Reeksverkragter (27) beken skuld op 17 aanklagte

Argieffoto

ʼn 27-jarige man van Port Elizabeth in die Oos-Kaap het Maandag in dié dorp se landdroshof skuldig gepleit op 17 aanklagte van verkragting.

Die hof moes hoor dat Mzikayise Mkavu tussen Julie 2008 en Januarie 2016 ʼn reeks misdade gepleeg het wat onder meer insluit verkragting, aanranding met die doel om ernstig te beseer, poging tot moord en roof met verswarende omstandighede.

In een van die voorvalle het Mkavu ʼn vrou langs die pad vasgekeer en aangedring daarop dat sy vir hom R1 gee. Hy het ʼn stukkende glasbottel in sy hand gehad en gedreig om haar te steek as sy nie hardloop nie. Toe sy in die rigting van ʼn nabye skool hardloop, het hy haar daar verkrag.

Mkavu het ʼn vrou ook in 2010 verkrag enkele oomblikke nadat sy deur twee ander mans verkrag is. Die twee mans het die vrou glo van geld beroof en haar toe verkrag. Mkavu, wat die vrou langs die pad raakgeloop het, het gemaak asof hy saam met haar huis toe wou stap voordat hy haar ook verkrag het.

Hy het ʼn ander vrou, wat glo buite haar kêrel se huis vir hom gewag het om terug te keer, met ʼn glasbottel in die oë gesteek voordat hy haar verkrag het.

Vyf soortgelyke sake is in 2012 teen hom aanhangig gemaak met talle ander aanklagte wat tussen 2013 en 2016 gevolg het.

Mkavu se modus operandi was elke keer om die vroue met ʼn skerp voorwerp soos ʼn stukkende glasbottel te steek voordat hy hulle sou beroof en verkrag.

Mkavu sal binnekort gevonnis word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

BoerBok ·

Wonder of hy ook in die modder gesleep gaan word soos die doodskis manne? Of dalk net getik word oor die hande en los gelaat word…Snaaks hoe party mense in die land van melk in heuning weg kom met letterlik moord en doodslag maar die res moet maar boet vir elke skewe tree.

Theresa ·

Vreessaaier en vreugde steler. Hoop sy vonnis is bitter lank.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.