Reeds 4 by SSA in die pad gesteek

Mondli Gungubele, minister in die presidensie. (Foto: Siyabulela Duda/GCIS)

Die Staatveiligheidsagentskap (SSA) het onlangs vier amptenare afgedank weens bedrog, korrupsie en wangedrag en is van plan om nóg amptenare in die pad te steek.

“Ons het met diep kommer kennis geneem van die aantal mediaberigte oor die beweerde korrupsie in die agentskap. Ons wil die Suid-Afrikaanse burgers verseker dat ons hul minagting teen sulke optrede deel,” sê Mondli Gungubele, minister in die presidensie verantwoordelik vir staatsveiligheid.

Berigte oor onwettige gedrag in die geledere van die land se spioene sien die afgelope paar jaar gereeld die lig. Dit sluit in bewerings dat geld uit SSA se begroting gebruik is om die ANC se beeld te poets, dat miljoene vir fiktiewe en onwettige projekte aangewend is en dat vuurwapens selfs onwettig deur spioene aan landsburgers verskaf is.

Die minister sê nou die agentskap se forensiese ondersoekspan werk nou saam met die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se ondersoekdirektoraat in sy poging om korrupsie in sy geledere uit te roei.

“Ons het slapelose nagte in ons pogings om hierdie wanpraktyke bloot te lê en is vol vertroue dat ons hierdie stryd sal wen en die agentskap tot sy vorige glorie sal herstel.”

Die DA het net verlede week ’n klag teen Arthur Fraser ingedien wat verband hou met sy verdoemende bewerings as spioenasiebaas. Fraser word onder meer daarvan beskuldig dat hy ’n parallelle intelligensiestruktuur by die SSA bedryf het.

’n Aantal verdoemende bevindings is boonop onlangs in ’n verslag van die hoëvlak-paneel oor staatsveiligheid, asook die verdoemende verslae oor die Julie-onluste van verlede jaar gemaak.

Die bevindings sluit in dat die reaksie van die land se veiligheidsdienste op die onluste nie tydig, gepas óf voldoende was nie.

“Ons is vasbeslote om ons beeld te herstel en hierdie plek om te draai om die behoeftes en belange van ons burgers te dien,” sê Gungubele nou. “Ons het ’n grondwetlike mandaat om die territoriale integriteit van hierdie land en sy burgers te beskerm. Ons kan dit nie doen as ons voortgaan met die soort wangedrag wat in die media en elders beskryf word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Chris dupreez ·

Julle gaan seker ontslae raak van die fluitjie blasers. Die res van julle beskerm mos mekaar.

Anel ·

Hoekom word hulle nie toe gesluit nie? Nou word hulle net afgedank!!!

Pablo ·

Bla bla bla eee wat n grap. Onbevoeg en onbetroubaar onder die ANC se neus ????

Henry ·

Hulle het seket groot afskeidings pakette gekry. En oor 2 maande word hulle weer aangestel in n baie hoèr pos

domheks ·

Lekker geskep! Nou is hulle sonder werk maar sakke is vol geprop.

Di ·

As al die korruptes in die Staat afbetaal moet word, is daar niemand oor nie! Hulle sal dit nooit regkry om AL die skelms uit hulle poste te verwyder nie, daar is NET TE VEEL van hulle. Dan wonder ons nog hoekom misdaad nie uigeroei word nie maar net vermeerder.

Jacobus ·

Die storie moes liewer gelees het – gearresteer en in aanhouding. Ons land moet seker die hoogste persentasie miljoenêr werkloses in die wêreld hê. Dit hou net nie op nie.

Johann ·

Ag asseblief. Slapelose nagte????? Soos die res van SA oor wie wat volgende gaan moet deur maak aan die hand van die ANC se anargie strategie? En NOU skielik? Jy maak net voorbrand vir die moontlikheid dat jy en jou kaders uitgevang is en aanspreeklik gehou gaan word! Skelm gebore…

Nick ·

Nee ou perd. Jy moet hulle arresteer voor ons jou glo. Julle klomp skelms vertrou ons laaankal nie meer nie. Tsek!

Kerneels ·

En Arther Fraser sit lekker oppi strand met ‘n koue en geniet sy pensioen wat pas begin het. Hy lag en giggel ook seker lekker…

Oljetter ·

Alister Sparks, hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde. Onthou julle die inligtingskandaal en Eschel Rhoodie se manewales? Waar is die skandaal nou, of is dit nou só algemeen dat dit skaars aandag trek?

Yvonne ·

Ek hoop om spoedig te hoor wie gaan vervolg word…..indien wel.

Blikkies ·

Hierdie klomp was mos nooit behoorlik opgelei of die kwalifikasies gehad vir hierdie tipe aanstellings nie. Al wat hierdie bende struik rowers van amper spioenasie af weet was seker om dieselfde 007 fliek twee keer te kyk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.