Reeksverkragter sal lank sit

(Argieffoto: Hans Braxmeier/pixabay)

ʼn 34-jarige man is in die Taung-streekhof in Noordwes vier lewenslange vonnisse opgelê op aanklag van verkragting, huisbraak, aanranding met die doel om ernstig te beseer, en diefstal. Hy is ʼn verdere vyf jaar opgelê vir aanranding met die doel om ernstig te beseer en drie jaar vir diefstal. Die hof het hom ook onbevoeg verklaar om ʼn vuurwapen te beskik.

Henry Mamothame, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê Lebogang Nyoka het op 15 September 2014 by ʼn huis van ʼn 40-jarige vrou ingebreek waar sy lê en slaap het. “Hy het haar met ʼn knopkierie aangerand en haar verkrag. Hy het daarna haar televisie gesteel en van die toneel gevlug.”

In ʼn afsonderlike voorval het Nyoka op 24 September 2014 by ʼn huis in Pampierstad in die Noord-Kaap ingebreek. ʼn 64-jarige vrou en haar negejarige kleindogter het in die huis gelê en slaap. “Hy het hulle met ʼn mes gedreig voor hy hulle albei verkrag het. Hy het ʼn skootrekenaar gesteel en van die toneel gevlug.” Die 64-jarige vrou het intussen gesterf sedert die saak in die hof voorgekom het.

Nyoka is later tydens ʼn onverwante voorval van huisbraak in hegtenis geneem. “Die polisie kon deur middel van DNS-toetse hom verbind met die twee sake van verkragting. Hy het skuld ontken op alle aanklagte.”

Nyoka se aansoek om borgtog is afgekeur en hy het deurgaans in aanhouding gebly.

“[Die staatsaanklaer] Sandile Mbokazi het ter verswaring van die vonnisoplegging die hof gemaan om nie van die minimum voorgeskrewe vonnis af te wyk nie. Hy het gesê Nyoka is ʼn individu sonder enige berou en het geen agting vir vroue of kinders nie.”

Landdros Thataetsile Matolong het hiermee saamgestem en verwys na die hof se verantwoordelikheid wanneer dit kom by geslagsgebaseerde misdade.

Dr Rachel Makhari-Sekhaolelo, direkteur van openbare vervolging in Noordwes, het die staatsaanklaer en ondersoekbeampte geloof vir ʼn suksesvolle vervolging.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Watsenaam ·

Bring terug die doodstraf. Nou moet die belasting betalers hom vir die res van sy misrabele lewe versorg. Basta!

Nico ·

Vier lewenslange vonnise is ‘n klug, na ‘n paar jaar word hy vry gelaat want die tronke is te vol, dan doen hy dit net weer. Die lewe in die tronke is mos gerieflik.

Nierkie ·

Lewenslank is lewenslank mense. 100 x lewenslank plus 30 jaar en 6 maande is nogsteeds lewenslank – dus 25 jaar. Na 25 jaar kan jy uit wees parool. Maar as jy selfs net 20 jaar per geval kry verander dit dinge bietjie – dan moet jy 40 jaar sit voor parool oorweg word. Regters hou van lewenslank gee maar dis eintlik nie die regte straf vir ons parool stelsel nie.

Swerwer ·

Walglik. Sterkte vir die wat saam met die wese ‘n sel moet deel. Hul gaan beslis nie ‘n ook kan toemaak nie, sal mekaar moet oppas teen hierdie…………………

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.