Reeksverkragter na dekade vasgetrek

(Argieffoto: Kent Williamson)

ʼn Vermeende reeksverkragter is Dinsdag in die Vrystaat vasgetrek nadat hy vir langer as ʼn dekade op vrye voet was.

Die 47-jarige verdagte is jare lank deur die polisie gesoek in verband met sewe verkragtingsake wat glo tussen 2008 en 2017 in die Vrystaat en Noordwes plaasgevind het.

Volgens brig. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder, het die verkragtings in Thaba Nchu, Marquard en Itsoseng plaasgevind.

Die verdagte is deur die Selosesha-reaksiespan, provinsiale misdaadintelligensie-eenheid en kubermisdaad-eenheid vasgetrek nadat hy deur lede van die publiek geïdentifiseer is en later in die straat naby sy huis opgemerk is. Die verdagte het te voet gevlug en is deur die polisie agternagesit. Hy is in Selosesha in Thaba Nchu in hegtenis geneem.

Die polisie het ook beslag gelê op twee televisies, twee klankversterkers, ʼn uniform van die nasionale weermag, 40 selfone, ʼn geisertenk, skootrekenaar, waaier, mikrogolfoond en ʼn handsak vol juwele in die verdagte se huis. Die goedere is vermoedelik gesteel.

Die verdagte sal vandag in die Thaba Nchu-landdroshof verskyn op sewe aanklagtes van verkragting en die besit van vermoedelik gesteelde goedere. Nog klagtes sal moontlik bygevoeg word sodra ondersoeke oor die verdagte se onwettige aktiwiteite buite die Vrystaatse provinsie afgehandel is.

“Deur hierdie gesamentlike poging sal ʼn misdadiger wat verantwoordelik is vir baie hartseer en pyn van ons strate verwyder word,” het lt.genl. Baile Motswenyane, provinsiale kommissaris, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Pieter ·

Na n dekade die SAP en die ANC regering is om van op te gooi. En ons aan die slaap belasting betalers betaal hulle selarisse.

gpsa ·

Hoekom aan die slaap belasting betalers? Mens het nie keuse om belasting te betaal nie, dit word net gevat.

Genis ·

Dir was weereens die gemeenskap en nie speurwerk deur die polisie nie…

johanf ·

In Amerika sou hy LEWENSLANK gekry het, sonder enige parool, wonder wat sy vonnis hier gaan wees, seker 17+ vonnisse, almal samelopend…….

E ·

Ja seker so 2 jaar. Die regstelsel stink. Dis hoekom polisie ook nie moeite doen nie, hulle sien die ligte strawwe en wonder dan : Hoekom bother?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.