Reeksmoordenaar vir gru-moorde gevonnis

Argieffoto

ʼn Reeksmoordenaar wat sewe mense vermoor en toe die liggame in vlak grafte begrawe of verbrand het, is in die Vrystaatse hooggeregshof swaar gevonnis.

Lentsha Johannes Molefe (34), ʼn burger van Lesotho, is Vrydag sewe lewenslange vonnisse opgelê vir die gru-moorde wat hy tussen 2008 en 2015 gepleeg het. Hy het die meeste van sy slagoffers verwurg.

Volgens die bewyse wat aan die hof voorgelê is, het Molefe sy eerste slagoffer, Ntswaki Lefatsa, in Januarie 2008 op die plaas Geduld buite Kestell vermoor en haar liggaam daar begrawe. Die tweede moord was in Junie 2010 toe Molefe ook vir Mantswaki Lefatsa, Ntswaki se ma, op die plaas vermoor het.

In Junie 2014 het Molefe sy moordtog voortgesit toe hy Makamohelo Molefe vermoor het. ʼn Paar maande later, in September, het hy vir Matukiso Lefatsa vermoor en net twee maande later het hy Matukiso se 3-jarige seun, Tukiso, ook doodgemaak.

In Augustus 2015 het hy Daisy Mokhonoanaze, ʼn inwoner van Reitz, vermoor en in September 2015 het Molefe vir Lieketso Lefatsa vermoor.

Molefe se moordtog het uiteindelik tot ʼn einde gekom nadat ʼn lid van die gemeenskap op twee vlak grafte op die plaas afgekom het. Die persoon was op soek na skrootmetaal in ʼn beboste gebied op die plaas en het ʼn slegte reuk opgemerk. Nadat hy en nog inwoners van die gebied begin het om een van die grafte oop te grawe, het hulle besef dit is ʼn mens se liggaam wat in ʼn kombers toegedraai is.

Die polisie is ontbied en die liggame is later uitgeken as dié van Daisy Mokhonoanaze (26) en Ntswaki Lefatsa (17). Nog vier liggame is later in vlak grafte op die plaas gevind. Molefe het een van sy slagoffers se liggaam verbrand.

Hy is in Oktober 2015 in Carletonville in hegtenis geneem.

Regter Joseph Mhlambi het tydens sy uitspraak gesê Molefe kon nie in die hof dwingende omstandighede bewys waarom daar van die minimum voorgeskrewe vonnis afgewyk moet word nie en hy is ʼn lewenslange vonnis vir elk van die moorde opgelê. Die hof het hom ook onbevoeg verklaar om ʼn vuurwapen te besit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Erick ·

Verskriklik! As dit ‘n witman was het almal galgebraak oor die euwel van wit Afrikaner mans en dat ons alles verdien wat met ons gebeur ens. Dankbaar die moordenaar is gevang

willie ·

nou moet my belastinggeld hom huisves?gee hom sy eie medisyne!

Vranet ·

Net n paar vrae wat nie vi my sin maak nie……hoe kan die hof hom onbevoeg verklaar om n vuurwapen te besit????? Hy gaan dan tronk toe, wat wil hy met een maak daar???? Ek dink hy gaan in elk geval die res van sy lewe agter traliesspandeer en hy het nie een nodig nie, hy wurg sy slagoffers. Verskoning vir n mens. Meer soos een van die 10 plae: pes onder die mens en dier!!!!!!

Luister ·

Ongelukkig is lewenslank nie regtig lewenslank in S.A. nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.