‘Reeksmisdadiger’ vas vir moord, verkragting

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Vermeende reeksmisdadiger, wat na bewering eers ʼn man vermoor en toe sy liggaam aan die brand gesteek het, voordat hy na bewering ʼn vrou ontvoer en verkrag het, is ná ʼn intensiewe soektog deur die polisie vasgetrek.

Kol. Sabata Mokgwabone, woordvoerder van die polisie, het gesê die 38-jarige man is Saterdag op ʼn kleinhoewe tussen Leeudoringstad en Orkney in Noordwes in hegtenis geneem.

Volgens Mokgwabone het die verdagte na bewering Vrydag ʼn man in Ysterspruit, naby Orkney, met ʼn knopkierie aangerand, voordat hy sy keel af gesny het. Hy het daarna glo die liggaam met ʼn matras bedek en dit aan die brand gesteek.

Kort daarna het die verdagte glo ʼn vrou in die gebied oorval, ontvoer en verkrag. Die vrou is later tydens die polisie se soektog in ʼn stoorkamer op ʼn plaas naby Vierfontein gevind, waar sy aan ʼn trekker vasgemaak is. Polisiebeamptes van Noordwes en die Vrystaat het gehelp om na die verdagte te soek en hy is Saterdagmiddag vasgetrek.

“Die verdagte het glo ook ʼn paar dae vantevore van sy meisie se familielede in Kanana aangerand en na verwagting sal aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer teen hom aanhangig gemaak word. In die stadium staan hy tereg op aanklagte van moord, ontvoering en twee aanklagte van verkragting,” het Mokgwabone gesê.

Die man sal Maandag in die Orkney-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.