Reeksverkragter in hof ná hy glo 62 minderjariges verkrag

Argieffoto.

Argieffoto.

ʼn Vermeende reeksverkragter het Donderdag in die Protea-landdroshof in Soweto, Johannesburg, verskyn op verskeie aanklagte wat verband hou met die verkragting van minderjariges oor ʼn lang tydperk.

Die verdagte, wie se naam nie bekend gemaak mag word voordat hy gepleit het nie, staan tereg op 153 aanklagte van verkragting, aanranding, ontvoering en poging tot moord. Altesaam 62 slagoffers is deel van die saak, en al die slagoffers is minderjarig.

“Die verdagte is in Julie 2013 in Tembisa, Johannesburg, in hegtenis geneem nadat hy glo twee meisies, onderskeidelik 10 en 11 jaar oud, ná skool by ʼn vullishoop in Eldoradopark verkrag het,” het lt.kol. Katlego Mogale, ʼn polisiewoordvoerder, gesê. Hy het die skoolmeisies ook aangerand en hulle het beserings opgedoen. “Die verdagte is daarna deur DNS-toetse positief verbind aan talle ander verkragtingsake.”

Die polisie het tussen Augustus 2013 tot Januarie vanjaar verskeie uitkenningsparades gehou omdat so baie slagoffers by die saak betrokke is. “By al die voorvalle is die modus operandi dieselfde en al die slagoffers is tussen ses en 12 jaar oud,” het Mogale bygevoeg.

Die saak is uitgestel tot 6 Junie vir verdere ondersoek. Die man bly in aanhouding tot dan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.