, met spertyd en het dit wederregtelik oorskry.
(SAX was ook gegrond in Mei)

Boet Fasie ·

Hoe lugvaardig is SAL se vliegtuie, moet hulle nie ook beperk word om te vlieg nie, ek glo nie daar is geld om hulle vloot te onderhou nie, nou hou die staat die kompetisie op die grond sodat mense gedwing word om SAL te vlieg.

August du Preez ·

CEMAIR het waaragtig terwyl hulle 13 Desember “geground” was, die aand net na 20:00 ‘n kaartjie aanlyn aan my verkoop om die volgende oggend (14 Des) van Margate na Johannesburg op die 11:10 vm vlug te vlieg. Toe ek vir ‘n “refund” vra het hulle my laat weet dat dit binne 6 tot 8 weke gedoen sal word!!! ‘n Skreiende skande!

(“Good Afternoon,
Your email has been received regarding Cemair SUSPENSION refund, it has already been sent through for processing.
Please note the refund will take between 6-8 weeks, once completed your confirmation will be emailed”

Out of Africa ·

Vlieg lankal nie meer met SAA nie. Quantas, no worries.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.