Reeksverkragter pleit skuldig in hof

Argieffoto

Argieffoto

ʼn 38-jarige reeksverkragter het Maandag in Johannesburg skuldig gepleit op 76 aanklagte van verkragting, aanranding en roof.

Sija Mabitsela, een van die twee sogenaamde Alexandra-klapmusverkragters, het in die Suid-Gautengse hooggeregshof skuldig gepleit op al die aanklagte teen hom.

Mabitsela se slagoffers was tussen 13 en 38 jaar oud ten tyde van die verkragtings wat vanaf 2007 strek.

Mabitsela en sy medebeskuldigde, ʼn 48-jarige man wie se naam nie genoem mag word voordat hy gepleit het nie, het gewoonlik op paartjies toegeslaan.

Mabitsela was glo ʼn plaaslike sangoma en het alleen die gemeenskap geteister totdat sy medebeskuldigde, wat toe uit op parool was, in 2014 by hom aangesluit het.

Die meeste van die aanvalle het in begraafplase en by ʼn vulstasie in Tsutsumani in Alexandra in Johannesburg plaasgevind. Die twee sou glo paartjies aanval en hulle dwing om gemeenskap te hê terwyl hulle toekyk. Hulle sou dan na bewering beurte maak om die vrou te verkrag, voordat hulle albei slagoffers beroof het.

Die twee is uiteindelik in 2015 in hegtenis geneem.

Mabitsela se saak is tot 15 Maart uitgestel vir sy vonnisooreenkoms. Sy medebeskuldigde sal na verwagting Dinsdag in dieselfde hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.