‘Reeksmisdadiger’ vas vir moord op Bloem-sakeman

Louis Siemens. Foto: Facebook

ʼn 29-jarige verdagte sou na verwagting Donderdag in die Bloemfontein-landdroshof verskyn in verband met die moord op Louis Siemens (52), die besturende direkteur van die CityMed-daghospitaal wat in Mei verlede jaar in die parkeerterrein van ʼn winkelsentrum doodgeskiet is.

Dié verdagte is die sewende persoon wat teregstaan weens die moord op Siemens. Hy is gister tussen 19:00 en 20:00 by sy huis in Fase 2 in hegtenis geneem.

Kol. Thandi Mbambo, woordvoerder van die polisie, sê ʼn lasbrief vir dié verdagte se inhegtenisneming in verband met die moord op Siemens is verlede jaar uitgereik. Daar is ook lasbriewe vir hom uitgereik in verband met ʼn dubbele moord in Februarie 2017 in Fase 2 naby Unity en nóg ʼn dubbele moord in Maart 2017 in Fase 2 naby Caleb Motshabi.

Boonop is hierdie verdagte ook in 2015 verhoor in verband met ʼn saak van poging tot moord, maar hy het nie vir sy vonnisverrigtinge in Oktober 2015 opgedaag nie. Daar is toe óók ʼn lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik.

“Vier van sy vermeende slagoffers het aan skietwonde gesterf, terwyl ʼn vyfde slagoffer oorleef het. Twee van die verdagte se medebeskuldigdes in albei dubbelmoordsake is Vrydag in hegtenis geneem. Die vierde verdagte vir dié sake is steeds op vrye voet,” sê Mbambo.

Die man se naam sal eers bekendgemaak kan word nadat hy vandag verskyn het.

Intussen sou Karabo Tau, ʼn voormalige advokaat van Bloemfontein, en Sizwe Mpati wat ook teregstaan weens die moord op Siemens vandag om borgtog aansoek gedoen het.

Die drie ander beskuldigdes in die saak, konst. Molebatsi John Mogoera (40), konst. Kagisho Ishmael Chabane (39) en Kibi Stanley Bakili (36), het gister in die hof verskyn. Hul saak is tot 25 Januarie uitgestel wanneer hul borgtogaansoek, wat reeds in November 2018 begin het, voortgesit sal word.

Die ander beskuldigde, Xolisile Mbebeto (39), het skuld erken vir sy aandeel in die moord op Siemens en hy is op 9 November gevonnis. Hy dien tans sy vonnis van effektief 22 jaar tronkstraf uit.

Dit het tydens Mbebeto se verhoor aan die lig gekom dat hy vier dae voor die moord op Siemens met Bakili (36) vergader het waartydens ʼn ooreenkoms aangegaan is vir die moord. Bakili het glo onderneem om Mbebeto R200 000 vir die moord te betaal.

Op die dag van die moord is Mbebeto en nog ʼn medebeskuldigde na die Prellerplein-winkelsentrum waar die medebeskuldigde Siemens glo uit sy motor geruk het voordat Mbebeto hom doodgeskiet het.

Hulle het hierna in ʼn wit Polo van die toneel gevlug voordat hulle Bakili ontmoet het. Bakili het vir hulle die sleutel van ʼn hotelkamer gegee waarna hulle niks weer van hom gehoor het of hul geld ontvang het nie.

Bakili het tydens vorige verskynings aan die hof gesê hy het ʼn ontmoeting met Siemens gehad kort voor die moord en hulle het ook op dié dag teksboodskappe vir mekaar gestuur. Bakili was ʼn sakevennoot van Siemens.

Tau en Mpati word by die moord betrek nadat die vuurwapen wat gebruik is om die moord uit te voer in hul besit gevind is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Santjie ·

Seker maar die oudste rde in die geskiedenis…. gierigheid?

Alida ·

Hoekom vat dit so baie mense om 1 man dood te skiet? Net een kan die sneller trek.

Maggies ·

Hoe vreemd dat daar polisielede betrokke is. Hulle is veronderstel om ons te beskerm. Laat my wonder… presies hoé beskermd ons is. Boonop alles ook ‘n voormalige advokaat.
Maggies dié wêreld se mense het siek geword.

Tanya Kruger ·

Dit is glad nie snaaks nie Maggies, ons bly in Suid-Afrika.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.