Reeksverkragter sit lank

(Argieffoto)

Anele Headman Gqorholo (37) is Woensdag in die Sasolburg-hooggeregshof in die Vrystaat gevonnis ná hy die gemeenskap van Zamdela tussen 2015 en 2019 geteister het.

Brig. Motantsi Makhele, woordvoerder van die polisie, het gesê Gqorholo is soos volg gevonnis: 80 jaar op agt aanklagte van verkragting, 75 jaar vir roof met verswarende omstandighede, vyf jaar vir gedwonge seksuele aanranding, twee jaar vir diefstal, ses jaar vir seksuele aanranding en drie jaar vir huisbraak en diefstal.

“Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word en hy sal 80 jaar tronkstraf uitdien.”

Anele was ʼn veiligheidswag en ʼn pa van drie (twee seuns en ʼn dogter). “Sy slagoffers was vroue tussen 18 en 31 jaar oud. Hy het hulle aangeval toe hulle vroegoggend huis toe geloop het. Sy gesig was altyd bedek, maar hy het sy slagoffers gegryp, hulle met ʼn mes gedreig, hulle verkrag en hulle eiendom gesteel. In ander voorvalle het hy by vroue se huise ingebreek terwyl hulle geslaap het en hulle in die teenwoordigheid van familielede en hul kinders verkrag.”

ʼn Deeglike ondersoek deur speurdersersant Kgayane het Anele deur DNS-toetse verbind met die onderskeie sake. “Hy is op 8 Augustus 2019 in hegtenis geneem en was sedertdien in aanhouding.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pieter ·

Dankie vir goeie speurdiens. Ek haal my hoed af vir speurdersersant Kgayane!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.